Begroting te min om junior dokters aan te stel – Phaahla

Dr. Joe Phaahla (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het die hoë werkloosheidsyfers onder junior dokters in Suid-Afrika aan begrotingsuitdagings toegeskryf.

Tans sit 645 gekwalifiseerde dokters nog sonder werk nadat hulle in Desember hul gemeenskapsdiensjaar voltooi het.

Phaahla het die media Maandag toegespreek ná toenemende openbare protes oor die lot van junior dokters wat eenvoudig nie werk kry nie, en ook nie geld het om hul eie praktyke oop te maak of te emigreer nie. Dít in ʼn land waar staatshospitale ernstige tekorte aan menslike hulpbronne het en pasiënte soms ure lank op behandeling wag.

Volgens die minister word die rieme van provinsiale begrotings al dunner gesny, wat dit moeilik maak om geld vir nuwe poste toe te ken. Hy sê gemeenskapsdiensdokters verdien boonop R1,2 miljoen ʼn jaar, wat oortyd insluit, en kan nie noodwendig weer teen dié salarisse aangestel word nie.

Phaahla sê indiensneming het nietemin verbeter, met 564 poste wat sedert Oktober verlede jaar gevul is.

“Die tendens oor die afgelope vyf jaar toon ’n jaarlikse toename in die indiensneming van mediese dokters.

“Hierdie stygings oor hierdie jare het gebeur ten spyte van die befondsingsbeperkings. Ek sal die eerste wees om toe te gee dat hierdie getalle onvoldoende is wanneer die groot gesondheidsbehoeftes in die land in ag geneem word.

“Die noodsituasie is egter nie anders vir ander gesondheidswerkers soos verpleegkundiges, fisioterapeute, mondhigiëniste, spraakterapeute en oudioloë en dies meer nie.”

Gauteng, die Oos-Kaap en die Vrystaat adverteer tans ook poste, hoewel Limpopo uitdagings ondervind weens ʼn hofgeskil tussen die provinsiale gesondheidsdepartement en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond (Samatu).

Die gesondheidsdepartement in Limpopo wou meer werksgeleenthede skep deur oortydwerk te herorganiseer, maar dit word deur die vakbond teengestaan.

Poste sal glo eers weer in dié provinsie geadverteer word nadat die hofgeding afgehandel is.

Phaahla sê egter dat junior dokters nie outomaties van werk verseker is nadat hulle hul gemeenskapsdiensjaar voltooi het nie. Hy het ook voorgestel dat dokters wat nie in die openbare sektor regkom nie, hulle maar na die private sektor moet wend.

“Junior dokters is soos enige ander professionele persoon, en moet soos dié persone ook vir werk meeding.”

Phaahla sê die departement oorweeg wel verskillende moontlikhede – insluitend die hersiening van die huidige bedeling vir indiensneming van dokters en mediese spesialiste – om te kyk of die huidige begroting hertoegewys kan word om meer gesondheidswerkers in die openbare gesondheidsfasiliteite aan te stel.

Vakbond nie beïndruk

Samatu is egter nie beïndruk met die departement se planne – of altans gebrek aan planne – nie.

Die vakbond het Dinsdag in reaksie op Phaahla se toespraak gesê daar is ʼn wesenlike gebrek aan optrede en strategiese oplossings.

“Dit is ’n ontnugterende werklikheid dat dieselfde probleme jaar na jaar opduik sonder sinvolle ingryping of vordering. Die minister se erkenning van hierdie uitdagings, sonder om ’n uitvoerbare raamwerk aan te bied oor hoe dit opgelos kan word, is tekenend van die departement se powere pogings,” het dr. Cedric Sihlangu, Samatu se sekretaris-generaal, gesê.

“Dit wek ernstige kommer oor die departement se verbintenis tot ons gesondheidsorgpraktisyns en tot die gesondheid van ons nasie.”

Samatu sê die departement se voorstel dat sommige van die geraakte dokters, aangesien hulle “onafhanklik” is, moet oorweeg om werk in die private sektor te soek, is ʼn klap in die gesig van dié dokters en ander toegewyde professionele persone wat ywerig in die openbare sektor dien –  dikwels onder uiters uitdagende omstandighede.

“As ’n vakbond vind ons hierdie voorstel heeltemal onaanvaarbaar en kortsigtig, veral met inagneming van die groot ongelykhede en die beperkte omvang van private gesondheidsorgfasiliteite reg oor die land,” sê Sihlangu.

“Wat meer ontstellend is, is dat ons leiers, wie se voordele aan hul toegang tot gevorderde private mediese sorg verleen, nie die dringendheid van hierdie kwessies begryp nie. So ’n houding vergroot net die gaping tussen die regering en die hardwerkende mediese beroepslui op die grond.”

Samatu eis nou ’n toegewyde taakspan om op die onmiddellike indiensneming van werklose dokters te fokus.

Die vakbond dring ook aan op inklusiewe dialoog wat mediese professionele persone aktief by besluitnemingsprosesse betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

George ·

Toemaar, ander lande sal hulle graag inneem. Maar julle vir NGV he.

domheks ·

Hoeveel kubaanse dokters is nog in SA in diens Phaala? Raak ontslae van hulle en gee jou eie land se mense werk!

electricmango ·

Dis blerry pateties, die regering moet maar net erken dat hulle nie oor die vermoee beskik om die land te laat werk nie. Hemel het niemand in die huidige regering graad 6 klaar gemaak nie? Eish!!!!

Karoo ·

So…. staat wil NGV he… “ons” moet daarvoor betaal… en as jy die mediese hulp opsoek… wel jammer… daar is nie ‘n Dr…. of’ n bed vir jou nie. Janee, ons boer as hoe viniger agteruit.

Jacobus ·

Dit bekommer my diep dat top staatsamptenare nie besluite neem wat alle probleme aanspreek. Gister word genoem dat multivlak aanstellings gemaak sou word wat bv “HR” personeel benodig. Hemel help ons as hulle NGV sou instel in ‘n patetiese gebroke stelsel. Maar die kaders moet eet!

SjN ·

Staak eerstens die oorsee Dokters se diens en kyk na jul plaaslike mense, maar nee hul het mos die tyd beloftes aan hul gemaak.

Tinus ·

WAAR gaan die geld vandaan kom? Van die belastingbetalers natuurlik!

Mallie ·

Hoekom demand die dokters nie dat hulle eie gesondheidsnedewerkers eerder aangestel word nie. Of tel dit net in sekere beroepe.

Fran ·

Kan hierdie regering enigsins IETS reg doen? En hulle wil vir nog 4 jaar aan bewind wees? Help ons!

Republikein in die Wes Kaap ·

Salarisse in die staatsdiens is hopeloos te hoog. Die arbeidsmark is verwring en die staat kan nie die salarisse langer bekostig nie.

koos10 ·

Stop die bus. Die dokters moet volgens die minister privaat sektor toe. Presies dieselfde sektor wat die einste minister met die NGV wil vernietig. Net bietjie meer inligting, dis nie net dokters wat geraak word nie. Baie wat die s.g. Zuma jaar gedoen het, d.w.s aptekers, dieetkundiges, tantartse en noem maar op. Wie wil meer bewyse he dat die huidige regering ‘n veer voel vir die mense in SA. Gaan kyk gerus hoeveel staatshospitale was daar in 1994 en hoeveel is daar vandag.

Tino ·

Dis maklik, kyk net wie ry met nuwe range rovers rond?

Ironies hoe n hoogs opgeleide en ervare mediese persoon met skaars vaardighede deur ‘n onkundige kader sonder std6 regeer word

snaaks ·

Kan nie ons kinders wat nou wil dokters word nog hier wil studeur verstaan nie.Daar was n paar wat dit wil doen in anc suid afrika

George ·

@Fran, hulle gaan nog verkiesings wen en wen, ons sal nie die verandering sien in ons leef tyd nie.

MARELIZE ·

Baie eenvoudig, my liewe minister. Sny julle kabinetslede se salarisse met die helfte en daar sal meer as genoeg geld beskikbaar wees om poste te skep en in stand te hou.

Delia ·

Intree salaris in die staatsdiens vir hierdie dokters R70 000 per maand.

OW ·

Nee wat hierdie regering weet niks van bestuursbeginsels nie. Dit wys mens net weer dat geen beplanning gedoen is tov dokters wat opgelei word en voorsiening van poste gedoen is nie.Nou is die privaatsektor eweskielik ‘n opsie.Ek het jare gelede hierdie woorde in ‘n Adjudant Offisier se kantoor gememoriseer.”The Lord help those,who help themselves,but may the Lord help those being caught,helping themselves in this office”

Soanli ·

Dit is verregaande! NVG gaan nie werk nie.
My Huiswerker het Feb 2023 al haar tande by Steve Biko laat trek. Die dr se woorde was dat sy binne 2 maande haar vol stel gebid sal kry. Dit is egter n jaar later en sy het steeds dit nie. Ek bel elke maand. Daar is geen vordering nie

Michael ·

Maak die gemeenskapdiensdokters se salarisse kleiner-R100 000 pm is is absoluut verregaande. Bitter min ander ervare beroepswerkers verdien soveel terwyl die dokters nog in opleiding is. Geen wonder daars nie geld nie want die staat betaal salarisse ver bo wat in privaatsektor betaal word. Ons belasting gaan net vir salarisse

Kabous ·

Welkom by die ANC land waar daar nie gedink kan word nie en sakke word vol gestop, maar wat doen mense?? hulle gaan stem maar net weer vir die ANC, as jy dom is dan is jy dom!!!!

Llady ·

Geagte Dr Phaahla, ek verstaan nie mooi nie… U sê die dokters wat tans werkloos is, moet ook maar by die private sektor gaan aanklop vir werk. Maar hoe dan nou? Met die NGV wat die regering wil implementeer gaan daar dan binnekort mos nie meer ‘n private sektor wees nie! Gaan hierdie dokters dan maar weer sonder werk moet sit? En as daar nie nou geld is om die dokters van werk te verskaf nie, hoe beplan die regering dan om met NGV ál die dokters in die land te betaal? Want dan gaan almal mos vir die NGV moet werk – baie ervare en gespesialiseerde dokters inkluis, wat definitief méér betaal gaan moet word as pas afgestudeerde dokters…

Di ·

Die ANC Kaders moet minder rondrits en hulle neuse in ander lande se sake druk dan sal daar meer geld beskikbaar wees. Die miljoene wat hulle uitgee op vlugte, hotelle en vergaderings is skrikwekkend. Dan praat ons nie eers van al hulle “VOORDELE” wat hulle kry. Hulle het GEEN UITGAWES uit hulle eie sakke , ALLES word betaal deur ons belasting betalers se sakke, selfs hulle kinders se studies, universiteite, selfone en en en . . . . . . . . . . .

piet ·

Delia, hul intreesalaris by die staat is MEER as R70000 per maand, dis meer as ‘n miljoen Rand per jaar. Die R70000 p.m is wanneer hulle hul prakties doen net na hulle afgestudeer het (hulle hospitaaljaar). Dis belaglik verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.