Bekende sjef en kosskrywer sterf

Fatima Sydow het in die ouderdom van 50 gesterf. (Foto: Fatima Sydow Cooks/Facebook)

Die bekende sjef en kosskrywer Fatima Sydow is Dinsdag 19 Desember in die Vincent Palotti-hospitaal in Kaapstad dood. Sy was 50 jaar oud.

Sydow was veral bekend vir haar Kaaps-Maleisiese resepte en het in 2015 die kookboek The Journey of Cape Malay Cooking with Fatima Sydow uitgereik. Nog resepteboeke, Cape, Curry & Koeksisters, asook Fatima Sydow Cooks en haar laaste boek, My Story, My Heritage, het gevolg.

“Dit is met diep hartseer dat ons, die Sydow-familie, die afsterwe van ons liefste sussie, Fatima, bekend maak. As ʼn gerekende koskunstenaar en geliefde persoonlikheid het sy ʼn merk in die koswêreld gelaat,” lui ʼn verklaring wat haar familie Dinsdag uitgereik het.

“As ʼn familie sê ons dankie vir die liefde en ondersteuning in hierdie moeilike tyd.”

Sagteweefsel-sarkoom is in 2020 by Sydow gediagnoseer, ʼn seldsame soort kanker wat ontwikkel uit sagte weefsel soos vet, spiere en senuwees. Sy het haar stryd teen kanker met haar volgelinge gedeel, en het in Julie vanjaar bekend gemaak dat haar kanker tot fase 4 gevorder het.

“Derde jaar. Sagteweefsel-sarkoom, fase 4-kanker. ʼn Ongelooflike seldsame en aggressiewe soort kanker. Ek is so dankbaar vir die tyd wat tot nou toe my gegun is … soveel genade,” het Sydow vroeër vanjaar op Instagram geskryf.

Sy het in dié plasing ook bekend gemaak dat die chemoterapie wat sy tot dusver ontvang het, nie gewerk het nie, en dat haar gewasse gegroei het. Sy het in Augustus vanjaar gevra dat volgelinge haar BackaBuddy-geldinsameling ondersteun, waarna meer as ʼn 1 000 skenkings gemaak is om sowat R750 000 in te samel.

Kaapse musikante en kunstenaars het in Oktober vanjaar ʼn geldinsamelingskonsert vir Sydow in die Kunstekaap-teater in Kaapstad gehou.

Haar begrafnis het vandag (20 Desember) in Lansdowne, Kaapstad, plaasgevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.