ʼn Polisiekonstabel van Wolmaransstad in Noordwes sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy glo oor die naweek ʼn staatsvoertuig onder die invloed van alkohol bestuur het en op video vasgevang is waar hy sukkel om regop te bly.
Videobeeldmateriaal toon hoe die besope konstabel in volle uniform skade aan die motor nagaan terwyl hy sukkel om op sy voete te staan.
Die video word sedertdien op sosialemediaplatforms waaronder WhatsApp versprei.
Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die beampte het Saterdag teen ʼn heining in die Tswelelang-nedersetting in Wolmaransstad vasgery. Hy is op die toneel in hegtenis geneem en sedertdien op borgtog van R500 vrygelaat.
Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die polisiebeampte geensins gemagtig is om staatsvoertuie te bestuur nie.
Die beampte sal in die hof verskyn op aanklagte van dronkbestuur, roekelose en nalatige bestuur, asook die gebruik van ʼn voertuig sonder die eienaar se toestemming.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die voorval veroordeel en die polisiebeampte se gedrag as onprofessioneel en onbehoorlik bestempel.
ʼn Departementele ondersoek na die beampte se gedrag is reeds gelas.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
en natuurlik word hy “suspend” met volle betaling…
Ma, ma, ma, kom kyk, pa het vir ons ‘n polisie Van gekoop, nee my kind, kan nie wees nie, hy het nie ‘n lisensie, hy is seker dronk!
Net een genade: dank hom af, en hy moet so ‘n bietjie agter tralies sit ook.
Gevat sonder toestemming….dit klink baie dieselfde as diefstal?
En “hulle” verwag jy moet respek betoon? Tipies ANC dissipline.