Bestuurder van gastenkwa vrygelaat

Die brug waar die ontploffing plaasgevind het. (Foto: Twitter)

Die bestuurder van die gastenkwa wat op Oukersdag in Boksburg aan die Oos-Rand ontplof het, is uit aanhouding vrygelaat sonder om in ʼn hof te verskyn.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die 32-jarige bestuurder is reeds Dinsdag deur die polisie ondervra voordat hy op waarskuwing vrygelaat is hangende verdere ondersoeke.

“Die verdagte sal dus nie Woensdag in die hof verskyn nie. Sodra ondersoeke afgehandel is, sal die saakdossier na die hof gestuur word vir ʼn beslissing,” sê Muridili.

Die bestuurder het geringe beserings opgedoen toe hy Saterdag onder deur ʼn brug naby die Tambo-gedenkhospitaal met ʼn gastenkwa probeer ry en die vragmotor vasgeval het. Die gastenkwa het kort daarna aan die brand geslaan en eindelik ontplof.

Altesaam 18 mense is in die ontploffing dood. Dit sluit in omstanders op die toneel sowel as personeel van die nabygeleë Tambo-gedenkhospitaal wat ook tydens die ontploffing beskadig is.

Die bestuurder is kort ná die ontploffing in ʼn private hospitaal – waar hy mediese behandeling vir geringe beserings ontvang het – in hegtenis geneem.

Dit blyk egter nie of daar in dié stadium genoeg bewyse is om hom aan te kla nie.

Infinite Transport, die vervoermaatskappy wat die vragmotor besit, het Sondag gesê die direkteure en bestuurspan van die maatskappy werk nou saam met die onderskeie owerhede en onafhanklike ondersoekers om al die feite rakende die voorval te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.