Baba se liggaam in KZN-rivier aangetref

Die baba se liggaam is Saterdagoggend in die rivier aangetref. (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

Die lewelose liggaam van ʼn baba is Saterdagoggend in ʼn rivier in die Isithebe-omgewing in KwaZulu-Natal aangetref.

Die vier maande oue baba was glo sedert die vorige aand skoonveld.

Die nooddiens IPSS Medical Rescue sê sy paramedici, tesame met die polisie, is vanoggend (Saterdag) na die betrokke rivier ontbied ná bewerings dat daar ʼn liggaam in die rivier dryf.

Lede van die gemeenskap het glo op die liggaampie afgekom toe hulle langs die rivier geloop het.

“By die paramedici se aankoms het hulle bevestig dat die liggaam is dié van ʼn baba,” sê ʼn woordvoerder van die nooddiens.

Volgens lede van die gemeenskap op die toneel het die kind al die vorige aand tydens beurtkrag vermis geraak. Hulle voer aan dat ten spyte van uitgebreide soektogte wat deur die nag geduur het, hulle die baba nie kon opspoor nie.

Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die baba se dood is nie, maar die polisie is op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.