Begroting: Regering se idees (en geld) is op – DA

Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens Woensdag se toespraak. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Geen verligting vir stygende lewenskoste nie. Geen vooruitsig van ekonomiese groei nie. Meer skuld. Meer reddingsboeie.

Die DA was nie beïndruk met die minister van finansies se mediumtermynbegrotingsraamwerk wat hy Woensdag in die parlement voorgelê het nie.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die party het van die minister verwag om beleidsingrypings aan te kondig wat tot ekonomiese groei en broodnodige werksgeleenthede sou lei. Om dit te doen, moes hy ʼn beleidsrigting aandui wat die private sektor, veral klein en mediumgrootte ondernemings, in staat sou stel om makliker sake te doen.

“Pleks daarvan het hy die bewese mislukte staatsmodel, wat ʼn wanfunksionele staat in die middelpunt van ons ekonomie plaas, versterk deur meer reddingsboeie aan staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) te gee en regeringsbesteding te versnel,” sê George.

Altesame R30 miljard is aan die bakhand Transnet, Sanral en Denel toegewys.

George sê die geld kon beter gebruik gewees het om groei te versnel en werk te skep.

Die tesourie het hom vroeër vanjaar verbind tot fiskale doelwitte wat skuldvlakke sal verminder – veral omdat rente bly styg – en dat dié skuld ekonomiese herstel in die wiele ry.

“Pleks daarvan om hierdie skuldlas op hardwerkende Suid-Afrikaners te verminder, gaan die oordrag van Eskom se beduidende skuldlas (tussen R126 miljard en R260 miljard) na die nasionale balansstaat lei tot ʼn beduidende toename in die skuld-tot-BBP-koers en ʼn voortgesette opwaartse spiraal in rente-terugbetalings ten koste van dienslewering aan die armste Suid-Afrikaners.”

George bestempel die stilte oor hoe die regering arm Suid-Afrikaners se lot gaan verlig as die grootste mislukking van die begroting. Hy sê die minister is tjoepstil oor hoe kwesbare Suid-Afrikaners ondersteun gaan word, benewens deur die verlenging van die maatskaplike toelaag vir noodverligting – wat die DA wél steun.

Die minister was ook tjoepstil oor vervoerkoste wat Suid-Afrikaners se kosmandjie al hoe duurder maak en George sê hy kon verligting gebied het deur ʼn aankondiging oor die brandstofheffing en vervoerbelasting te maak.

Voorts is geen woord gerep oor die R50 miljoen vir Kuba nie.

Die DA het wel die minister se verbintenis tot ekstra geld vir die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom.

“Die begroting is ʼn duidelike weerspieëling dat die regering se geld en sy idees opgedroog het.

“Dit is ʼn begroting van ʼn mislukte regering wat nie omgee oor die lot van sukkelende Suid-Afrikaners nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Die begroting weerspieel weereens die verknorsing waarin die land hom bevind.Drastiese ingryping nodig maar erkenning van onvermoee en planloosheid van die sosialiste sal nie gebeur

Harley Davidson ·

Ek stel voor hulle verkoop die Wes en Noordkaap en gebruik die geld om hulle verder te verryk sodat die wat kan regeer ‘n nuwe land van vooraf opbou.

Henk ·

En weer is die DA op sy pos – lewer kritiek. Kom bietjie met vars alternatiewe toe.

Frank ·

Se die een wat se enigste prestasie is om keyboard warrior te speel en boonop die pot heeltemal misskiet

koos ·

Hier waar ek bly, is die DA die amptelike opposisie. Hou hulle bekke “in belang van goeie verhoudings”. Nou is ons mislike paliteit bankrot en skuld eskom+ randwater letterlik miljoene der miljoene.

Geert ·

Hierdie is weereens n goeie bewys dat ons selfbeskiking moet kry of saam met die res onder te gaan. Die wat nie selfbeskiking wil hê nie is mos maar welkom om saam met die ander te woon en werk en dan uiteidelik onder getrek te word. Selfbeskikking baie meer werkbaar as die gemors waarin ons, ons nou bevind. Daar is goeie voorbeelde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.