Baaise fisio se moordenaar gevonnis

Marolien Schmidt. (Foto: Facebook)

Die moordenaar van die Baaise fisioterapeut Marolien Schmidt (40), is Woensdag in die hooggeregshof in Gqeberha tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Simxolele Zitshu (31) het skuld beken op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en huisbraak.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is Zitshu tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die aanklag van moord, 20 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en agt jaar op die aanklag van huisbraak.

Schmidt is op Vrouedag in haar huis in Richmond Hill beroof en vermoor. Zitshu is die volgende dag in hegtenis geneem. Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Zitshu jare gelede op parool vrygelaat is nadat hy op aanklag van moord en roof skuldig bevind is. Hy was glo die afgelope ruk soek nadat hy nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie.

Schmidt is deur haar bure in haar huis aangetref nadat Zitshu haar verskeie kere met ʼn mes gesteek het. Sy is na ʼn hospitaal geneem, maar het daar aan haar beserings beswyk.

Genl.maj. Zithulele Dladla, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die vinnige ondersoek en vonnisoplegging van Zitshu verwelkom. Dladla het die ondersoekbeampte, speurkonst. Ridwaan Baatjies, geloof vir die noukeurige ondersoek en spoedige afhandeling van die saak.

“Die SAPD verwelkom die skuldigbevinding en vonnisoplegging en loof die toegewyde werk wat deur die ondersoekbeampte gedoen is om lewenslange tronkstraf vir die moordbeskuldigde te verseker. Sy meedoënlose poging en toewyding tot geregtigheid is prysenswaardig, en dit dien as ’n bewys van die onwrikbare toewyding deur ons lede om te verseker dat die wiele van geregtigheid aanhou draai vir misdadigers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Delia ·

Goeie werk. Hy moes egter nooit vrygelaat wees na n vorige moord. Lees die berig in die engelse koerant. Klink of hy Marolien blameer vir wat gebeur het.
Sterkte aan haar mamma wat sonder haar geliefde dogter moet voortleef

TheSnake ·

Is ons regsstelsel nie darem ‘n grap nie? Almal loof die polisie maar die vrou se lewe is geneem vir ewig omdat ‘n moordenaar op parool vry gelaat is. Hoe op dees aarde word iemand wat skuldig bevind is vir moord, op parool los gelaat???!!!!!

Sê maar net ·

Right. Moord. Parool. Toe weer moord…..

As hy nou weér parool kry, wys dit die hele regstelsel is in sy peetjie in….
Asseblief, laat hy nou sit!!!

CHRISTINE ·

in so geval waar die krimineel duidelik nie rehabiliteer nie, dink ek die doodstraf is welkom.

Mnr De Beer ·

Gooi sleutels weg van moordenaars wat in die tronke op eindig. Ons het klaar n goeie voorbeeld van n paralimpiese naelloper wat miskien mag vroeer uitkom. Skiet n onskuldige mens deur badkamer deur, sit in die tronk en kom na n paar jaar weer uit. Twak man. Mense raak moeg vir die hoe moordsyfers in die land.

James ·

Goei werk Speurkonst. Ridwaan Baatjies. Dankie dat daar nog sulke Polisie manne soos jy is.

Ansie ·

Sulke moordenaars moet lewenslank sonder die moontlikheid van parool toegesluit word. Hy was op parool vir roof en moord en het gesien hy word weer vrygelaat, so hoekom nie weer nie? Teen die tyd wat daar opgetree was nadat hy nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie, was dit reeds te laat vir me. Schmidt.

Amelia ·

moes in die eerste plek nie op parool wees nie n moordenaar bly n moordenaar

007 ·

Weereens kan dit voor die departement gelê word. Parool is mos soos so maklik soos om lekkergoed van ‘n kind te vat.

Hennie ·

Hy moet dood! Dis so ironies! Om soos ‘n eregas in ‘n hotel behandel te word, pleeg net ‘n sinnelose dood!

Koen ·

Praat jy nou van oscar? almal pleit mos vir die moordenaars se vrylating.

Bolandse Nooi ·

Ek is baie bly dat die dame se moordenaar gevind, aangekla en gevonnis is. Mag ek egter vra: hoe dit moontlik is dat háár moordenaar binne 2 maande gevind, aangekla, gevonnis is (al is dit op skulderkenning) en daar is hoeveel ander plaasmoord-slagoffers wie se moordenaars NOOIT opgespoor, aangekla of gevonnis word nie? Is dit ‘n kwessie van ‘n toegewyde speurder wat sy of haar werk doen of is dit ‘n kwessie van “all animals are equal, some animals are just more equal than others”?

Andre ·

… die arme Kommissaris; al wat hy het ,is ‘n enkele speurder wat sy werk doen,tussen honderde kollegas wat kyk hoe vinnig hulle ‘n dossier kan laat afsluit as onopgespoor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.