Baie van ontsnapte krokodille van kant gemaak

Verskeie van die krokodille is steeds soek. (Foto: CapeNature/Facebook)

Altesaam 82 van die jong krokodille wat Maartmaand uit ʼn krokodilplaas naby Bonnievale in die Boland ontsnap het, is tot op datum opgespoor. ʼn Ondersoek is intussen ook gelas of wetlike vereistes op dié plaas nagekom is.

Die krokodille het op 3 Maart uit die plaas ontsnap en in die Breërivier ingevaar. Daar word sedertdien na hulle gesoek. Die krokodille is elk tussen 1,2 m en 1,5 m lank.

Van die 82 krokodille wat opgespoor is, moes 50 van kant gemaak word en 32 is lewend gevang. Die krokodille is in ʼn 1 km-radius van die plaas in die rivier opgespoor.

Volgens James-Brent Styan, woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, is dit nog onbekend presies hoeveel krokodille nog in die rivier kan wees. Dit is ook nog nie bekend wanneer die soektog gestaak gaan word nie.

Hy sê van die krokodille moes van kant gemaak word omdat die toestande dit uiters moeilik en moontlik gevaarlik maak om hulle te vang.

“Die diere ignoreer vanghokke omdat daar baie kos in die rivier is. Dit spyt ons om hulle van kant te maak, maar dit was ons laaste uitweg. Ons het dit gedoen in die belang van die publiek se veiligheid,” het Styan aan Maroela Media gesê.

“Alhoewel hulle nog klein is, is hulle wilde diere met natuurlike instinkte en kan hulle ʼn gevaar vir die publiek inhou.”

CapeNature, die openbare bewaringsentiteit wat die krokodiljag lei, het intussen ʼn ondersoek van stapel gestuur om uit te vind of die plaas aan al die wetlike vereistes voldoen, nadat die krokodille ontsnap het.

Dié ondersoek is intussen afgehandel, maar daar is nog nie finaal besluit of stappe wel teen die eienaar van die plaas gedoen sal word nie. Die krokodilplaas huisves sowat 5 000 krokodille.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Caroline ·

Typically South Africa just kill everything the poor crocodiles instead of saving them

Danie ·

Mooi man.
Nou is die enigste rivier in die omgewing waarin geswem kan word en vir watersport gebruik kan word ook daarmee heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.