Baba Marné: Lig in tonnel ná 223 dae in waakeenheid

Niké en Marco Muller saam met hulle babadogtertjie, Marné. Sy het onlangs sewe maande oud geword. (Foto: Verskaf)

Dit lyk of die ouers van baba Marné, wat 223 dae gelede in die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria gebore is en sedertdien daar behandel word, uiteindelik een van die dae hul dogtertjie sal kan huis toe neem.

Marco (27) en Niké (25) Muller, van Springs aan die Oos-Rand, moes onlangs die moeilike besluit neem om chirurgies vir Marné ʼn voedingsbuis in haar maag te laat sit.

Die besluit is geneem nadat Marné ʼn teensinnigheid vir melk en kos begin toon het en gesukkel het om voldoende voeding in te neem. Dit sou weer tot gevolg hê dat sy nóg langer in die hospitaal moes bly.

“Die dokters het gesê ons sou teen Kersfees nog hier wees as ons nie vir Marné die buis insit nie,” vertel Marco aan Maroela Media.

“Ons is so dankbaar vir die 223 dae wat Marné se lewe gespaar is en dat sy groei en ontwikkel, maar die emosionele las van die situasie raak nou swaar,” erken hy.

Die Mullers lê die afgelope sewe maande elke dag sowat 150 km tussen Springs en Pretoria af om by Marné te wees.

Sy moes eers op 22 Mei vanjaar haar opwagting gemaak het, maar die egpaar se ginekoloog het hulle in Februarie meegedeel dat klein Marné se lewe in gevaar is.

Niké is vir ʼn paar weke op bedrus geplaas, waarna Marné uiteindelik op 28 weke deur ʼn keisersnee gebore is. Sy het maar 630 g geweeg.

Marné Muller het 630g geweeg by geboorte. (Foto: Verskaf)

“Sy is nou al langer in die waakeenheid van die hospitaal as wat sy in my maag was. Dit voel onwerklik,” sê Niké.

Die ouerpaar vertel egter trots dat Marné nou 3,4 kg weeg en dat sy glimlag, geluide maak en met haar mamma en pappa “gesels”.

“Die dokters is nie meer bekommerd oor haar gewig nie – sy kry 90 ml melk elke drie ure. Ons gee vir haar melk in ʼn bottel tot sy nie meer wil drink nie, dan gee ons die res deur die voedingsbuis in haar maag. Die buis in haar neus is nou verwyder.

“Verder is hulle gelukkig. Die bloedtoetse wat in die VSA gedoen moes word om te bepaal of Marné aan ʼn ernstige glukose-siekte ly, het skoon teruggekom en haar suikervlakke het vanself gestabiliseer soos wat haar lewer sterker geword het,” verduidelik die egpaar.

Daarom is hulle vol vertroue dat dit die regte besluit was om die voedingspyp te laat insit. Dié pyp sal oor ʼn paar weke met ʼn kleppie vervang word wat makliker hanteerbaar is.

Marné sal dan uiteindelik uit die hospitaal ontslaan kan word en in haar eie bedjie in die babakamer in haar ouerhuis, wat al sowat sewe maande vir haar wag, kan slaap.

“Ons gaan elke dag op ons knieë om vir die Here dankie te sê vir die krag wat hy vir ons gee om hierdeur te kom. Om vir 223 dae op en af te ry en tussenin bekommerd te wees oor geldsake en wanneer sy sal kan huis toe kom, is baie moeilik, maar ons bly ons sterk in ons geloof.”

Klein Marné op Lentedag. (Foto: Verskaf)

Hulle is ook vol lof en dankbaarheid vir die personeel van die hospitaal wat sedert Marné se geboorte na haar omsien. “Hulle doen regtig ʼn wonderlike werk.”

Hoewel die egpaar dankbaar is dat Marné een van die dae kan huis toe gaan, is hulle benoud oor die geldelike druk wat hulle gaan ervaar wanneer Niké met kraamverlof gaan.

As onderwyseres aan ‘n laerskool in Springs het sy aangehou werk terwyl Marné in die hospitaal was en sal sy haar kraamverlof neem wanneer Marné tuis is. Dié vier maande van kraamverlof is onbetaald.

Die mediese rekeninge vir Marné se opname en behandeling in die hospitaal hoop ook op.

Om die Mullers geldelik by te staan, kontak Maroela Media by [email protected], wat kontak met die familie sal maak vir ʼn bankrekeningnommer. Die BackaBuddy-skakel kan ook gevolg word om ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

… miskien nou bietjie hulp bekom van iemand bekwaam en betroubaar om so nou en dan te kan uitkom en ontspan… Dit was ‘n erge stresvolle tyd; selfs slaap is rusteloos. Kry raad oor hoe.

Nettie ·

Sy is te dierbaar vir woorde! Pragtig. Met sulke wonderlike ouers gaan sy net van krag tot krag gaan. Ons dank ons Vader saam met julle dat sy so mooi aansterk en Hy Sy Hand oor jul al 3 hou. Mag sy ‘n wonderlike Kersfees saam met AL haar familie tuis he!

Kiewiet ·

Kyk net die popgesiggie..jy is te pragtig ..Prys die Here dat sy kan huistoe gaan…Julle moet haar geniet baie sterkte en genade oor julle gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.