‘Bela-wetsontwerp wil skole kaap’

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Solidariteit het Maandag aangekondig dat hy kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (algemeen bekend as die Bela-wysigingswetsontwerp) sal indien. Dié wysigingswet is vanoggend vir kommentaar gepubliseer.

Volgens Solidariteit is die bedoeling van hierdie wysigingswet om beheerliggame van hul regte te stroop en meer mag in die hande van die staat te plaas om so die reg toe te eien om selfs die onderrigtaal van ʼn skool te kan verander. “Die staat is duidelik besig om die land se skole te probeer kaap. Deur hierdie wysigingswetsontwerp wil die staat die regte van die beheerliggaam, dus die ouers, wegneem en in die hande van politici plaas,” sê Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

“Die agenda met betrekking tot toelatingsbeleid en taal is duidelik – die regering wil vír ons besluit wat goed is vir ons kinders. Wat veral kommerwekkend is, is dat van die wysigings ʼn direkte en beperkende impak op die bestuur van skole en die regte van beheerliggame het.”

Daar word onder meer in die wysigings genoem dat toelatings- en taalbeleide voortaan onderhewig sal wees aan die goedkeuring van die hoof van die departement. Gevolglik word ʼn kardinale funksie van beheerliggame weggeneem, voeg Van Vollenhoven by.

Volgens Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), is bepalings wat Afrikaanse onderrig inkort en skoolbeheerliggame se reg op die bepaling van hul taal- en toelatingsbeleid en selfstandige besluitneming kortwiek, ongrondwetlik en moet geskrap word.

“Die SOS steun Solidariteit se veldtog teen bepaalde wysigings in die derde weergawe van die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette wat pas gepubliseer is,” sê Buys. “Ons moedig skole – en individue – aan om veldtogte te ondersteun en ook individuele kommentaar teen die wysigings in te dien, aangesien afsonderlike kommentare dieselfde hanteer word as petisies en diepgaande regsmenings deur groot organisasies.”

Van Vollenhoven is voorts van mening dat beheerliggame van kardinale belang is vir die suksesvolle bestuur van skole en om te verseker dat daar in elke skool se unieke behoeftes voorsien word. “Juis omdat daar ʼn gedeelde ervaring is tussen ouers en kinders in samewerking met die skool, maak ouers wat in beheerliggame dien omvattende en weldeurdagte planne vir skole. Dit is nie die staat se taak om oorhoofs op te tree op ʼn wyse wat teenstrydig is met die oogmerke van die Grondwet nie.”

Van Vollenhoven meen die staat is duidelik besig om buite sy perke op te tree. “Sy verantwoordelikheid is die daarstel van infrastruktuur, opleidingsgeleenthede en hulpbronne, asook natuurlik die bou van skole. Dit is nie om terug te keer na ʼn burokratiese stelsel waar hy skole vanuit sy kantoor beheer en ʼn politieke agenda en ideologie kan afdwing nie.

“Solidariteit sal kommentaar hierteen indien. Ons sal vas staan en ons skole en onderwysers ten alle koste teen die magsbeheptheid van die staat beskerm. In Suid-Afrika het ons minder staat in ons skole nodig, nie méér nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henri ·

Skole se outonomiteit van politieke inmenning moet beskerm word. Ek probeer my bes om deel te neem aan die openbare kommentaar-prosesse, soos hierbo genoem (bv. DearSA).

Dis hartseer hoe die ANC sý weergawe van Midas se hand oral laat voel en nie wil ophou vat nie. Want alles waaraan hulle raak, verander glad nie in goud nie…

annie ·

Die ANC wil nie skole bou nie, nogal soos koekoekvoëls wat bloot ander voëls se kleintjies uit hul neste skop en eiers in hul plek lê. En dan kom die ander voëls terug met kossies en voer ewe liefies ander se kleintjies tot hul spekvet is. Hul werk hul dood want koekoeke is gulsig en word gou yslik groot. Maar interessant is daar van die voëls wat nie val vir die grap nie en neste elders gaan bou en meer interessant is dat parassietvoëls lugtig is vir daai voëls en hul neste. Navorsers meen dit is om te verseker dat daar altyd slawe oor sal wees om die adelikes se kroos te versorg en hul baas bly.

Jasmyn ·

Ek stem saam… hou die regering uit. Keer ook asb terug na kleiner klasse sodat kinders weer meer individuele aandag kan ontvang. Die groot hoeveelheid kinders per klas veroorsaak erge frustrasies by die kinders en onderwysers. Die kinders begin uit frustrasie met mekaar baklei en onderwysers kan nie hul oë op al die kinders gelyk hou en almal gelyk beheer nie. Dit is ook onaanvaarbaar dat kinders deesdae hul hande vir onderwysers mag oplig terwyl onderwysers nie terug straf mag uitdien nie. Kinders ruk reeds in kleuterskole so hand uit dat dit kompleet lyk of satan in beheer van al die kinders se lewens is. Kinders het geen respek vir onderwysers nie. Baie weier sumier om hul opdragte uit te voer en dan is baie skoolhoofde en skool eienaars ook te slap om die ouers in te lig. Bring die Christelike godsdiens onderrig van vroeër terug…. die Here het nie verniet gesê ouers moet hul kinders tugtig nie. Ń ligte hou op die hand of boud kan weer gehoorsaamheid en respek by kinders kweek.

Andrew ·

As n Christen moes jy maar eerder die pannekoek geldjie agter die CVO gegooi het. Nou te laat daai geld is gemors, een vir een val die Afrikaanse voorige model C skole en dit gaan moelik wees om die beheerliggaam se seggenskap te beskerm aangesien al die skole deur die staat besit word (al het jou oupa die saal geskenk), en ons konstitusie plek maak vir “retribution en reconciliation” bo taal en kultuur. Dit meen die reg van almal om skool toe te gaan is groter as die individu se reg om skool te gaan net in sy taal, dit geld nou vir openbare (staat) skole. Dit was duidelik uit die Rivonia laerskool se uitspraak en vele ander waar beheerligame bloedneus ontvang het oor taal en toelatings beleide, en op die ou end dubbel medium geword.

Staat bou nie ander skole nie want daar is nie genoeg geld nie so hulle gaan nie die Afrikaanse skole aan julle terug verkoop nie behalwe as dit 150km ver van enige bewoonde nedersetting of dorp is en sy ruite al in die 70’s uitgegooi was.

Nette ·

Hulle moet begin kyk na dit wat regtig saakmaak in die land en ophou met hulle selfbejammerinde politieke speletjies!

Renier johannes ·

Tyd dat die anc val hulle vernietig alles wat hulle aan raak onbevoeg

Elizabeth ·

Sluit Lesufi op en gooi die sleutel in die see. Hy is slegte nuus vir onderwys met ñ reuse agenda teen Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.