Besluit oor Eskom verseker ‘beter oorsig’

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Die besluit dat Eskom wel alle onreëlmatige, vrugtelose en nuttelose uitgawes, asook materiële verliese weens misdadigheid in sy jaarverslae moet bekend maak, sal eindelik beter oorsig verseker, sê die drukgroep Outa.

Dié besluit is Woensdag deur Enoch Godongwana, minister van finansies, aangekondig.

“Die regering se ommeswaai dui op ʼn bewustheid van openbare woede oor pogings om Eskom kwyt te skeld, asook die waarde van openbare insette,” sê Wayne Duvenage, Outa se uitvoerende hoof.

“Ons hoop die minister sal ʼn meer deursigtige en doeltreffende manier vind vir staatsbeheerde entiteite om probleme van wanbesteding te takel.”

Die omstrede besluit wat vroeër geneem is om Eskom van sekere bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur kwyt te skeld, sou behels dat Eskom vir die volgende drie jaar nie inligting oor wanbesteding en vrugtelose en nuttelose uitgawes in sy finansiële state sou moes aandui nie.

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Foto: Twitter)

Die entiteit sou dit wel nog in sy maandverslae moes meld. Die besluit het egter ʼn groot openbare herrie ontketen en is kort nadat dit op 31 Maart 2023 in die Staatskoerant gepubliseer is, teruggetrek sodat verdere samesprekings kon plaasvind. Lede van die publiek is ook genooi om kommentaar te lewer.

Altesaam 56 kommentare is ontvang wat ʼn wye spektrum van rekeningkunde en verslagdoening, ouditering, bestuur, regsbeginsels en kwessies van openbare belang dek. Die nasionale tesourie het ook met ouditeurfirmas, professionele ouditeur- en rekeningkundige liggame, ʼn graderingsagentskap en ander relevante owerhede vergader om die uitdagings en skynbaar veeleisende nakomingsverslagdoeningsvereistes wat op SBO’s soos Eskom van toepassing is, te bespreek.

Duvenage het destyds al gesê dat om Eskom kwyt te skeld ʼn duidelike boodskap uitstuur dat die  regering nie ernstig is oor deursigtigheid en aanspreeklikheid wanneer dit by Eskom se finansiële bestuurspraktyke kom nie.

“Outa het kommentaar by die tesourie ingedien om beswaar teen die kwytskelding aan te teken. In die lig van Eskom se geskiedenis van korrupsie, was daar groot kommer dat só ʼn stap ʼn werkomgewing sou skep waarin nog meer geld verloor word.

“In plaas daarvan om die hoofoorsake te pak wat die primêre omgewing vir die vermeerdering van onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes skep, gaan die regering in hierdie geval voort om die probleem te voed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Eskom moet nou ‘n ander mat soek om sy kriminaliteite onder te vee. Soos die werklike redes hoekom kragonderbrekings skielik so laag is, en hoekom kabeldiefstal so vinnig “verdwyn” het.

Manie ·

O ja, die media is vol van die Eskom amptenaar wat by sabotasie betrokke is, so die spulletjie het seker vir eers handbriek opgetrek. Selfs die whatsapp boodskappe tussen mekaar lê die wêreld vol rond en dit stem presies ooreen met wat onlangs in media berigte genoem is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die minister praat en nou is ons gelukkig en tevrede. Intussen weier brig. Burger om in die parlement te verskyn en te praat oor se Eskom ondersoek. Hy vrees vir sy lewe.

Papsak ·

Net sodra daar oor eskom gepraat word dan moet daar vir hulle lewens gevrees word want waarheid maak seer en hulle wil dit nie weet of hoor nie

TheSnake ·

Na ek Truth to Power gelees het, ondersoek ek ook maar die solar opsie. Eskom is nie hier om te bly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.