Beeld-joernalis en fotograaf gekaap

Foto: @Mogatosi_Kabelo op Twitter.

Foto: @Mogatosi_Kabelo op Twitter.

ʼn Joernalis en fotograaf van Beeld is Woensdag in Majakaneng buite Brits in Noordwes gekaap, het die koerant berig.

Leanne George, ʼn misdaadverslaggewer, en Deaan Vivier, ʼn fotograaf, het Woensdag op die R104 gery om verslag te gaan doen oor betogings in die area toe hulle deur ʼn groep mans oorval is.

ʼn Man in ʼn grys T-hemp het glo aan die passasierskant, waar George gesit het, se venster geslaan. George het die kantoor gebel om hulp te ontbied, maar kon slegs daarin slaag om te sê hulle is op die R104 voor haar selfoon afgegaan het.

Drie of vier mans het intussen aan Vivier se deur getrek en hom met ʼn mes uit die motor gedwing. George is uit die motor getrek. Sy kon daarin slaag om los te kom en het in die aankomende verkeer ingehardloop.

ʼn Man in ʼn silwer motor het tot haar redding gekom. “Ek ken hom net as Solly,” het sy aan die koerant gesê. “Hy is ʼn engel. Hy het omgedraai en my kom help.”

Die kapers het Vivier gedwing om hulle te wys hoe om die motor aan te skakel voor hulle gevlug het. Solly het George en Vivier na ʼn kruising geneem waar verkeersbeamptes gesit het. ʼn Polisievrou het hulle na die Mooinooi-polisiestasie geneem.

Die opsporingsmaatskappy Tracker het Beeld se motor in Rustenburg gevind. Die kapers het glo die motor aan die brand gesteek. Omstanders het glo sand oor die motor gegooi om die brand te blus. George en Vivier se kameras, skootrekenaars en ʼn iPad is in die motor gevind.

Lt.kol. Tsolofelo Matlhoko, woordvoerder van die Mooinooi-polisiestasie, het bevestig dat hulle die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Bel vir Adriaan Basson hy sal julle raad kan gee en moontlik n verduideliking wat die res van die publiek na hulle asems laat snak vir sy versiendenheid.

chris ·

Puik Bruno! Ons moet nie vergeet van nog baie ander nie.Jy weet mos die wat hulself meningsvormers noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.