Beskerm jouself teen identiteitsdiefstal

(Foto: Rustam Ziabirov/Unsplash.)

Deur Tanya de Vente-Bijker

Dit het alles begin met ʼn paar teksboodskappe op ʼn Saterdagoggend net voor Kersfees, ʼn paar jaar gelede. Ross Saunders het niksvermoedend sy foon opgemaak toe hy sien hoe daar skielik allerhande bedrae van sy rekening afgetrek word. Iewers was daar groot fout. Hy het uiteindelik besef sy identiteit is gesteel en iewers het iemand ʼn hele aantal rekeninge in sy naam opgemaak.

Ons hoor gereeld dat ons versigtig moet omgaan met ons persoonlike inligting en identiteit, maar doen ons dit werklik? Die onlangse databreuk op Experian het weer die kollig op digitale sekuriteit gewerp. Na raming het die kraker met hierdie databreuk toegang gekry tot sowat 24 miljoen mense en 800 000 maatskappye se inligting.

Volgens Manie van Schalkwyk, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingdiens (SABVD) het misdadigers wat identiteitsdiefstal pleeg (met werklike ID’s en name wat hulle gebruik vir misdade) vanaf 2018 tot 2019 met 99% gestyg.

Maar hoe gebeur dit dat iemand jou identiteit steel, en hoe moet jy jouself beskerm?

Ross vertel die oortreders het letterlik ’n pak dokumente met al sy persoonlike besonderhede gehad, onder meer ʼn groen ID-boekie (die foto was met ʼn ander foto vervang), ʼn bewys van adres en alles wat nodig is om ʼn rekening oop te maak. Die SABVD het hom gehelp om die chaos uit te pluis, maar dit het agtien maande geduur om sy kredietrekord te herstel.

“Omdat dit debietaftrekkings was, en nie kredietkaartbedrog nie, moet jy letterlik al die debietaftrekkings gaan stop en die rekeninge probeer toemaak.”

ʼn Bedrogondersoeker het hom gehelp en hulle vermoed dat ʼn salarisstrokie by ʼn vorige werknemer weggegooi was sonder dat dit eers versnipper was. Met die een bladsy kon hulle al die inligting bymekaar maak wat hulle nodig gehad het om rekeninge in sy naam te gaan oopmaak.

Ross, nou ʼn konsultant oor databeskerming, sê dit is skrikwekkend hoe maklik dit gebeur.

“Ek wil nie soos ʼn doemprofeet klink nie, maar daar is sindikate daarbuite wat mense, soos asblikgrawers, betaal om persoonlike data uit te vis.”

Hy sê soms word daar tot R20 per lyntjie met inligting betaal.

(Foto: Markus Spiske/Unsplash.)

Weet waarheen jou inligting gaan

Volgens Julian Ramiah, die hoof-inligtingsekuriteitsbeampte by Alexander Forbes, is identiteitsdiefstal wanneer misdadigers willekeurige persone se data inwin in ʼn poging om ʼn individu se identiteit te steel. Dit word gedoen met behulp van die individu se persoonlike inligting, byvoorbeeld hul naam, van, kredietkaart en identiteitsnommers.

In Ross se geval was dit ʼn harde kopie-salarisstrokie waarmee sy inligting bekom is, maar die digitale risiko’s is ook baie groot. Rianette Leibowitz, kuberveiligheidskenner, skrywer van Maak jou kind skermslim en internasionale spreker, sê daar is verskeie maniere hoe ʼn mens jou persoonlike inligting aan die kuberwêreld blootstel.

“Ons skryf in vir kompetisies en gee ons persoonlike inligting sonder om die fynskrif te lees aan wie die inligting versprei gaan word. Dieselfde geld ook vir die sekuriteitsboeke by die sekuriteitshekke van maatskappye of landgoedere,” sê sy.

Julian lys nog ʼn aantal voorbeelde hoe jou inligting gesteel kan word:

  • Fisieke diefstal van beursies met die doel om identiteitskaarte, krediet- en bankkaarte te bekom;
  • Die kloon van inligting vanaf ʼn outomatiese tellermasjien. Dit word gedoen deur ʼn elektroniese spioeneringstoestel wat aan die OTM vasgemaak is en jou inligting steel. Hou dus altyd jou hand oor die inligting wat jy insleutel;
  • Mense wat deur rommel en e-posse vis om bankstate, vertroulike dokumente te soek wat persoonlike en sensitiewe inligting bevat;
  • Verandering van adres of persoonlike inligtingvorms. Die misdadigers vul die vorms in om jou inligting met hul inligting te vervang;
  • Georganiseerde sindikate wat persoonlike inligting koop van persone wat toegang het tot privaat inligting, soos ʼn werknemers wat toegang het tot kredietaansoeke;
  • Inligting wat op onveilige webwerwe of onbeveiligde Wi-Fi-toegangspunte gedeel word;
  • Die steel van inligting deur ʼn databreuk; en
  • Uitvissing (phishing) – dit is waar inligting gesteel word deur skelm e-posse, SMS’e of webwerwe wat daarop uit is om privaat inligting in te win.

Argieffoto

Maak seker jy beskerm jouself

Ross raai mense aan om ʼn masjien te koop waarmee persoonlike dokumente versnipper kan word. “Versnipper alles wat jou huis verlaat.”

Hy sê dis belangrik om verskillende wagwoorde vir verskillende webwerwe te hê, en maak seker dit is baie sterk wagwoorde.

“Kry ʼn elektroniese wagwoordkluis (soos e-beursie [e-wallet]) waarin jy al jou wagwoorde kan bêre en met een baie sterk wagwoord oopmaak.”

Rianette maan dat jy moet seker maak hoekom jy jou ID-nommer moet invul wanneer jy dit doen.

“Soms is dit genoeg om slegs jou eerste ses getalle, jou geboortedatum, in te vul. Probeer jou huisadres sover as moontlik privaat hou.”

Sy waarsku om ekstra versigtig met jou kinders se inligting om te gaan.

Julian beaam die wenke van Ross en Rianette. Hy gee nog ʼn paar wenke wat jy kan gebruik om jouself te beveilig:

  • Moenie ʼn papierspoor laat nie. Moet nooit jou OTM- of petrolstrokies iewers agterlaat nie. Party strokies bevat sensitiewe inligting.
  • Moet nooit jou kredietkaart uit jou sig laat gaan nie – enige transaksies moet reg voor jou plaasvind.
  • Wanneer jy persoonlike inligting moet deel, maak seker jy weet met wie jy werk. Wanneer iemand jou kontak vir persoonlike inligting, moenie dit gee nie. Vind uit wie dit is, watter maatskappy en die rede vir die oproep. Indien jy dink dit is ʼn wettige versoek kan jy self die maatskappy terugskakel en seker maak die inligting word versoek alvorens jy dit gee.
  • Verwyder jou naam van die bemarkerslys van Suid-Afrika (Direct Marketing South Africa). Dit sal jou ook baie gemorspos spaar. Jy kan dit hier doen: https://dmasa.org/page/about-opt-out-service.
  • Beskerm jou persoonlike inligting, dit is jou grondwetlike reg. Wanneer jou ID-nommer saam met jou naam en van vereis word wanneer jy iets aankoop, vra of dit werklik nodig is. Indien wel, vind uit wat hul privaatheidbeleid is.
  • Moenie op e-posse reageer wat te goed lyk om waar te wees nie.
  • Moenie jou besittings, private dokumente en inligting in jou motor in ʼn parkeerarea los nie.
  • Gaan ten minste twee keer per jaar deur jou kredietgeskiedenis vir enige verdagte transaksies.

Vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingdiens besoek www.safps.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.