Befaamde Neuhoff-vyfling vier 40ste verjaarsdag

‘n Onlangse foto van die Neuhoff-vyfling. V.l.n.r. voor is Marius, Heinrich, Pieter en Francois. Hendrik staan agter in blou. (Foto: Verskaf)

Vra jy vandag die ouer garde uit oor die Neuhoff-vyfling, sal menige dalk vir jou sê hoe goed hulle nog die geboortedag van dié vyf boeties kan onthou.

Op 29 Februarie 1980, in die destydse Kemptonpark-privaathospitaal, is ʼn doodgewone gesin van Pomona in Kemptonpark in die geskiedenisboeke opgeteken toe Francois, Pieter, Hendrik, Heinrich en Marius Neuhoff die eerste vyfling ter wêreld geword het wat almal manlik is.

“Dit is die volgorde waarin ons gebore is,” vertel Hendrik, die middelste van die vyf broers.

Hulle is boonop die enigste vyfling ter wêreld wat op skrikkeldag gebore is. Dié vyf vier vandag hulle 40ste verjaarsdag, al is dit vanjaar eers die 10de keer dat hul merkwaardige geboortedag op die werklike datum gevier kan word.

Hendrik vertel hul ma, Lagé (70), en pa, Pikkie (74), wou destyds ʼn boetie in die wêreld bring vir hul dogter, Elizna (45), toe vyf jaar oud.

“Daar kry sy toe sommer vyf poppe om mee te speel! Sy is baie trots op ons, en ons op haar. Dit kon nie maklik gewees het vir haar met die vyf woelwaters skielik in die huis nie.”

Die Neuhoff-gesin soos hulle vandag lyk. (Foto: Verskaf)

En woelig is nog ligtelik gestel, sê Hendrik. “Ons het op ʼn kleinhoewe in Pomona grootgeword, waar my ouers tot vandag toe nog bly. Ons het ruimte gehad om te speel, ʼn groot stoep en ʼn massiewe swembad. Dit was só lekker en ons sal ons kinderjare vir niks verruil nie.”

Hy onthou veral die danspartytjies wat hulle altyd op die groot stoep gehou het. “Almal van ons is mal oor dans, vandag nog. Ons gaan gróót met verjaarsdagvieringe. Ons koop nie meer vir mekaar geskenke nie, maar ons bederf wel die kinders. Vir ons is dit goed genoeg dat ons nog heg is aan mekaar en die samesyn is veel belangriker as geskenke.”

En om vanjaar se mylpaal te vier is geen uitsondering nie: Oudergewoonte beplan die broers ʼn groot partytjie met 120 vriende en familielede by die Summer Place-venue in Boksburg.

“Ons is gelukkig genoeg dat almal nog binne ry-afstand van mekaar is en ons kan nie anders as om hierdie mylpaal te vier nie. Ons is gelukkig dat ons almal nog gespaar is en om nog albei ouers te hê wat gelukkig getroud is na al die jare.”

Die Neuhoff-broers toe hulle klein was. (Foto: Verskaf)

Hy vertel hy en Francois is woonagtig in Mbombela (Nelspruit), Pieter is in Pretoria, Heinrich is naby hul ouers in Kemptonpark en Marius is in Botswana.

“Ons doen moeite om almal saam te kuier, al het elkeen nou hulle eie gesinne ook. Ons het al van kleins af ʼn onbreekbare kameraadskap tussen ons. Toe ons klein was en een van ons was stout, het ons almal ons hande opgesteek wanneer Ma gevra het wie die skuldige was. Dan is ons almal sommer gestraf, al dink ek sy het heimlik geweet wie die skuldige was,” onthou Hendrik.

Lagé en Pikkie spog nou met altesaam tien kleinkinders. Hendrik, ʼn versekeringsadministrateur, en Marius, wat by ʼn lodge op die Okavango Delta werk, is albei enkellopend. Francois, ʼn finansiële direkteur, het drie kinders; Pieter is ʼn prosesingenieur, het drie kinders waarvan twee ʼn tweeling is – ʼn seun en ʼn dogter en ʼn ouer dogter – en Heinrich, ʼn bourekenaar, het twee kinders. Elizna het ook twee dogters.

“Ons ouers is baie trots op ons, en ons op hulle. Ons het al vyf tersiêre opleiding ontvang en almal van ons het diplomas of grade verwerf. Ons ouers het ontsettend hard gewerk vir ons om dit te kon bereik en ek dink dit is baie merkwaardig,” sê Hendrik.

Die Neuhoffs. (Foto: Verskaf)

“My pa was baie weg van die huis af vir werk. Hy het ongelooflike opofferings gemaak en ons met bloedsweet en trane deur alles gekry. Ons is oneindig dankbaar vir sy lewenskennis en wyshede.”

Hy voeg trots by dat hulle ʼn familie is sonder enige vetes. “Dit kan ek sonder huiwering sê. Natuurlik het ons ons uitdagings, want ons elkeen se persoonlikhede, idees en selfs smaak in musiek is uiteenlopend, maar ons kom altyd tot ʼn vergelyk en beweeg aan.”

Volgens Hendrik herken die publiek hulle nog soms en skroom mense dan nie om ʼn geselsie aan te knoop nie. “Ons was baie in die nuus. Mense wat destyds die nuus gevolg het, sal ons voorkeer en sê hulle onthou ons nog van toe ons kinders was. En dan sê hulle altyd hoe hulle nie kan glo hoe vinnig die tyd verby gegaan het nie!”

Hendrik spot en sê sy tienerjare begin nou eers. “Nou gaan ek my kamer se deur toeklap en my musiek kliphard te speel. Nóú is ek ʼn rebel, nóú raak ek moeilik,” skaterlag hy.

“Dit is net ʼn seëning van Bo dat al vyf van ons gebore is sonder enige skete of kwale en tot vandag toe is ons almal geseën met goeie gesondheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Baie geluk julle 5 !!!!!!!! Baie geluk aan daardie 2 kosbare ouers en suster. Dis genade onbeskryflik groot.

Mikki ·

Wonderlik om sulke goed-voel nuus te lees! Julle is voorwaar geseend! Baie geluk! ♡

Frieda ·

Dis so lekker om sulke goeie nuus te lees!! Baie geluk aan almal !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.