Beroemde Jhb-wolkekrabber kry nie slegte beeld afgeskud

(Foto: Facebook/Architecture & Design)

Met ʼn hoogte van 173 m is die uitsig oor Johannesburg van die Ponte City-wolkekrabber asemrowend, maar Afrika se hoogste woonstelgebou sukkel om sy reputasie as simbool van ʼn vervalle middestad af te skud.

Gebou in die brutalistiese styl, is die Ponte-gebou – soos dit bekend staan – ʼn silindriese wolkekrabber ontwerp deur die Suid-Afrikaanse argitek Manfred Hermer. Dit bestaan uit 54 verdiepings en is in 1975 in die eens florerende Johannesburgse middestad voltooi.

Die merkwaardige wolkekrabber, en ook die hoogste residensiële gebou in Afrika, het egter toenemend vervalle begin raak namate groot maatskappye – aanvanklik weens sanksies wat teen Suid-Afrika se apartheidsregime ingestel is – uit die Johannesburgse middestad begin vlug het. In die 1980’s en 1990’s het die gebou ʼn toevlugsoord vir gewelddadige bendes en ʼn sentrale punt vir dwelmhandel en prostitusie geword.

Die vensters is in ʼn stadium – toe daar geen vullisdromme in die gebied was nie – verseël om te verhoed dat mense hul rommel in die gedeelde erf strooi.

Die gebou is voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 opgeknap en plakkers is uitgeskop.

Vandag woon talle middelklasgesinne in die wolkekrabber en betaal tussen R3 000 en R8 000 huurgeld per maand.

Polite Ngwenya (33), ʼn musiekonderwyser en inwoner van die Ponte City-wolkekrabber, kan vanuit sy woonstelvenster uitkyk oor ʼn metropool in een van die mees ekonomies ongelyke lande ter wêreld.

“Die veiligheid hier is goed, die gebou is skoon en die uitsig is wonderlik en uniek.

“Mense in die buurt besef nie hoe gelukkig ons is nie,” sê Ngwenya.

Die hol kern in die middel van die toring bied ʼn duiselingwekkende uitsig van die binnehof en dit bring lig na die woonstelle. Die oprit na die gebou lei na ʼn groot en leë ondergrondse parkeerterrein, waar ʼn paar ongebruikte voertuie staan en verroes.

Toegang tot die gebou is deur metaal-draaihekke wat deur veiligheidswagte beman word – en dan ook net indien ʼn bewys van identiteit gelewer kan word.

Maar in ʼn buurt wat steeds uiters vervalle is en as een van die stad se gevaarlikste gebiede beskou word, is Uber-bestuurders skrikkerig om dit tot daar te waag, veral snags.

Die middestad-stigting Dlala Nje – Zoeloe vir “laat ons pret hê” – wil die negatiewe sienings oor die gebied verander.

Die stigting bied die afgelope dekade staptoere deur die woonbuurt aan, met die Ponte City-wolkekrabber wat ʼn toeriste-aantreklikheid geword het.

“Daar lê egter nog ʼn lang pad voor om die negatiewe beeld van en vooroordele oor die gebou te verander,” sê Ngwenya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lillian ·

Daar is ‘n storie dat baie mense al selfmoord gepleeg het deur van daai gebou af te spring, blykbaar het dit iets te doen met die vorm van die gebou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.