Bejaarde boer, werker aangeval

grond plaas boer trekker

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

’n 80-jarige boer en ’n werknemer is vandeesweek helder oordag op sy plaas in die omgewing van Camperdown in KwaZulu-Natal aangeval en beroof.

Twee verdagtes is kort ná die aanval in hegtenis geneem in besit van ’n vuurwapen wat byna tien jaar gelede tydens ’n rooftog in ’n ander provinsie gesteel is. Die polisie stel nou verdere ondersoek in.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê die bejaarde boer en sy werknemer is Woensdag omstreeks 13:00 deur twee gewapende mans op sy plaas oorval. Hulle is deur die aanvallers aangesê om op die grond te lê voordat hul hande vasgebind is. Die aanvallers het op die plaashuis se sleutels aangedring.

Die boer het die stel sleutels oorhandig en die aanvallers is van daar af na die plaashuis waar hulle ’n skootrekenaar, verkyker, herlaaibare lig, oorfone, gholfsak en tuisteaterstelsel gesteel het.

Die boer en werknemer kon hulself loswikkel en het ’n buurman gebel wat dadelik die polisie en ander wetstoepassers ontbied het.

Die polisie het ’n ondersoek gelas en twee verdagtes, tussen 27 en 32 jaar oud, is later naby die misdaadtoneel in hegtenis geneem in verband met die aanval.

Die twee verdagtes is in besit van die gesteelde besittings asook ’n vuurwapen gevind. ’n Ondersoek het sedertdien aan die lig gebring dat dié betrokke vuurwapen in 2013 tydens ’n rooftog in Mpumalanga gesteel is.

’n Man (42) is destyds gedurende dié voorval deur vier aanvallers in Georgedale oorval en met die dood gedreig. Sy vuurwapen is tydens die voorval gesteel.

“Die profiel van albei verdagtes sal saamgestel word om vas te stel of hulle met enige ander sake verbind word,” sê Mbele.

Die verdagtes sal Vrydag in die landdroshof in Camperdown verskyn op aanklagte van roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Kriminele dink hulle kan vir ewig wegkom met misdaad! Jou sondes haal jou wel in, dis verseker. Hoop die gemors sit lank in die tronk

Erika ·

Dit is mos lekker om eerder ander se goed te vat waarvoor ander hard gewerk het. ne. as deur eerlike harde werk
En die slagoffer te speel… as jy krimeneel vervolg word.en aanspreeklik gehou word vir jou dade

Anel ·

‘n Ou man van 80!!! En vanmiddag lopp hulle seker weer ro d nadat hulle R50. 00 borg betaal het, of nog beter, kon nie met die misdaad verbind word nie. Hoop van harte ek word verkeerd bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.