Bejaarde kan weer hoor ná boewe gehoorstukke buit

Dr. Marinda Uys saam met Ria de Beer en Suzette Oosthuizen. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se tak vir gehoorgestremdes het onlangs gesorg vir nuwe gehoorstukke vir ʼn bejaarde van Pretoria wat in ʼn aftreeoord aangeval en beroof is van byna al haar besittings, insluitend haar gehoorapparate.

Die 77-jarige Ria de Beer is op 17 Januarie omstreeks 04:00 oorval, aangehou en beroof toe twee mans toegang verkry het tot haar huis in die Agapé-aftreeoord in Pretoria.

“Toe ek wakker skrik, het daar twee mans in my kamer gestaan en hulle het vir my gewys ek moet stilbly,” het Ria vertel.

“Ek het saamgewerk, want ek wou nie skreeu en dan veroorsaak dat van die ander inwoners in gevaar kom nie.”

Sy het in haar bed bly lê terwyl hulle haar kamer geplunder het – van haar handsak, eetgoed en selfoon tot toiletware en die houertjie waarin haar gehoorstukke was.

Helpende Hand se tak vir gehoorgestremdes het met behulp van die Oorinstituut in Queenswood, Pretoria, nuwe gehoorapparate ter waarde van sowat R35 000 vir Ria aangeskaf.

Dr. Marinda Uys saam met Ria de Beer. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand en die Oorinstituut het met hierdie gebaar, wat onder die vaandel van Helpende Hand se HelpHoor-projek gedoen is, Wêreldgehoordag op 3 Maart gevier.

Die HelpHoor-projek poog om tweedehandse gehoorapparate, wat deur weldoeners geskenk is, te laat diens en aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel.

Ria het gesê die hulp wat sy ná die nagmerrie ervaar het, veral van haar kerk, die NG gemeente Queenswood, is ongelooflik.

“Ek het nie geweet daar is nog so baie mense wat omgee en uitkyk vir mekaar nie.”

Ria het die Oorinstituut se oudioloog, dr. Marinda Uys, en Helpende Hand se Suzette Oosthuizen geloof vir hulle ondersteuning.

“Ons is bly dat ons ter viering van Wêreldgehoordag weer die wêreld vir iemand kon oop sluit en die stilte verbreek, sodat sy kan radio luister, televisie kyk en oor die telefoon kan praat,” het Suzette gesê.

“Ons kan nie die trauma van die inbraak wegvat nie, maar ons kan haar weer in verbinding met die buitewêreld sit.”

Marinda, ʼn senior oudioloog en lid van die tak vir gehoorgestremdes, het gesê die Oorinstituut is trots om by Helpende Hand se HelpHoor-projek betrokke te wees.

“Ons wil graag iets aan die gemeenskap teruggee. Gehoor is ʼn gawe waarsonder die lewe verskriklik eensaam kan word. Ons wil mense help om weer te kan hoor sodat hulle aktief aan die aktiwiteite rondom hulle kan deelneem en sosiale interaksie met vriende en familie kan geniet,” het Marinda gesê.

Vir meer inligting oor die HelpHoor-projek, besoek Helpendehand.co.za of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jr ·

Sunette Oosthuizen ons aardlikse engel wat saam met haar mense so baie vir Carletonville gedoen het. Dankie dame u is tops

Marcello ·

Uitstekende werk Helpende Hand, ek is so bly die tannie kan weer hoor. Dit is baie erg as ‘n mens nie goed kan hoor nie, en jy nie die fondse het om dit te kan verbeter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.