Bestuurder vas oor byna R100 000 se boetes

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

ʼn Taxibestuurder met 44 uitstaande lasbriewe vir boetes van altesaam byna R100 000 is die afgelope naweek uiteindelik deur owerhede vasgetrek.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Stad Kaapstad, sê die man is gister in Seepunt tydens ʼn wetstoepassingsoperasie in hegtenis geneem. Beamptes was besig met ʼn operasie om onwettige straatrenne in die gebied hok te slaan, toe die taxibestuurder voorgekeer is. “Die verdagte se 44 uitstaande lasbriewe teen sy naam bedra altesaam R97 350,” sê Smith.

Die bestuurder was egter net een van 90 mense wat die afgelope week deur Kaapstadse verkeerspolisie in hegtenis geneem is. Tydens dieselfde operasie is nog drie motoriste in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

Nog minstens 77 motoriste is elders in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur, uitstaande lasbriewe, dronkbestuur, bedrog, intimidasie en versuim om ʼn opdrag van wetstoepassers uit te voer. Volgens Smith is 129 minibus- en sedantaxi’s geskut omdat hulle nie geldige operateurslisensies gehad het nie of buite die voorwaardes van hul lisensies bedryf is.

Altesaam 4 520 verkeersboetes is ook die afgelope week in die Moederstad uitgereik.

“Hierdie statistieke gee net ʼn vinnige kykie op ons omvattende wetstoepassingpogings. Sedert die begin van die jaar het ons die publiek in kennis gestel van talle bykomende maatreëls wat toegepas word om die wetteloosheid op ons paaie aan te pak, veral met betrekking tot die openbare vervoerbedryf. Die statistieke begin nou die trefkrag van hierdie maatreëls weerspieël, stadig maar seker,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karlahari ·

Dan wil die regering weet wat om te doen om die pad sterftes te verminder.
Begin deur bestaande basiese wette toe te pas.
Soos in die WesKaap.
Welgedaan!!!

Gert van Wierdapark ·

Die taxi Pad-Vark het ten einde laaste sy ale gesien! Hul kon seker nie dagvaardigings bedien nie, want lyk my hy was heeltyd op die pad om geld te maak!

Wielspore ·

Wel gedaan, daar kan gerus meer sulke optredes wees. Gedurende my burgermag tyd het ons ondersteuning aan die SAP gelewer met padblokades en daar was baie sukses met voertuig diefstal, onpadwaardige voertuie en uitstaande lasbriewe.
Doen so voort, landswyd!

Ellisras ·

Ek betaal die boete wat ek een keer in 10 jaar kry stiptelik. Ek voel al die tronk deur agter my as ek nie betaal nie. Dan weet ek van mense wat dit totaal ignoreer en hul kom met dit weg.

Charlie ·

Opvolging tot skuldigbevinding Ia nodig, anders was poging ‘n mors van tyd en moeit

Jan Salie ·

Alles issie krismis nie. Soos PE wat my gedagvaar het, terwyl ek in Durbanville woonagtig was, vir ‘n oortreding wat ek daar in PE sou aangegaan het. Dit terwyl ek nooit met my voertuig in PE was nie! Inteendeel ek was die vorige tien jaar nie daar nie.Snaaks hulle kon my eers vier dae voor die verhoordatum kon opspoor en toe was dit vir my maar goedkoper om die boete te betaal! Wetstoepassing is nie altyd so oulik nie. Ok ek weet julle praat van Kaapstad.

Zelda ·

Nee dan was dit nie wettig nie. 2 weke voor jou hofdatum anders is dit onwettig

aj ·

Dié gearresteerde taxi bestuurder is slegs een uit duisende soortgelyke roekelose kriminele wat verantwoordelik is vir die chaos en anargie op ons paaie.

Wie die taxi geweldsbendes kan tem sal die land kan red van totale verval!

Louis leeu ·

Wat gaan gebeur,niks nie hy sal hof toe gaan borg kry en net weer met n ander taxi aangaan

Leon ·

Ek neem aan hy is ‘n uur later op R100 borgtog vrygelaat. Dit is mos die norm in Suid Afrika. Taxis is mos bo die wet in ons land.

Diefie ·

Die taxi bestuurder gaan nie tronk toe nie, hy parliment toe.

???? leser ·

waar is pretoria om dieselfde te doen, o ekskuus, 99% van alle taxis in pretoria se tweede eienaar is die wetstoepassers s’n

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.