Beloning uitgeloof vir inligting oor moord op polisieman

Die straat in Lavender Hill waar Donovan Prins geskiet is. (Foto: Tracey Adams, ANA)

Die polisie in Kaapstad het ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van verdagtes wat verantwoordelik is vir die moord op sers. Donovan Prins.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het Woensdag gesê die polisie se teenbende-eenheid doen ’n beroep op die publiek om met enige inligting na vore te kom rakende die verdagtes in die moord op Prins.

Prins (34) is in Junie vanjaar noodlottig gewond toe verdagtes op die diensmotor waarin hy en ʼn kollega hulle agternagesit het, losgebrand het.

Maroela Media het vroeër berig die polisiebeamptes het die betrokke aand op 24 Junie omstreeks 23:15 vyf verdagtes in Lavender Hill genader waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.

Die beamptes het die verdagtes agternagesit en tydens die jaagtog het die verdagtes op die polisievoertuig losgebrand. Prins, wat bestuur het, is in die proses gewond en na ʼn hospitaal gehaas waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Sy kollega is nie tydens die voorval beseer nie.

Volgens Traut kan die ondersoekbeampte, speursers. Patrick Learner, by 021 843 1900 gekontak word of inligting kan vertroulik by Misdaadstop by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karolis ·

Boere wat kos voorsien word ook vermoor. Wat van ‘n beloning daar?

marous ·

Waarom moet daar belonings uitgereik word ? Is die polisie te sleg om die skuldiges self vas te trek ?

Maljan ·

Eisj! Het jy regtig gedink hulle kan die skuldiges self vastrek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.