Beseerde Boishaai-seun op pad huis toe

Chris Jordaan (regs), saam met sy sussies Elizé en ouer broer, Johann. (Foto: Verskaf)

Chris Jordaan, die jong eerstespanspeler van Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) wat sowat ses weke gelede tydens  ʼn rugbywedstryd in Pretoria ernstig beseer is, is uiteindelik op pad huis toe.

Die 17-jarige Chris is Donderdagoggend uit die Muelmed-hospitaal in Pretoria ontslaan en vlieg Vrydag terug Kaap toe.

“Hy kan nie wag om by die huis te kom nie,” sê sy pa, ook Chris.

“Ek dink dit gaan vir hom baie lekker wees om al sy maats weer Saterdag te sien. Almal wil hom weer terug in die Paarl sien.”

Chris sr. en sy vrou, Dané, het die afgelope ses weke beurte gemaak om tussen die Paarl en Pretoria te pendel en by Chris jr. se hospitaalbed te waak nadat hy op 4 April tydens ’n rugbywedstryd by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) ’n ernstige kopbesering opgedoen het.

Die Hoër Jongenskool Paarl het Affies die stryd in die Noord-Suid-rugbytoernooi aangesê toe Chris, ʼn gr. 11-leerder aan Boishaai en die eerste span se agtsteman, tydens die wedstryd ʼn harde hou teen die kop gekry het.

Chris Jordaan tydens sy kuier by Affies. (Foto: Affies/Facebook)

Chris het bloeding op die brein opgedoen en moes inderhaas geopereer word.

Daarna is hy vir 12 dae lank in ’n geïnduseerde koma in die intensiewesorgeenheid van die Muelmed-hospitaal behandel voordat hy na die hospitaal se rehabilitasiesentrum oorgeplaas is. Hier moes hy weer leer praat en loop.

Chris sr. sê die afgelope maand en ’n half was allermins maklik. Dit is egter verstommend dat jong Chris só vinnig herstel het.

“Ons het in ’n stadium gewonder of hy dit gaan maak. Toe het ons gewonder of hy vir die res van sy lewe in ’n rolstoel gaan wees en toe het ons gewonder of hy breinskade gaan hê. En nie een van daardie goed het gebeur nie.

“Die dokter sê dit is ’n absolute wonderwerk.”

Jordaan het Donderdag by Affies gaan kuier en selfs saam met die gr. 11’s klas gedraf. “Hy het ʼn baie lekker dag daar gehad.”

Chris Jordaan tydens sy kuier by Affies. (Foto: Affies/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Ons dien ‘n GOD van liefde.Dankie HERE dat u oor Chris gewaak het,GROOT GENEEESHEER wees met hom tot hy volkome herstel het.

Dandeleen ·

Lekker huil die mamma oor die groot wonderwerk. God is grood. Jy is so sterk soos ‘n bul seuna.

Andries ·

Ons dien n wonderwerkende GOD niks is vir Hom onmoonlik nie.
Dankie Jesus
Amen

Maria ·

My geloof faal my by tye, maar kyk hierdie ongelooflike wonderwerk! God luister wel na ons pleitdooie, Hy is inderdaad die Groot Geneesheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.