Besoedelde Seinerivier wek kommer voor Spele

(Foto: Ludovic Marin /AFP)

ʼn Franse organisasie wat werk om die wêreld se oseane, riviere en strande te bewaar, het Maandag hul kommer oor besoedeling in die Seinerivier uitgespreek. Dit is net meer as ʼn 100 dae voor die Olimpiese Spele begin en dié rivier sal vir swembyeenkomste gebruik word.

Die Surfrider Foundation sê hy het ses maande se toetse oor die winter – wat deur ʼn laboratorium onderneem is – ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat die rivierwater besoedel en potensieel gevaarlik is.

In ʼn ope brief het dié liefdadigheidsorganisasie wat in Biarritz gesetel is, gesê dat dit “sy toenemende kommer oor die kwaliteit van die Seinerivier asook die risiko’s wat atlete in die gesig staar met belanghebbendes wil deel”.

Owerhede in Parys is nou in ʼn stryd teen tyd gewikkel om die bekende rivier skoon te maak voor die Olimpiese Spele op 26 Julie begin.

Die openingseremonie sal na verwagting by die Seinerivier aangebied word, en dit sal ook vir die marathon-swembyeenkomste en die driekamp gebruik word.

Om die rivier skoon te maak is een van die belangrikste erfenisprestasies van die 2024-Spele in Parys,  met die burgemeester, Anne Hidalgo, wat beplan om volgende jaar drie openbare swemgebiede in die rivier te skep.

Hidalgo en pres. Emmanuel Macron het ook onderneem om voor die Spele self in die rivier in te duik om te wys dat dit veilig is – net meer as ʼn eeu sedert openbare swem in 1923 daar verbied is.

Sowat €1,4 miljard ($1,5 miljard) is aan die opgradering van riool- en stormwaterbehandelingsfasiliteite bestee om die hoeveelheid onbehandelde fekale materiaal te verminder wat in die rivier en sy hooftakrivier, die Marne, vloei.

Marc Guillaume, die hoofstaatsveiligheidsbeampte vir Parys, het Surfrider se “baie swak begrip van hierdie kwessie” gekap, en sê “dit is nie sinvol om nou toetse in die Seinerivier te doen en dit te vergelyk met wat die volgende somer sal gebeur nie”.

Surfrider sê die toetse is deur die laboratorium Eau de Paris en die omgewingsontledingsgroep Analy-Co van September tot Maart by die brûe Alexandre-III en l’Alma – waar die Olimpiese swembyeenkomste gaan plaasvind – uitgevoer.

Europese watergehaltestandaarde en die internasionale driekamp- en oopwater-swemfederasies stel perke op die konsentrasie van twee bakterieë – E. coli en enterococci – wat aanwysers is van die teenwoordigheid van fekale materiaal.

Uit 14 rondes van toetse het slegs een toets “bevredigende” resultate getoon, het Surfrider gesê.

Resultate het in die algemeen getoon dat “kommerwekkende” vlakke, dikwels dubbel en soms drie keer hoër is as die maksimum toegelate hoeveelhede, voorkom. Een lesing het E. coli op sewe keer die maksimum vlak getoon.

Parys se owerhede het beklemtoon dat die monsters oor die winterperiode geneem is – een van die natste winters in 30 jaar.

Dit is bekend dat swaar reënval Parys se eeue oue rioolstelsel oorweldig en tot direkte stortings van onbehandelde afvalwater in die rivier lei.

“Die eerste kwartaal van 2024 het uiters swaar reënval gehad (250 mm oor drie maande, dubbel die vlak van 2023) wat die kwaliteit van die water verswak het,” het Parys se prefektuur in ’n verklaring gesê.

Verder het waterontsmettingsfasiliteite nie oor die winter gewerk nie en sou dit voor die Olimpiese Spele van stapel gestuur word.

“Daar was nooit sprake van die opening van die Seinerivier vir swem regdeur die jaar nie,” het Guillaume bygevoeg.

’n Enorme nuwe ondergrondse stormwaterfasiliteit sal na verwagting later vandeesmaand in die suidooste van Parys ingewy word, terwyl die laaste rioolverbindings vir rivierbote tans in die kern van die hoofstad voltooi word.

Die skoonmaak van die Seinerivier was “waarskynlik die moeilikste [Olimpiese] projek om te organiseer,” het die adjunkburgemeester van Parys, Emmanuel Gregoire, verlede Vrydag aan verslaggewers gesê.

Plan B?

Drie Olimpiese toetsbyeenkomste in die Seinerivier is verlede Julie en Augustus gekanselleer weens verhoogde E. coli-lesings.

Die ontwrigting is aan baie swaar reënval toegeskryf en ʼn foutiewe terugslagklep in die rioolpypleiding wat veroorsaak het dat vuil water in die rivier gestort het.

Verlede maand het die Brasiliaanse swemmer Ana Marcela Cunha, die heersende Olimpiese oopwaterkampioen, ’n beroep op Parys gedoen om ’n plan B te hê “vir ingeval die Seinerivier nie gereed is nie”.

Organiseerders sê hulle kan die swembyeenkomste vertraag in die geval van swaar reënval, maar hulle is nie van plan om dit te skuif nie.

Olimpiese oopwater-swem is al in die verlede deur kommer oor besoedeling geraak.

Aan die einde van die toetsbyeenkoms in 2019 voor die Olimpiese Spele in Tokio, het swemmers teen die kwaliteit van die water in Tokiobaai betoog.

By die Olimpiese Spele in Rio in 2016 het die vooruitsig om in die besoedelde Guanabarabaai te swem, ook opslae gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Hoe lank weet Parys al dat hulle die spele wil aanbied? Die rivier het nie net in ‘n jaar so bedoedel geraak nie. Ons het in die begin sewetiger jare in Parys gebly en toe was die rivier al vieslik. So, Franse, moennie nou soos die a en c wees nie!!!

JohanR ·

Wel ek is seker ANC’s sal weer lekker belastingbetalers se geld spandeer om by die spele te kom. Hoopelik val ‘n paar in die Seine!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.