Die drankbedryf het ʼn verkoopsverlies van sowat R36,3 miljard gely weens die drie verbodsbepalings wat op alkoholverkope ingestel is sedert Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het.
Die bedryf bestaan uit onder meer die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaamvereniging (Salba), Vinpro, die Biervereniging van SA (Basa), die nasionale drankhandelaarsvereniging (LTASA) en vervaardigers.
Volgens ʼn studie oor die ekonomiese uitwerking van die besluit is die geannualiseerde BBP-verlies sowat R51,9 miljard, die verlies aan belasting vir die staatskas beloop R29,3 miljard en sowat 200 200 werksgeleenthede in die alkoholwaardeketting is in die weegskaal.
Die bedryf sê die ontleding van die drie verbodsbepalings, insluitende die jongste vyf weke lange verbod tussen 29 Desember en 2 Februarie vanjaar, wys die verwoestende uitwerking van die regering se besluit.
Die uitwerking van die jongste verbod word intussen steeds gevoel en die verkope van alle kategorieë alkohol het gedaal:
- Bierverkope daal met 195 miljoen liter
- Verkope van spiritualieë daal met 10 miljoen liter
- Wynverkope daal met 27,2 miljoen liter
- Verkope van gereed-om-te-drink-drankies daal met 38,1 miljoen liter
Kurt Moorde, uitvoerende hoof van Salba, sê dit is nie net die bedryf en sy werkers wat steier nie, maar die regering ondervind self beduiende inkomsteverliese.
Die verlies van R29,3 miljard aan belasting is sowat 2,3% van die land se algehele belastinginkomste, terwyl die regstreekse verlies aan aksynsbelasting sowat R8,7 miljard beloop – dit is gelykstaande aan 21,2% van die inkomste uit aksynsbelasting.
Volgens die studie is die bedryf 30% van sy beskikbare verkoopsgeleenthede kwyt – drankverkope is tot dusver altesame 15 weke lank verbied – en die bedryf se algehele volumes het met 17% gedaal.
Verbruikers verkies deesdae ook goedkoper alkoholprodukte omdat hul inkomste minder is en stapel voorraad op van drankies wat langer hou en nie verkoeling benodig nie.
Patricia Pillay, uitvoerende hoof van Basa, sê net die bierbedryf is R18 miljard in verkope kwyt weens die drie verbodsbepalings.
“Die werksverliese is uitsonderlik skadelik vir die samelewing en die ekonomie. Meer as 200 220 werksgeleenthede, oftewel 1,2% van nasionale werksgeleenthede in die informele en formele sektor, is in die gedrang,” sê Pillay.
Sy sê die syfers spreek boekdele.
“Die verwoestende ekonomiese uitwerking van die verbod kan nie geïgnoreer word nie en dit kan nie in die toekoms weer ingestel word nie. Ons vra die regering weer om alternatiewe maatreëls te oorweeg om alkoholmisbruik te takel terwyl die inkomste van ʼn beduidende getal mense wat op die bedryf staatmaak, onderhou kan word.”
Die wynbedryf is een van die land se oudste landbousektore en word as ʼn unieke bate bestempel. Die bedryf ondersteun 269 000 werksgeleenthede deur die wynwaardeketting en dra sowat 1,1% tot die BBP by.
“Die verbodsbepalings het die toekoms van die wynbedryf op die spel geplaas,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.
Plaaslike wynverkope het met 20% (volumegewys) geduik. ʼn Vyf weke lange verbod op uitvoere het daartoe gelei dat 300 miljoen liter wyn uit ʼn voorraad van 640 miljoen liter nie gekontrakteer is nie – en dit juis op die tydstip dat daar met die 2021-oes begin is. Basson sê dit het ʼn enorme dilemma met voorraad veroorsaak en groot druk op stoorfasiliteite geplaas.
Die sosio-ekonomiese uitwerking was ook rampspoedig. Die bedryf het beduidende werksverliese ondervind en dít in gemeenskappe waar een werker dikwels tot ses afhanklikes onderhou.
“Die uitwerking van reisbeperkings op wyntoerisme, wat groot waarde vir Suid-Afrika se toerismebedryf verteenwoordig, tesame met die verbodsbepalings op drankverkope het die wynbedryf op sy knieë gedwing,” sê Basson.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
R26 miljard. Baie geld wat ekstra goed kon betaal het.
en minder vrouens en kinders wat “bloei”!
mooi so , tannie kopdoek………..julle het wel gedaan. DIt is OK in julle oe dat mense van honger doodgaan, solank dit tog net nie covid is nie.
Snaakse bedryf, hierdie drankbedryf. Hoe meer drankmisbruik en die elende wat daarmee gepaard gaan vir vroue en kinders, hoe beter en blyer is die bedryf en hul aandeelhouers.
Mooi!!!!!!! Nog so paar miljoen werkloos,die anc se planne werk mooi!!!!!