Bejaarde sterf toe vragmotor voertuig tref

Die 89-jarige vrou was in die voertuig vasgekeer. (Foto: ER24)

ʼn 89-jarige vrou is Donderdag in Potchefstroom, Noordwes, dood nadat haar voertuig met ʼn vragmotor gebots het. Die ongeluk het kort voor 13:00 in Du Plooystraat plaasgevind.

Die vrou se identiteit is nie bekend nie.

Volgens Ineke van Huyssteen, woordvoerder vir ER24, was die vrou met nooddienswerkers se aankoms op die toneel in ʼn kritieke toestand. Sy was ook in die motor vasgekeer.

“Brandweerdienste moes haar met spesiale toerusting uit die wrak bevry.

“ER24-paramedici het die vrou van gevorderde lewensondersteuning voorsien en haar na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer. Sy het egter kort na haar aankoms by die hospitaal aan veelvuldige beserings beswyk.”

Die presiese omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is nie in dié stadium bekend nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.