Begin van koalisiepolitiek; kairos-oomblik vir ANC?

(Foto: Reint Dykema)

Die ANC se tanende steun hou verreikende implikasies vir koalisiepolitiek in, wat blyk Suid-Afrika se voorland te wees. Na aanleiding van die afgelope munisipale verkiesing, verwag kenners ook groot veranderinge met die algemene verkiesing oor drie jaar.

Teen Donderdagmiddag was daar reeds 68 van die 257 munisipaliteite waar koalisieregerings gevorm sal moet word, aangesien geen party ʼn volslae meerderheid stemme hier verower het nie. In net drie van die land se agt metro’s – Johannesburg, Kaapstad, Tshwane, Nelson Mandelabaai, Buffalo City, eThekwini, Ekurhuleni en Mangaung – is ʼn volstrekte meerderheid tot dusver behaal. Die DA het ʼn meerderheid in Kaapstad, terwyl die ANC ʼn meerderheid in Buffalo City en Mangaung het.

Geen party het ook nog ’n volstrekte meerderheid in drie metropole in Gauteng – Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni – nie. Ekurhuleni was die enigste Gauteng-metropool wat voor die afgelope verkiesing nog deur die ANC regeer is.

Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het die afgelope verkiesing begin om die politieke reëls te herdefinieer.

Alida Kok, dosent in politiek aan Akademia, sê ook kenners het geweet die verkiesing gaan belangrik en die begin van ’n tipe politieke herskikking wees, “maar dit het die verwagtinge oortref.”

Kairos-oomblik vir ANC

(Argieffoto)

Die ANC se vertoning in die afgelope verkiesing sal nie net tot meer druk op Cyril Ramaphosa lei nie, maar ook die party self. Die geskiedenis wys dat bevrydingsbewegings ’n rakleeftyd van sowat 30 jaar het waarna dit toenemend in die moeilikheid is, sê Duvenage.

Die ANC word intussen toenemend ’n landelike party met die groot stede wat weg van die party beweeg.

“Ons het dit gesien met die Zanu-PF in Zimbabwe waar verkiesings gekook is om in beheer te bly. Die ANC is nou by daardie kairos-oomblik, ’n oomblik van waarheid, en hulle kan nie doen wat Robert Mugabe gedoen het nie.”

Kok het ook verwys na die uitlatings dat die ANC nou op die punt staan waar die Nasionale Party in 90’s was – by die begin van die einde.

Benaderings tot koalisies

(Foto: Reint Dykema)

In aanloop tot ’n verkiesing kom partye met hul eie sterk identiteit na vore en is hulle onverdraagsaam teenoor opponente. “Wanneer die verkiesing verby is, word daar inbeweeg en begin die onderhandelings.”

Hier kom twee benaderings ter sprake, naamlik ’n sentralistiese of pragmatiese benadering. Met die sentralistiese benadering neem die topbestuur van ’n party besluite rakende met wie en hoe daar saamgewerk word, verduidelik Duvenage. Volgens die pragmatiese benadering word die uniekheid van plaaslike omgewings in ag geneem en word eerder gekyk hoe verskillende partye met unieke antwoorde vorendag kan kom om gemeenskaplike waardes te laat realiseer.

“Ek vermoed hier gaan elemente van albei benaderings ter sprake wees. Daar is ook ander vlakke van samewerking waar gekyk word na watter kwessies partye bereid is om oor saam te werk en ’n ooreenkoms kan bereik word indien daar oor bepaalde kwessies saamgestem word.

“Breër konsensus sal tot breër samewerking lei en dit kan weer lei tot ’n alliansie waar partye saamwerk met betrekking tot verskeie kwessies, maar steeds hul identiteit behou. Op ʼn hoër vlak van samewerking, waar partye amper in ’n huwelik tree, vind daar ’n koalisie plaas en dan kan van die partye se identiteit verlore gaan.”

Kok meen daar is gewoonlik twee faktore wat koalisiepolitiek dryf – ’n gemene bedreiging of ’n gemeenskaplike doelwit. Die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC en die EFF kan byvoorbeeld as ’n gemene bedreiging deur sommige partye gesien word terwyl dienslewering ’n gemeenskaplike doelwit vir partye kan wees.

Volgens Kok is daar meestal ’n mate van onstabiliteit wat met koalisiepolitiek gepaard gaan. Wanneer daar egter meerderheidskoalisieregerings tot stand kom en amptelike koalisies gesluit word, bring dit meer stabiliteit mee.

2024-verkiesing

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Duvenage verwag groot veranderinge met die algemene verkiesing in 2024.

“Die ANC staan voor ’n groeiende krisis en dit is momentum wat hy nie kan omkeer nie. Ek dink nie die ANC gaan ná 2024 meer alleen regeer nie.”

Kok wys daarop dat die Suid-Afrika se kiesstelsel ’n ekstreme proporsionele kiesstelsel is wat tydens die onderhandelinge in die 90’s eintlik so gekies is om verteenwoordiging te bevorder, maar dat die ANC se oorheersing in ’n mate gekeer het dat dit die doel kon dien.

“Nou begin ons in ’n veelparty-omgewing inbeweeg wat eintlik met proporsionaliteit verband hou.”

Die Kieswet moet voor 2024 se algemene verkiesing verander word nadat die Konstitusionele Hof in Junie 2020 bevind het dat dit ongrondwetlik is omdat daar nie vir onafhanklike kandidate voorsiening gemaak word om hulself provinsiaal én nasionaal verkiesbaar te stel nie. Die parlement is twee jaar gegee om die nodige wetgewing te wysig.

“Ons weet nie hoe die Kieswet eindelik gaan lyk nie, maar dit kan groot verandering teweegbring. Veronderstel ons het teen dan ʼn ander kiesstelsel, kan ʼn koalisieregering op nasionale vlak of dalk selfs ʼn regering van samewerkende eenheid ʼn moontlikheid wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Ek dink daar gaan baie skandes en geraamtes uit die kas kom wanneer ander partye hulle oë op die boeke kry wat eers net vir ANC lede bedoel was, kan nie wag dat ‘n paar oranje oorpakke uitgedeel word nie.

Lourens

Ons hoop en bid dat die anc se rug gebreek word dat ons nie meer met ‘n een party regering sit, én ook dat ons president nie die regerende party se president ook is nie.
Hy kán nie onpartydig teenoor sy party wees nie.
Ons het ‘n onafhanklike, geen party, President nodig.

TRP

Ek stem nie saam met koalisies nie, ek stem maar kry nie waarvoor ek gestem het nie. Dit is maar my gevoel.

Sarel

Pasop vir Koalisie tussen ANC & EFF.
Politieke Partye moet nou vir die Gemeenskappe werk en
Party Politiek.tweede. So mag die vertroue in fie Demokrasie dalk herstel word.
Die ANC dien eerstens die beweging..dan hulle self
en miskien as daar iets oor is die gemeenskap.

AW

2024 !!!