Bejaardes glo op kleinhoewe gemartel

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn bejaarde egpaar Saterdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe buite Krugersdorp aan die Wes-Rand aangeval en na bewering met kookwater gemartel is.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder vir Gauteng, het Maandag aan Maroela Media gesê die egpaar, albei in hul 70’s, is Saterdag omstreeks 03:00 in hul huis op ʼn kleinhoewe in die Tarlton-omgewing deur ʼn onbekende aantal aanvallers oorval en beroof.

Maroela Media het verneem die man en sy vrou is tydens die voorval vasgebind en aangerand. Die man is bedlêend en is glo met kookwater gemartel. Die aanvallers wou ook glo die vrou met ʼn strykyster brand, maar iets het hulle versteur en hulle het na bewering met ʼn vuurwapen en geld op die vlug geslaan. Die vrou kon daarin slaag om haarself ná drie uur te bevry, waarna sy hulp van die bure ontbied het.

Makhubele wou nie bevestig of die slagoffers wel gemartel is nie. Hy het bevestig dat huisware tydens die voorval geroof is, maar kon nie presies sê wat nie. Alle omstandighede rakende die voorval sal egter ondersoek word.

Hy het gesê die slagoffers is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. Hul toestand kon nie dadelik bevestig word nie.

Die Tarlton-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Natan ·

Krugersdorp en Tarlton is in die Wes Rand. Oos Rand is verkeerd. Hou koers.

Tania Heyns ·

Dagsê Natan

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Tania Heyns ·

Dagsê Louw

Dankie vir jou kommentaar. Krugersdorp is inderdaad aan die Wes-Rand. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Wilna Strauss ·

Tarlton en Krugersdorp is geleë aan die Wesrand…

Tania Heyns ·

Dagsê Wilna

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Meraai ·

dit is verskriklik wat hulle aan die ou mensies doen. Maroela is Krugersdorp nie Wes-Rand nie?

Tania Heyns ·

Dagsê Meraai

Dankie vir jou kommentaar. Krugersdorp is inderdaad aan die Wes-Rand. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

jakes ·

Hulle is lafaards wat net weerlose mense kan aanval. Sal hulle nie vang nie want hulle is mos goudwerd vir die regering.

Kwaad ·

Miekie, ek stem 100 persent saam met jou! Sies man, arme ou mensies. Hoekom hul martel? Is alreeds so erg, net om beroof te word. Maak my ongelooflik kwaad.

Rooi Jan ·

Ek sit ook weereens en wonder as jy n ou mens wat al klaar bedlêend is met kookwater martel en sy ewe swak vrou ook sou dit nie ten minste poging tot moord regverdig nie? Ek meen as jy n 39 kabeldief in n doodskis prop sonder om eers met n wapen aan te rand dan is dit poging tot moord.

Alida ·

Liewe hemel wat maak dit saak of dit Oos, Wes, Suid of Noord is. Kom tog by. Daar is twee ou mense gruwelik aangeval maak nie saak waar dit is nie.

Pik ·

Stem saam Alida mense sien nie die groter prentjie nie : teachers pets soos ek hulle ken baie hartseer dat mens nerens meer veilig voel nie sterkte aan die oom en tannie

Jacques ·

Maroela , kan julle nie n berig plaas as julle meer inligting het nie , want nou plaas julle iets soos die een wat net die heel se ” dit en dat kan nie bevestig word nie ” . Poging tot moord klink vir my baie beter as huisroof met twee weerlose oumense wat verniel is .

Liezl ·

Hi Jacques, Maroela plaas berigte soos hulle dit ontvang. En die mensdom is mos maar nuuskierig. Nou lees ons in elk geval, maak nie saak hoe min die inligting is nie. Dan gee dit jou darem ook ‘n idee waar en wat het nou gebeur. Tot die volgende keer wat jy weer Maroela oopmaak en daar het jy al die inligting. Geniet die berigte vir wat dit is, dit is immers verniet. Gaan lees dan ‘n dagstukkie of twee en as jy weer vir jou kom kry, dan het daar 10 ander goed al gebeur.

volla ·

Ek neem alle “na bewering” berigte met ‘n knippie sout.

Petro Benade ·

Net een persoon kan in ou mense in hul sewentigs se huis ingaan en vir hulle se sit en moenie beweeg nie en vat wat hulle wil he sonder om hulle te martel of dood te maak, Hulle gaan nie eintlik om te roof nie maar definitief om wit mense te verneder, beseer of moor. Roof is net ‘n bysaak.

Lizelle Gibson ·

Vir watter rede wil die Polisie nie bevestig of hulle gemartel is i nie. Is dit omdat dit net nog n aanval om oumense is? Feite bly feite, noem dit by die naam.

Joyce ·

Wanneer sal die publiek leer dat bejaardes nie “ou mensies” is nie. Ons lewe nog onafhanklik, baie werk nog en dra positief by tot die ekonomie/gemeenskap. Dis seker goed bedoel, maar dit word nie so goed ontvang ni.

Bekommerde ·

Lafaards – om oues aan te val. Sterkte aan almal betrokke. O Heer wees ons genadig & werk in die harte van almal wat bose planne bedink. Net U kan uitkoms gee!.

Buiteland ·

Maak die fotos bymekaar en versprei dit aan die buiteland as bewysstukke.

Geronimo ·

Is dit moontlik om uit te vind wie die slagoffers is – dit mag dalk ons bure wees?

ES ·

Absoluut siek! Instede daarvan om net waardevolle besittings te vat en weg te kom, martel hulle die oumense wat nie hulself kan verdedig nie… dit is HAATMISDAAD, niks anders nie.

anoniem ·

Daar sal nie bevestig word of hulle gemartel is nie want dan kom die waarheid oor die onmenslik aksies mos nou uit. Wens hulle wil mense wat eintlik terug kan veg probeer aanvat, maar nee ons arme ou mensies is mos eerste op die lys… Aksies van ‘n lafaard

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.