Beloning uitgeloof ná aanval op Ndebele-kunstenaar

Esther Mahlangu (Foto: Esther Mahlangu, Facebook)

Die polisie het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting oor die verdagte wat die bekende Ndebele-kunstenaar Esther Nostokana Mahlangu (87) aangeval en beroof het.

Mahlangu is twee weke gelede in haar huis in Siyabuswa naby KwaMhlanga, Mpumalanga, oorval.

“Enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte en om die gesteelde besittings terug te vind, word versoek om kol. Ernest Maoka by 082 318 9843 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Inligting sal vertroulik hanteer word,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig Mahlangu het omstreeks 15:00 op 19 Maart haar huis se deure gesluit om daarna ʼn middagslapie te neem. Dit is toe dat sy ʼn onbekende man in die huis gewaar het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het gesê die man het Mahlangu gegryp en in die gesig geslaan. “Hy het haar hande ook vasgebind en haar toe glo gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het.”

Mahlangu het aan die polisie gesê dat sy nie kan onthou wat daarna gebeur het nie. “Sy vertel toe sy bykom, het sy besef haar vuurwapen en kontant is uit die kluis verwyder.” Sy het kneusplekke aan haar gesig opgedoen.

Mahlangu is bekend vir haar abstrakte kunswerke wat op tradisionele Ndebele-ontwerpe gebaseer is. Dié patrone is oorspronklik gebruik om mense van dié Afrika-stam se huise te versier. Sy maak hoofsaaklik gebruik van akrielverf op doek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maritza ·

Belonings woord uitgeloof vir inligting oor haar aanvallers. Gebeur dieselfde met die plaas aanvalle ook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.