Bela-wetsontwerp: Raak betrokke, vra DearSA

(Foto: Pixabay)

Die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, beter bekend as die Bela-wetsontwerp, bly ʼn groot bron van kommer vir talle organisasies – en daar is hernieude oproepe vir mense om hul insette oor die omstrede konsepwet – hetsy ten gunste daarvan of gekant daarteen – in te dien.

Die organisasie DearSA het nou ʼn veldtog van stapel gestuur om groter openbare insette oor die wetsontwerp te vergemaklik. Dit word gedoen in reaksie op ʼn sosialemediapeiling waarin die wetsontwerp – wat beduidende veranderinge aan die bestuur van skole landwyd voorstel – heelwat kritiek ontlok het.

Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA, sê die meeste deelnemers is teen die wetsontwerp gekant.

“Openbare sittings het in Johannesburg en Kaapstad begin en het reeds verskeie uiteenlopende menings opgelewer. Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om by hierdie proses betrokke te raak om ons land se onderwystoekoms te help vorm.”

Sommige burgerlike organisasies eis dat die wetsontwerp in sy geheel laat vaar word omdat dit “ongrondwetlik en verouderd is”, veral met verwysing na moderne skoolonderrig.

Sommige kritici meen ook die wetsontwerp sal te veel mag oor skole in die hande van die staat sentraliseer en inbreuk maak op ouers se grondwetlike reg om self oor hul kinders en skole se belange te besluit.

“Diegene wat ten gunste van die wetsontwerp is, meen dit sal die gehalte van die onderwysstelsel verbeter, veral vir minderbevoorregte huishoudings,” sê Joubert.

“Ondersteuners daarvan glo ook die voorgestelde insluiting van departementshoofde by die bepaling van taal- en toelatingsbeleid sal die beweerde diskriminerende praktyke van sommige skoolbeheerliggame verminder.”

Volgens Joubert het ʼn klousule wat opsetlike ontwrigtings van skoolaktiwiteite kriminaliseer, ook positiewe terugvoer ontvang.

Ander voorgestelde wysigings sluit in:

  • Beheer oor taalbeleid en leerplanne wat by departementshoofde berus;
  • gr. R word die verpligte beginnersgraad, nie gr. 1 nie;
  • vereiste registrasie vir tuisonderrigleerders;
  • kriminalisering van ouers wat nie skoolbywoning vir kinders verseker nie;
  • verhoogde aanspreeklikheid oor finansiële openbaarmaking vir skoolliggame;
  • afskaf van lyfstraf en ontgroening; en
  • toelaat van skole om drank buite skoolure te verkoop.

Volgens Joubert het veldtogdeelnemers wat tuisonderrig verkies aangedui dat die departement van basiese onderwys nie dié sektor behoorlik geraadpleeg het nie, met min navorsing wat gedoen is voordat die wetsontwerp opgestel is.

“Kritici voer aan dat die wetsontwerp se voorstelle, soos om ʼn onafhanklike assessor in diens te neem, daarop gemik is om tuisonderrigkoste te verhoog en ouers te ontmoedig om hierdie opsie te oorweeg.

“DearSA is toegewy aan die bevordering van demokrasie en deursigtigheid in Suid-Afrika. Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om by te dra tot hierdie konsepwysigings voordat dit wet word. Jou insette is noodsaaklik om te verseker dat die finale uitkoms alle burgers se behoeftes en belange verteenwoordig,” lui Joubert se oproep aan belanghebbendes.

  • Lewer jou inset hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Fontein Tannie ·

Die Staat het reeds bewys dat alles waaraan hulle vat verander in… (nie goud nie). Hulle het reeds gefaal in alle ander sektore onder hulle beheer, waarom die Skole ook dan in ‘n reeds onbekwame Goewerment se hande plaas?

Yolandie ·

Die Bela wet moet ten alle koste gestop word. Van 1994 toe hierdie kanker ons land regeer het het hulle alles in die grond in vertrap. Om nie eers te praat van in watter toestand die onderwys reeds is agv hulle nie. So waar moet ek teken om dit ten alle koste stop te sit????

Wonder ·

Los ons skole want dit gaan soos ons drink water op eindig, julle halwe vingers in di pie (skool) is klaar besig om dit in n ramp te verander, meeste kinders kan nie lees nie die skool hand boeke is n gemors.

Mariana ·

Bid jou aan hulle baklei vir drank wat buite skool verkoop word. Hoe bring hulle die drank by die skool uit. Het ons dan nie al genoeg van alkohol misbruik in die land nie. Om kinders nog meer daaraan bloot te stel is verregaande. Die hele ontwerp stink. Die mense wat dit uitgedink het,het wraggies nie mooi gedink nie. Die flop- staat wil als beheer maar faal al klaar in alles. En op die einde is dit die leerders en ouers wat daaronder ly.

Jakkie ·

Drank betrokke hier vermoed ek is by klubhuise van skole op sporttereine waar ouers ietsie wil vat na die wedstryde. Ek glo steeds drank hoort nie op ‘n skool se sportterrein/skoolgronde nie

Fluisterwind ·

Om skole toe te laat om alkohol buite skoolure te verkoop: Hierdie verandering is omstrede . Alhoewel dit ‘n potensiële inkomstebron vir skole kan verskaf, wek dit ook kommer oor die impak op die skoolomgewing, studentewelstand en potensiële risiko’s verbonde aan alkoholmisbruik.

Jakkie ·

Verskeie organisasies is besig bv. Fedsas, Governingbody Foundation, SA Onderwysersunie, Afriforum ens. ens. en het reeds verskeie voorleggings gedoen en openbare verhore bygewoon.

Misky ·

So die skool moet na ure as sjebeen bedryf word????? Hulle verbaas my elke dag en ek kan nie glo wat ek lees nie.

Wonder ·

Dan kan drankwinkels ook mos na ure drank verkoop hulle maak glad nie sin nie, dis weer lekker geld maak storie die

Wonder ·

Ek wou die website adres hier op sit maar dit word nie aanvaar nie, gaan google bela law petition.

Andre ·

Die beleid moet met grootste minagting verwerp word wat dit verdien.Hierdie kommunistiese regering het geen se oor ons en ons kinders nie klomp sataniste!!

skurweberg ·

‘n Drenkeling red jy om ‘n reddingsboei na hom te gooi, nie om jou eie lewe ingevaar te stel nie.

Andrew ·

Die vereiste van registrasie vir tuisonderrigleerders is net vir die wat die nationale eksamen skryf, neem ek aan? Dus die departement se eksamen.

Andrew ·

Die meeste afrikaanse skole op die plateland is lankal dubbel medium en hou n paar onderwysers nog half iets hier en daar aan die gang. Maar namate n skool sy Afrikaanse studente verloor, wat by die stad skole ook gebeur , dan hoef jy net na twee jaar na die sport velde se toestand te kyk om te weet dat die kinders in daai nuwe skool gemeenskap nie die “ontvangde verbeterde onderwysstelsel” ten volle benut nie. Na nog n paar jaar kan jy aan die geboue en algehele terrein sien dat so n skool nie meer n gemeenskap het wat gehalte onderig koester nie en het die “model C” model in elk geval nie gewerk nie. Namate buurte verander en mense trek agter estates en hulle privaat skole aan gaan meer en meer skole verval soos wat buurte se bevolking verander. Baie mense was in daai skole 30 jaar terug en sal weet hoe dit nou daar lyk. Kies maar n paar skole en probeer hulle by die staat koop, Vir die Christene wat die Afrikaner kultuur koester is daar die BCVO.

Impact ·

Hierdie moet ten alle koste gestop word!!!!! Die useless ANC wil net stemme werf met al hierdie skielike veranderinge wat aan die orde van die dag is.

annie ·

… ook drank te verkoop. Is dit nou om die skoolfonds te groei? Wat van cannabis ok? Die persoon met dié voorstel verdien die presidentsmedalje en ‘n ministerskap met ‘n groot salaris en ‘n gratis groot drankafleweringswa as staatsmotor. Daar sal nie ‘n tekort aan motorbestuurders en beskermingsdienste wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.