Bedrywige politieke jaar lê voor

(Argieffoto: Reint Dykema)

Suid-Afrika se politieke landskap was oudergewoonte vanjaar gebeurtenisvol – op die plaaslike én internasionale verhoog. Verskeie omstrede wetsontwerpe, soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NVG) en wysigings aan die Skolewet (Bela) is aanvaar, oudpres. Jacob Zuma is uiteindelik in hegtenis geneem én weer vrygelaat, en pres. Cyril Ramaphosa is deur die einste Zuma voor die hof gedaag.

Wat deur kenners as “politieke voetfoute” beskryf word, loop ook soos ʼn goue draad deur 2023 se internasionale politiek, met Suid-Afrika wat hom meermale openlik by sogenoemde “muishondlande” skaar. 2024 beloof om net so ʼn bedrywige jaar in die politiek te wees.

Kenners meen die plaaslike politiek gaan in 2024 volledig deur die nasionale en provinsiale verkiesing oorheers word.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, meen dié verkiesing gaan ʼn belangrike een wees, omdat Suid-Afrika tans in ʼn politieke waterskeidingsfase vergelykbaar met die laat 1980’s verkeer.

Hoewel die presiese datum van die verkiesing nog nie aangekondig is nie, verwag kenners dat die verkiesing tussen Mei en Augustus sal plaasvind.

Dr. Theuns Eloff, onafhanklike politieke kommentator, sê hy het aanvanklik ʼn later verkiesing verwag, “omdat die ANC so veel as moontlik tyd wil wen om Eskom reg te kry. Nou dat dit duidelik word dat dit nie moontlik is nie, kan hulle dalk eerder die vroeër datum kies”.

Hy voorspel dat politieke partye se retoriek gaan verskerp, en dat veral partye soos die ANC en EFF rassepolarisasie tot nog groter hoogtes sal neem.

Wat die uitslae van die verkiesing betref, voorspel Eloff tussen 45% en 50% stemme vir die ANC.

Hy meen randfigure soos Zuma en Ace Magashule “gaan nie veel bereik in dié verkiesing nie”.

Zuma het juis vroeër die maand sy steun aan die nuut-geregistreerde party Umkhonto weSizwe toegesê.

Die EFF kan egter die meeste by die ANC se agteruitgang baat en soveel as 15% op homself verenig, voorspel Eloff.

“Dit beteken die ander opposisie- en sentrumpartye sal moeilik 40% haal, maar in die hoë 30’s eindig. Die Veelpartyverdrag kan saam 35% haal.”

Duvenhage en Eloff is dit eens dat die ANC moontlik sy provinsiale mag in Gauteng en KwaZulu-Natal kan verloor.

“Dit is die eerste fase van ons politieke oorgang van die volgende vyf jaar,” sê Eloff.

Duvenhage meen egter die ANC sal nie sommer skik as hy politieke mag verloor nie.

“Die ANC is nie net ʼn party in regering nie, maar ʼn totale regime van gevestigde belange, so wanneer toegang tot regering verloor word, tree die regime in om te stabiliseer.”

Volgens Duvenhage het die ANC in die verlede gewys dat hy hierdie tipe gedrag ondersteun, soos toe Zanu PF by die stembus verloor het.

Eloff voorsien egter nie grootskaalse onrus voor of ná die verkiesing nie, “slegs geïsoleerde gevalle in sekere gebiede”.

Beide kenners is egter bekommerd oor die vryheid en regverdigheid van die verkiesing.

“Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se begroting is kwaai gesny en hulle werknemers is nie almal (veral op grondvlak) bekwaam nie,” waarsku Eloff.

Volgens Duvenhage sal die ANC ook nie skroom om in te meng by ongunstige verkiesingsuitslae nie.

Dit is waarom die rol van die OVK so belangrik is, beklemtoon Duvenhage.

“Hier gaan die burgerlike samelewing en sakesektor ook ʼn belangrike rol speel in die afdwing van ʼn nuwe bedeling. Politieke partye gaan hierdie geveg nie alleen wen nie, juis omdat volgende jaar se verkiesing deel vorm van ʼn bedelingsomwenteling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.