Bekende platejoggie pleit om siek vrou terug in SA te kry

LuWayne en Crystal (Foto: Verskaf)

ʼn Bekende Kaapse platejoggie, LuWayne Bouwers, se lewe het onherroeplik verander toe sy vrou bloeding op die brein gekry het na die geboorte van hul jongste dogter.

Crystal en LuWayne se dogtertjie is op 5 Oktober in Doebai gebore waar die gesin die afgelope vyf jaar woon.

Ná die geboorte het ʼn slagaar in Crystal se kop gebars wat bloeding op die brein veroorsaak het; van die weefsel in die brein is in die proses beskadig.

Só het LuWayne vertel in ʼn hartroerende video wat hy op 29 Oktober op sosiale media gedeel het.

Crystal is sedert 5 Oktober in ʼn koma. Sy kan nie praat nie en die regterkant van haar lyf is sedertdien verlam.

“Dit was tot dusver vir my ʼn baie moeilike maand. Hier sit ek met ons drie dogters, van onderskeidelik sewe, drie en een en ʼn half maande oud. Hulle verstaan nie wat aangaan nie. Die jongste het nog nie eers haar ma ontmoet nie. Deur God se genade is hul siele darem rustig,” vertel LuWayne in die video.

“Ek het nog nie die dogters gevat om vir hul ma te gaan kuier nie. Ek wil nie hê dat my dogters hul ma in só ʼn toestand sien nie.”

LuWayne vertel ook hoe moeilik dit vir hom was om vir Crystal in die hospitaal te gaan kuier.

“Sy het leweloos met een oog oop gelê. Ek het geweet sy kan my sien en is bewus van my, want as ek met haar gepraat het, het sy haar linkerhand opgelig. Dit het my hoop gegee dat dinge sal beter word.”

En dit het toe ook.

LuWayne en Crystal op hul troudag (Foto: Verskaf)

Sy het intussen verskeie prosedures ondergaan en het begin vandeesmaand uit die koma wakker geword. Crystal kan steeds nie praat nie en is nog aan masjiene en voedingspype gekoppel. Daar is ook al effense beweging aan die regterkant van haar lyf.

LuWayne het in die video gepleit vir skenkings om te help om Crystal terug na Suid-Afrika te bring waar sy haar behandeling kan voortsit, asook rehabilitasie en fisioterapie kan ondergaan.

Die koste hieraan verbonde beloop egter duisende rande. ʼn Back-a-buddy-fondsinsameling is van stapel gestuur om LuWayne in sy poging te help.

“Dit is geld wat ek nie nou het nie. Al wat ek weet, is dat ek my vrou by die huis moet kry. Ons hele familie wil net teruggaan huis toe. Ek pleit by julle om ons asseblief te help.”

LuWayne is tans in gesprek met mediese praktisyns in Kaapstad om die nodige planne te beraam om Crystal veilig van Doebai na Kaapstad oor te plaas en ook oor haar verdere mediese behandeling daarna.

Die gesin het wel ʼn mediese fonds wat hul mediese uitgawes in Doebai dek.

Voordat Crystal siek geword het, het sy ʼn bestuursposisie by ʼn topagentskap in Doebai beklee. LuWayne het bedags tuisgebly en na die kinders omgesien. Hy het snags as platejoggie by gewilde nagklubs en onthaalplekke opgetree.

LuWayne hou ook op 22 November ʼn aanlyn konsert saam met verskeie platejoggies om geld vir sy vrou se terugkeer na Suid-Afrika te help insamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Dis seker verstaanbaar om te wil terug kom “huis” toe, maar ek sou dink hulle mediese sorg is beter daar as hier. Ek persoonlik sou wag dat sy sterker word. Sterkte aan julle as familie.

Regverdigheid ·

Hartseer sterkte hoop en bid dat dinge uitwerk vir julle .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.