Baba ná 71 dae uit hospitaal

Demi-Lee Putter is ná 71 dae uit die hospitaal ontslaan. (Foto: Verskaf)

Die agt maande oue Demi-Lee Putter kan ná 71 dae in die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg eindelik in haar eie bababedjie in haar ouerhuis aan die Oos-Rand slaap.

Hoewel dit tans beter met haar gesondheid gaan, lê daar egter nog ʼn lang, onbekende herstelpad vir dié dogtertjie voor.

Demi-Lee het die afgelope paar maande ʼn opdraande stryd gevoer nadat sy ’n hartaanval gehad het kort voor sy ’n operasie sou ondergaan om ’n skedeldefek te herstel.

Haar toestand het ná afloop hiervan geweldig versleg en sy moes menigmaal teen verskeie siektetoestande asook bloedklonte baklei. Een daarvan het ernstige skade aan een haar long aangerig.

Demi-Lee het ook ʼn tweede hartaanval, wat die suurstof na haar brein afgesny het, oorleef.

Die agt maande oue Demi-Lee Putter voor sy siek geword het. (Foto: Verskaf)

Volgens haar ouma, Petro Putter, is dit nog onduidelik of Demi-Lee langtermynbreinskade hiervan opgedoen het. Haar brein het egter so gekrimp dat die operasie om haar skedeldefek te herstel, glo nie meer nodig is nie.

“Sy moet oor ses maande weer vir skanderings en toetse gaan om die omvang van die skade te bepaal.”

Die gesin is egter verheug om hul blou oog- dogtertjie tuis in Spring te hê.

“Ons is baie dankbaar dat sy tuis is. Ons is terselfdertyd bang dat ons onbewustelik iets doen wat haar kan benadeel.

“Sy sukkel nog baie met haar asemhaling en dokters reken dat sy minstens nog ʼn jaar lank suurstof sal moet ontvang.”

Putter sê dokters het egter besluit om nie ʼn gedeelte van haar beskadigde regterlong te verwyder nie, aangesien dié gedeelte mettertyd sal wegkrimp. Minstens 40% van dié long is weens ʼn bloedklont onherstelbaar beskadig.

Demi-Lee het ook ʼn tweede hartaanval, wat die suurstof na haar brein afgesny het, oorleef. (Foto: Verskaf)

Demi-Lee moet intussen ʼn magdom medikasie gebruik en twee keer per dag fisioterapie ontvang.

“Sy het ook verskriklik maer geword en moet spesiale voeding kry sodat sy weer gewig kan aansit.”

Desondanks, sê Putter, gaan dit goed met Demi-Lee se gemoed.

“Sy is gelukkig en tevrede. Ons eerste prioriteit is om haar weer 100% gesond te kry.”

Geliefdes het onlangs ʼn Back-a-Buddy-fonds vir die gesin gestig om hulle met die talle uitgawes wat nie deur hul mediese fonds gedek word nie, by te staan.

Daar word ook op 4 November ’n gholfdag vir Demi-Lee gehou om geld in te samel. Om meer inligting hieroor te bekom, kan die organiseerders by 076 035 8670 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Sterkte aan die familie en kleine lyflie ,Demi-Lee. Wonderwerke gebeur nog, net aanhou glo en bid, al is dit nie altyd maklik nie.

Prontuit ·

wat ‘n klein Joan of Arc! stertke kliending jy is al deur soveel, ons vertrou jy gaan ten volle herstel

Chanel ·

Word gou gesond. Jy is n pragtige babatjie. Sterkte aan die ouers. Ek glo God sal haar ten volle genees. ❤

Skappie ·

So bly vir mamma en pappa dat Demi-Lee nou by die huis is. Sterkte vir julle as ouers, en mag Onse Liewe Jesus saam met julle te pad stap sodat sy mooi sal herstel, en geen skade verder sal oorkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.