Begrotingsrede: Min groei, meer uitgawes

Geskryf deur: Amanda Visser

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdag ʼn reusagtige taak gehad om ekonomiese groei en ontwikkeling te balanseer met volhoubare openbare besteding.

Die regering het hom dus weerhou van enige drastiese belastingaankondings in die verkiesingsjaar, maar het besluit om in sy eie reserwes te delf om ons skuldlas aan bande te lê.

Ondanks erge druk op die begroting het die staat wel geld gekry om sy salarisrekening te verhoog en die Covid-19-toelaag is vir nóg ʼn jaar verleng.

Verwagte ekonomiese groei vir 2023 is afwaarts aangepas tot 0,6%, hoofsaaklik weens die negatiewe uitwerking van beurtkrag en die powere toestand van die land se spoorvragvervoer en hawens, asook die tol wat hoë inflasie en rentekoerse geëis het.

Verwagte reële ekonomiese groei vir 2024 is 1,3% en die gemiddeld oor die volgende drie jaar is slegs 1,6%. Dit is marginaal hoër as wat die minister in sy mediumtermynbegroting-beleidsraamwerk verwag het.

Die begrotingstekort gaan na verwagting verklein van 4,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) in 2023 tot 3,3% teen die einde van die 2024-mediumtermynbestedingsraamwerk.

“Langtermyngroei is afhanklik van beter kragopwekking, spoorvrag en hawens, en die volgehoue vermindering van strukturele hindernisse in die pad van ekonomiese aktiwiteite,” sê die nasionale tesourie in die 2024-begrotingsoorsig.

Duncan Pieterse, direkteur-generaal van die tesourie, beloof in sy voorwoord dat “breë hervormings” onderweg is. Hy waarsku egter dat dit tyd gaan neem om die gevolge van ʼn wavrag operasionele-, onderhoud- en regeringsbestuurgebreke by sleutelstaatsinstellings reg te stel.

Reserwefonds

Suid-Afrika het egter ʼn groeiende berg skuld wat groot kommer wek. Die regering het nou besluit om in die Suid-Afrikaanse Reserwebank se reserwefonds te delf. Die plan is om R150 miljard oor die volgende twee jaar daaruit te onttrek.

Die fonds is opgebou uit al die verliese en winste op alle wisselkoerstransaksies, om sodoende die sentrale bank teen wisselvalligheid in die wisselkoers te verskans. Die rekening sit tans op R500 miljard weens die beduidende verswakking in die rand.

Die geld wat nou uit die fonds onttrek gaan word, sal gebruik word om die land se leningsbehoeftes by internasionale instellings soos die Wêreldbank en buitelandse banke te verminder. Die nasionale tesourie verwag ʼn verlaging van R30 miljard in die rentekoste alleen danksy dié “meevallertjie”. Die besluit sal egter eers in wetgewing bekragtig moet word.

Inkomste en uitgawes

(Foto: iStock)

Die regering verwag ʼn tekort aan sy belastinginkomste van meer as R56 miljard in die huidige belastingjaar, in ooreenstemming met die verwagting in sy mini-begroting in November.

Belastinginkomste uit persoonlike inkomstebelasting het meer gestyg as wat die regering voorsien het, maar inkomste uit maatskappywinste en belasting op toegevoegde waarde (BTW) het swaar getrek weens die uitwerking van lae ekonomiese groei en die kragkrisis.

Die verwagte inkomste uit persoonlike belasting vir die 2024-belastingjaar word geskat op R738,7 miljard, en R302,7 miljard uit maatskappybelasting. Die verwagte inkomste uit BTW is R476 miljard.

Die regering se totale besteding vir vanjaar is ʼn verwagte R2,37 triljoen teenoor die verwagte inkomste van R1,92 triljoen.

Die belt vir staatsamptenare is nog losser gemaak met ʼn bykomende R58 miljard om salarisse vir onderwysers, dokters, verpleegsters en ander staatsamptenare te verhoog. Die algehele bykomende uitgawe vir staatsdienssalarisse op medium termyn beloop R251 miljard.

Ander druk

Godongwana verwag ʼn matige verbetering in ekonomiese vooruitsigte, gegewe die verlaging in inflasie van 6% verlede jaar tot 4,9% vanjaar en 4,6% in 2025. Die verlaging is uiteraard afhanklik van laer voedsel- en brandstofinflasiesyfers.

Voedselinflasie het verlede jaar stadiger verlangsaam weens die stremmende beurtkrag en die verswakking van die rand, wat voedselpryse hoog gehou het. Die voëlgriep-uitbreking het ook die pryse van hoender en eiers beïnvloed.

“Hierdie faktore gaan na verwagting op medium termyn verwater. Soos wat die oliepryse bestendig ná die piek met die uitbreking van die Rusland-Oekraïne-oorlog, sal die stygende plaaslike brandstofpryse begin verlaag.”

Godongwana verwag dat die begrotingstekort op medium termyn sal verlaag tot 3,3% en dat ons skuldlas sal stabiliseer op 75% van die BBP in 2025. Dit is effens laer as die 77,7% wat in November voorsien is.

Die regering het geen aankondiging gemaak oor die instel van ʼn basiese inkomstetoelaag om die Covid-19-toelaag te vervang nie, maar het wel R33,6 miljard begroot om die Covid-19-toelaag met nog ʼn jaar te verleng.

Godongwana het in sy toespraak verwys na die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en R1,4 miljard oor die volgende drie jaar daaraan toegewy. Die regering sê hy bly verbind tot dié plan van hom. Die regering het ook R7 miljard opsygesit vir die presidensiële indiensneminginisiatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nogal skokkend! Die regering se totale besteding vir vanjaar is ʼn verwagte R2 370 000 000 000 000 000 teenoor die verwagte inkomste van R1 920 000 000 000 000 000. Waar gaan dit eindig?

Andre ·

…die A en C werk nou net vir verkiesingstemme!
Nà die verkiesing gaan alles weer terug na normaal en sit die kaders weer aan by die trog.

Papsak ·

Die anc werk om verkiesing te wen nou doen hulle dit daar lankal nie meer covid 19 nie so hulle sorg vir hulle families daarom gaan dit so dit moet hierdie verkiesing vinnig gestop word SA gaan heeltemal rus dan ???????

Di ·

Dis agv van “toelaes” dat dieANC die meerderheid se stemme behou! Daarom dat hulle die toelae vir nog ‘n jaar verleng. Die verkiesing is naby en die 18 miljoen wat hierdie toelae ontvang, moet hulle kruisies gaan trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.