Beraad oor landelike veiligheid in Vrystaat gehou

(Argieffoto: Maroela Media)

Agri SA sê alhoewel polisieminister Bheki Cele die probleem erken het van swak reaksietye deur die polisie en die verwoestende impak van korrupsie in die polisiediens, moet meer gedoen word om veiliger landelike gemeenskappe te verseker.

Die beraad oor landelike veiligheid het vandag by ʼn gastehuis in Parys in die Vrystaat begin.

Ander kwessies wat die minister aangeroer het, sluit in voortgesette rasseverdeling in sommige plaasgemeenskappe, die impak van onwettige immigrante op die vermoë van wetstoepassers om sy werk doeltreffend te doen en die dringendheid om armoede in landelike gemeenskappe te takel.

“Agri SA is toegewyd tot ʼn suksesvolle beraad met die hoop dat die partye uiteindelik ʼn doelbewuste plan van aksie sal hê om die gevare te takel wat deur landelike gemeenskappe in die gesig gestaar word,” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van die sentrum vir uitnemendheid op landelike veiligheid by Agri SA. “Hierdie gevare word nie beperk tot uiterste gevalle soos gewelddadige moorde en onrus nie, maar ook die verwoestende impak van misdaad en die gepaardgaande koste op primêre landbou.”

Hy sê die veiligheid van die plaasgemeenskap is ʼn kwessie vir voedselsekuriteit. “Die kwesbaarheid van die landelike, plaasgemeenskap is ʼn kwessie van nasionale belang. Boere en plaasarbeiders vervaardig die kos waarop Suid-Afrikaners staat maak en dra by tot nasionale stabiliteit. Die landelikeveiligheidsberaad moet tot daadwerklike stappe lei om die plaasgemeenskap veiliger te maak.”

Van der Westhuijzen sê dringende stappe moet ook gedoen word om die doeltreffende implementering van die Strategie oor Landelike Veiligheid te verseker en die polisie bekwaam te maak sodat hulle die gemeenskappe behoorlik kan beskerm. “Dit is ook noodsaaklik as die polisie die vertroue van die landelike plaasgemeenskappe wil terugwen. Ons kan nie die feit misken dat boere en plaasarbeiders in plaasaanvalle of tydens plundertogte en onrus geteiken word nie. Die feit dat die polisie nie behoorlik voorbereid of voldoende hulpbronne het om die plaasgemeenskappe in hul nood by te staan nie, is uiters kommerwekkend.”

Agri SA het tydens die aanvangsessie van die beraad ʼn paar aspekte van die strategie uitgelig om dit doeltreffend van stapel te stuur:

  • Meer doeltreffende funksionering van prioriteitskomitee-strukture
  • Doeltreffende reservisstelsel met ʼn fokus op landelike reserviste wat voldoende hulpbronne het met samewerking van boere en plaasarbeiders (Agri SA stel twee reserviste per plaasvereniging voor)
  • Meer doeltreffende misdaadondersoeke, aanhouding van verdagtes en teenstaan van borgtog deur die polisie
  • Doeltreffende misdaadintelligensie en misdaad-analise (insluitend ʼn analise van georganiseerde misdaad)
  • Verhoogde polisiesigbaarheid
  • Skep van polisietaakspanne en reaksie-eenhede in brandpunt-gebiede.

“Vertroue in die polisie sal slegs herstel word wanneer die plaasgemeenskap kan glo dat die polisie bereidwillig en in staat is om hulle te beskerm en om professionele misdaadondersoeke uit te voer. Om dit te doen, moet daar ʼn fokus op die eerste twee pilare van die strategie wees: om doeltreffende menslike en fisiese kapasiteit en vermoë op te bou en toegang tot polisiëring, ondersoekkapasiteit en dienslewering vir die plaasgemeenskap te verbeter.”

Van der Westhuijzen sê die organisasie hoop dat landelike gebiede geprioritiseer moet word in die plasing van nuwe rekrute en reserviste en die toeken van hulpbronne. “Hierdie maatreëls is noodsaaklik as ons behoorlike dienslewering vir landelike gemeenskappe wil verseker. Sonder dienslewering sal die omvattende gesprekke tydens die beraad van geen waarde wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

U gedagte is eerbaar en nodig MAAR u kan praat tot die koeie huistoe kom….as SAP hoofbestuur nie bevoeg is of nie TOTAAL inkoop en betrokke is gaan daar dadels kom van al die mooi planne!!

annie ·

Boere moet hul woonhuise en erf beveilig buiten die plaas self…soos in dorpe en stede. Vergeet van ‘ek’s die baas en hou nie van ‘n tronkgevoel nie’. Sal ‘n doodskis ‘n beter uitsig gee? Moenie onder deur die tafel by die agterdeur ‘n groenetjie of skapie verkoop nie. Dis doodsake.

Eden ·

Die polisie is nie jou vriend nie. Inteendeel. Die boere moet hulself maar beskerm met patroliies ens. Dis nou natuurlik net tot hulle een of ander ou se “menseregte” skend, soos die Parys-6 destyds uitgevind het

Swerwer ·

Vertroue in die SAP herstel? Genade maar ek weet nie so mooi nie, solank die ANC aan bewind is en die Polisie vul, sal dit beslis nie moontlik wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.