Beboet oor POF-eis wyl hy eintlik dronk by huis val 

Mzwandile Patrick Msutwana

ʼn 56-jarige man is ʼn boete opgelê nadat hy die Padongelukkefonds ʼn rat voor die oë probeer draai het met ʼn ongeluk wat nooit plaasgevind het nie.

Mzwandile Patrick Msutwana is in ʼn hof in Gqeberha ʼn boete van R100 000 of vyf jaar direkte tronkstraf opgelê waarvan R50 000 vir drie jaar opgeskort is.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het gesê daar is ooreengekom dat Msutwana onmiddellik R3 000 sou betaal en daarna maandeliks R1 000 sou afbetaal.

Msutwana het in Julie verlede jaar via sy prokureurs ʼn eis van meer as R2,2 miljoen by die Padongelukkefonds (POF) ingedien. Hy het beweer hy is op 26 Februarie 2021 deur ʼn onbekende voertuig in Madikanestraat in New Brighton raakgery terwyl hy in die pad gestap het. Hy het verder aangevoer dat die bestuurder ná die ongeluk van die toneel gevlug het.

Forensiese ondersoekers van die Padongelukkefonds het egter snuf in die neus gekry en die saak in Desember 2022 na die Valke vir ondersoek verwys.

Die ondersoeke het aan die lig gebring dat Msutwana, volgens rekords van die Dora Nginza- en die Livingstone-hospitaal, by sy huis beseer is toe hy geval het terwyl hy onder die invloed van alkohol was. Msutwana is op 25 April in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

kry vir jou, hoe lank gaan dit neem om sy skuld te betaal, nie eers van rente gepraat nie

miche ·

Hoeveel soortgelyke gevalle is daar? Dis seker hoekom die POF bankrot/ uitgeput is.

Papsak ·

Ja nee lyk my kry by huis seer dan eis ons sommer daar mense wat dit regtig toe kom maar deur sulkes kry hulle niks nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.