Beleërde Unisa vaar nietemin beter wêreldwyd

Die Unisa-kampus in Sunnyside. (Foto: Izelle Jacobs/Unisa)

Unisa het sy posisie op ʼn wêreldranglys vir universiteite verbeter, ondanks groot uitdagings wat die instelling oënskynlik in die gesig staar.

ʼn Herrie woed oor ʼn uitgelekte verslag van ʼn ministeriële taakspan wat bevind het dat Unisa ʼn gekaapte instelling is waar ʼn netwerk van korrupsie inslag gevind het. Sommige van die bevindings in die verslag sluit in dat die raad ontbind en Unisa onder administrasie geplaas word.

Unisa het vroeër gesê hy het die verslag – wat steeds nie amptelik bekend gestel is nie – nog nie gesien nie. Die universiteit het teruggekap en ontken dat Unisa kwansuis kwalifikasies verkoop. Hy het berigte waarin die gehalte van sy programme en navorsing in twyfel getrek word, verwerp en dit as “doelbewus misleidend, kwaadwillig en onakkuraat” bestempel.

Volgens die universiteit word sy kwalifikasies deur die Raad van Hoër Onderwys geoudit en alle kwalifikasies word by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geakkrediteer. Bedryfsliggame doen ook assessering van studierigtings.

Unisa sê sy studiemateriaal is beskikbaar vir portuur- en akademiese beoordeling én kritiek. “Uiteenlopende studente, van wie talle nie deur klein, tradisionele universiteite verwelkom word nie, en wat gespesialiseerde studiehulp benodig, voltooi hul studie deur Unisa.”

Unisa het ook sy navorsingsvermoëns en uitsette verdedig.

“Die universiteit verseker sy studente, wêreldwye alumni en lede van die publiek dat hy, nes oor die afgelope 148 jaar, sal voortgaan om beroemde gegradueerdes te lewer wat denkleiers en suksesvolle plaaslike en internasionale leiers van die openbare, private en burgerlike sektor sal word.”

Oor die afhaal van sertifikate sê Unisa buite die konteks van Covid-19 word studente se kwalifikasies gewoonlik in hul hande tydens gradeplegtighede gegee. Dié gradeplegtighede is weens die pandemie opgeskort en Unisa moes minstens 60 000 sertifikate met koeriers laat aflewer. Om die gevare hieraan verbonde te verminder, kon studente hul sertifikate by Unisa se streekkantore afhaal. Dit het ingesluit sertifikate wat sedert 2017 nie afgehaal is nie.

Intussen het Unisa te midde van die herrie die verbetering van sy posisie op die 2022 Times Higher Education Emerging Economies University Rankings verwelkom.

Unisa val in die segment 201-205, terwyl dit in die 2021-indeks in die 251-300-kategorie geval het.

Unisa is een van 11 Suid-Afrikaanse universiteite op die lys. Ander universiteite op die lys is Wits (15), die Universiteit van Kaapstad (16), Stellenbosch Universiteit (24), die Universiteit van KZN (57), die Noordwes-Universiteit (96), die Durban-Universiteit vir Tegnologie (100), die Universiteit van die Wes-Kaap (107), die Universiteit van Johannesburg (117), die Universiteit van Pretoria (153) en die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (351-400).

“Gegewe dat ʼn rekordgetal van 698 universiteite uit 50 lande en streke beoordeel is, is die universiteit trots op sy plek en die beduidende opwaartse beweging in vergelyking met 2021,” sê prof. Puleng LenkaBula, hoof en visekanselier van Unisa.

“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat Unisa op die regte pad is as ʼn betrokke universiteit wat ongetwyfeld vakgeleerdheid van gehalte lewer soos gemeet aan wêreldwye standaarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

miavos ·

Waar daar ʼn rokie trek is daar ʼn vuurtjie. Baie lande aanvaar nie Unisa-kwalifikasies nie agv bedrog in die verlede.

Buck ·

Sal my nie verbaas nie. In SA kan jy enige iets koop – ons weet mos wat aan beheer is: geen inbors

SomeOne ·

genoteer tussen 201 en 205, uiters swak vir so ‘n “instelling”

Jr ·

Ons ” the people” sê dit is n top klas universiteit so al die rapporte en ondersoeke is vals. As jy dit nie glo is jy maar net ” n rassis”, Coloniast and support white capitalist monopoly and am against decolonized education. Almal weet daai plek is niks werd nie. Almal is altyd verkeerd en lieg behalwe hulle wat al lieg vir ons vir 28 yrs

Wakkerslaper ·

….PPFFFTTT! Dit is Times se “emerging economies university ranking”…!!! Met ander woorde – hoe vergelyk UNISA met universiteite in ander 3de wêreld lande? En dan is hulle trots op ‘n plek in die 201-205 katogorie?!?! Wys jou die standaard waarteen “prof” Puleng meet….

Martie Smartie ·

Huh. Het jy n ander standaard? Watse graad het jy?

Wakkerslaper ·

Volgens die Center for World University Rankings lê UNISA op die 1 417de plek…. wonderlik, nê “prof” Puleng…?

Dr Pieter ·

Ai, was altyd trots op my Unisa grade wat wêreldwye erkenning geniet het. Nou 200e uit 700 en hulle is trots? Darem in die boonste 70% maar vergelyk met Wits (98%), UK en Stellenbosch en dit lyk glad nie goed nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.