Barberton brand weens swak dienslewering

Inwoners van Barberton se lewens word deur die betogings bedreig (Foto: Verskaf)

Woedende inwoners van Barberton in Mpumalanga betoog al vanaf die begin van die maand oor swak dienslewering. Inwoners kla dat hulle gebuk gaan onder swak dienslewering sedert die Mbombela- plaaslike munisipaliteit en Umjindi-munisipaliteit in Barberton in Mpumalanga vier jaar gelede saamgesmelt het. Talle paaie in en rondom Barberton word die afgelope week deur betogers versper, ondernemings is gesluit en skole word geteister deur woedende betogers.

Philip Minnaar, ’n DA-raadslid in Barberton, sê die twee munisipaliteite moes saamsmelt omdat die Mbombela- plaaslike munisipaliteit bankrot was en nie meer geld gehad het om diensverskaffers te betaal nie. “Mbombela het Umjindi benodig om metro-status te kon kry. Umjindi was voorheen ’n selfstandige munisipaliteit,” sê Minnaar.

Inwoners sê weens die samesmelting moes hulle waterkrisisse, gereelde kragonderbrekings en verlies aan werksgeleenthede verduur. Munisipale amptenare moet ook regkom sonder basiese toerusting, materiaal en voertuie.

Nou kla inwoners oor die betogings wat hul lewe ontwrig en selfs in gevaar stel. Plaaslike skole moes noodgedwonge vandeesweek hul deure sluit nadat betogers die Hoërskool Barberton Woensdagmiddag binnedring het.

Betogers versper talle paaie in Barberton (Foto: Verskaf)

Kobie Ekkerd, voorsitter van die beheerliggaam, sê betogers het klaskamers se vensters uitgegooi en voorwerpe na die kinders en onderwysers gegooi. Een onderwyser is in die proses beseer. “Hulle het die skool se bakkie gesteel en een van die skool se hekke omgery. Die bakkie is teruggekry, maar het baie skade opgedoen,” het Ekkerd gesê.

Nog ’n inwoner, wat nie genoem wou word nie, sê betogers het leerders in skole in die Emjindi- informele nedersetting verplig om aan die onwettige gewelddadige betogings deel te neem.

“Ondernemings in die dorp is ook tot stilstand gebring. Betogers het sake-eienaars gedreig dat hulle hul ondernemings sal afbrand indien hulle dit nie toemaak nie,” sê die inwoner.

Sy sê aan Maroela Media inwoners is vreesbevange om na ’n winkel vir inkopies te gaan. “Ons voel heeltyd onveilig in die dorp. Die betogers het selfs ’n vragmotor wat kruideniersware kom aflaai het, uitgebrand,” het die inwoner vertel.

‘n Vragmotor is tydens die betoging in Barberton aan die brand gesteek (Foto: Verskaf)

Die uitwerking van die erge droogte het die gemeenskap verder die joos in gemaak omdat water  gerantsoeneer en dele van die dorp gereeld sonder water gelaat is. “Die munisipaliteit het die waterkrisis nie in ’n ernstige lig beskou nie. Hulle het misluk om behoorlike waterbeperkings in te stel. Hulle het ook nie die situasie behoorlik met die inwoners bespreek nie,” het Minnaar gesê.

Die R38-pad tussen Badplaas en Barberton is tans vir motoriste gesluit. Leerders is ook Donderdag aangeraai om liefs nie Vrydag skool toe te kom nie.

Minnaar sê die DA het die speaker en burgemeester van die munisipaliteit versoek om dringend ’n vergadering byeen te roep om oplossings te vind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Hulle weet vir wie hulle gestem het, nog ‘n dorp wat se munisipaliteit bankrot is weens korrupsie

Werner ·

Hierdie is maar net die anargie wat besig is om uit te breek die hele land gaan brand

andre ·

n relevante opskrif sal wees “Vandalisme in Baberton” Op die foto kan n mens duidelik sien n vragmotor uit die privaatsektor brand

Tjom ·

En hier is nie meer n effektiewe polisie of weermag om die lot in die bek te ruk nie. Al wou hulle kan hulle nie..

marius ·

Val ‘n skool aan ? Pasop vir die dag wat gewone mense wraak gaan neem . Dit gaan nie teen die gepeupel wees nie . Hou maar dop.

HOOP ·

Brand Suid Afrika Brand is hoe die probleem uitgesorteer word , daar is klaar nie geld nie so kom ons wag tot alles verwoes is en ons almal leef in elende , dan kan die regerende party van voor af mos begin dan is alles wat voor ’94 verwoes .Wonder dan hie SA sal lyk.

Magda ·

Sien EFF – Wie is verantwoordelik vir DIE BRANDE WAT NOU HIER GEBEUR – NIE WIT SOOS JY DIT NOEM NIE MAAR SWART – MAAK OOP JULLE OE, AS JULLE DIE VERSKIL TUSSEN VERKEERD EN REG KAN ONDERSKEI, EN DIT BETWYFEL EK BAIE STERK.

Leon ·

Ja, wel Nelspruit se munisipaliteit het geld nodig gehad om hulle ryk leefstyl te handhaaf en soos baie korporatiewe groepe ‘n ander bron bygebring om die geld te verskaf.
Dit is soos wat dit in die korporatiewe besigheids wereld werk. Jy bring ‘n ryk maatskappy in, maak hom bankrot, skop hom uit en bring ‘n nuwe een in.
Daar is nie meer geld om Barberton te bestuur nie. Dit is seker deur die sakke van Nelspruit se munispale amptenare.
Ek sê, barand die amptenare se huise af, nie die dorp s’n.

Niklaas ·

In SA sal mens nou hard soek na enige owerheidsinstelling waar daar NIE finansiële probleempies is nie. Korrupsie vier hoogty orals.

Pampoen ·

Aan die een kant is daar swak dienslewering en het die mense die reg om kwaad te wees. Aan die ander kant is dit die mense wat nie betaal het nie wat die hardste skreeu. Dit is jammer dat daar onskuldige mense op die kant sit en onder die gemors ly. Om nie eers te praat van die skade wat aan eiendom en infrastruktuur aangerig word nie.

Kobus ·

Stem Johan,maar volgende keer stem hulle weer vir dieselfde party.Ek is van mening dit gaan meer oor die lekker om te verwoes as net dienslewering.

Die Kardinaal ·

‘n Kultuur van verwoesting en vernietiging is gekweek en word promoveer. Die morele laagtepunt wat ons tans in hierdie land beleef is veragtelik. En ons steier net elke dag voort.

Sarel ·

Parlement speel Plitieke speletjies om.mense se lewens te vernietig terwyl die land ineenstort .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.