‘Besope’ man gryp polisie se wapen, vuur skote

‘n Skermskoot uit die video op Twitter.

’n 22-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo onder die invloed van drank ’n vrouepolisiebeampte se dienspistool by haar afgevat en verskeie skote daarmee afgevuur het.

Die voorval is meer as ’n week gelede in die Vrystaat op kamera vasgelê en word nou op sosiale media versprei.

Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die provinsiale polisiehoof, lt.genl. Baile Motswenyane, is bewus van die video en het reeds kort ná die voorval ’n ondersoek gelas.

Luidens inligting het die polisiebeampte die betrokke aand van die voorval ’n kollega in die omgewing van Tweeling by die huis afgelaai nadat hulle skofte geruil het.

Die polisiebeampte het op pad na die polisiestasie ’n groep mense buite ’n taverne sien staan en stilgehou om ondersoek in te stel nadat sy die seun van een van haar ander kollegas tussen die omstanders opgemerk het. Dié was glo besope.

Die polisiebeampte het met een van die omstanders gepraat, toe die seun van haar kollega glo die deur van die polisievoertuig oopgeruk en haar dienspistool uit die holster gegryp het. Tot die polisiebeampte en omstanders se skok het hy skote in die lug afgevuur.

Volgens Makhele het die sersant besef dat sy bystand nodig het. Om te verhoed dat sy geskiet word, het sy sonder haar dienspistool in haar diensvoertuig weggejaag terwyl sy met naburige polisiestasies kontak gemaak het.

Nog polisiebeamptes het op die skietery reageer en ’n soektog na die man is van stapel gestuur. Die man, geklee in ’n splinternuwe koeëlvaste baadjie van die polisie, is later by die huis van ’n vriend gevind. Die vrouepolisiebeampte se dienspistool is versteek in ’n emmer in ’n vertrek opgespoor.

Die man is in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklagte van roof, die onwettige besit van ’n vuurwapen, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied, asook die besit van vermoedelik gesteelde staatseiendom.

Hy het reeds in die hof verskyn waar sy aansoek om borgtog van die hand gewys is. Die man sal weer op 7 April in die hof verskyn.

’n Ondersoek is intussen na die vrouepolisiebeampte se bevoegdheid gelas.

“Dit is jammer dat dieselfde persoon wat aan die polisiebeampte bekend is as die seun van haar kollega, en selfs die rede was waarom sy stilgehou het, uiteindelik die een was wat haar vuurwapen afgeneem het,” sê die Vrystaatse polisiehoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

koos10 ·

Hier is ‘n paar goed wat my baie bekkommerd het, maar die grootste is al ALLE polisie beamptes wat sy wapens moet dra, ook ‘n koord moet dra wat die wapen aan die broek se belt verbind. Dis juis ingestel om voorvalle soos die te voorkom. Dan ook dat die lid by die huis afgelaai word. Dit word verbied behalwe as ‘n baie senior SAPS lid dit goedkeur. Voorvalle soos dit behoort nie eers te gebeur nie, en as die lid haar instruksies gevolg het sou dit nie gebeur het nie.

twaalfboor ·

Stem saam jou Koos. Dit word ń “retention cord” genoem en is verpligtend om hom te dra. Volgende vraag is, hoekom is haar koëlvaste baadjie nie aan haar lyf nie.? Die klomp is laks.

Denise ·

hoekom is sy nog indiens van die Polisie… sy moet ander werk soek… ons SA polisie is n comic

Nie Verbaas ·

Die polisie word glo opgelei by kollege. Berigte orals oor dat sommige beamptes nie eers kan skiet nie. Vraag ontstaan dat hoe dit moontlik is as hulle dan deur opleiding is of is daar geen evaluering wat plaasvind nie. Dit is wat gebeur as mens BEE in keelgate afdruk. Weereens ANC, wat jy saai sal jy maai. Hulle moet die beampte wegjaag. Klim sommer in voertuig en ry weg.

ES ·

Dis is baie kommerwekkend dat ‘n polisebeampte se vuurwapen so vinnig afgeneem kan word sonder reaksie. Swak opleiding…

pompies ·

Polisie voertuie word as staf taxis gebruik daarom is daar nie voertuie beskikbaar om hulle werk te doen nie. Dit gaan baie lekker in die staatsdiens.

Anel ·

Oral word die lot aan gery. As dit nie gebeur nie, daag hulle nie op vir werk nie. Die polisiestasie in ons omgewing se lede kom 90% uit Soweto en word met elke skof aan gery.
Verder, hoe laat jy ‘n dronkie jou oorrompel? Wat se opleiding het sy gekry? SKANDE!!!

Francois ·

Hoop die polisie beampte word ook vervolg vir haar laksheid

Misky ·

Dink ons weet dat selfs die dronkie gaan loskom uit die saak as sy ma n mede kollega is van die polisievrou. Wat n skande vir die SAPD en sy ry net weg…. wat as daai man links en regs mense begin skiet het en wat sou sy dan sê

Roedolf Johannes ·

Onbevoeg om enige Polisie werk te verig.Die lid moet ontslaan word,n Skande vir die SAP

Persheks Adri ·

Hulle wil ons ontwapen pffft maar dis juis hulle wat die wapens die vinnigste verloor of by wie dit af gevat word pffft! Pateties regtig verdomp pateties en hulle moet ons beskerm gggmmmfff dit sal die dag wees!

Cherokee ·

En jul aanvalle is sover sonder uitsondering geloots op die polisievrou. Julle sê geen woord van die dronkie nie en dat sonder maskers in ‘n straat gekuier word. En dat skote in die lug afgevuur word, sonder die besef dat die koeëls erens gaan val. Dìt is wat gebeur wanneer kommentators agter mekaar aan praat. Kry jul prioriteite reg, asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.