Betalende eindgebruikers nie meer ‘gyselaars’ in regeringsgeskille

(Argieffoto: ANA)

Staatsinstellings wat dienste lewer, met inbegrip van Eskom, sal voortaan nie meer elektrisiteitstoevoer van betalende eindgebruikers onregmatig kan weerhou weens wanbetaling deur munisipaliteite nie.

Die organisasie Sakeliga sê dié beginsel is eindelik deur die Konstitusionele Hof bekragtig nadat ʼn uitspraak van die hoogste hof van appèl neergelê is in ʼn saak tussen Resilient Properties en ander teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit waarby Sakeliga verlede jaar betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig Sakeliga het as vriend van die hof betrokke geraak om te verhoed dat Eskom betalende klante in verkwistende munisipaliteite se elektrisiteit afskakel.

Die Konstitusionele Hof het ook Eskom se aansoek om verlof tot appèl in die Resilient-saak, sowel as ʼn soortgelyke saak in Sabie, van die hand gewys.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die gevolge van die uitspraak is enorm, omdat dit nou finaal regspresedent geword het.

“Staatsinstellings in dispuut oor ʼn aangeleentheid soos skuldinvordering moet hulle nou op interregeringgeskilbeslegting beroep, en die nasionale tesourie het ʼn verantwoordelikheid om in te gryp om geskille te help oplos. Voor hierdie uitspraak is hierdie prosesse nie gevolg nie en kon staatsinstelling soos Eskom ʼn maklike uitweg nastreef – om betalende eindgebruikers gyselaar te hou tot die skuld van die munisipaliteite vereffen is.”

Le Roux sê die uitspraak is boonop nie net bindend op Eskom nie, maar op alle staatsinstellings.

“Die verval van staatsentiteite sal nie meer die probleem van gemeenskappe en private derde partye gemaak kan word nie. Die regering het ook nou ʼn onbetwyfelbare plig om verantwoordelikheid vir plaaslike en provinsiale staatsverval te neem. Hy kan nie verder passief omgaan met daardie verantwoordelikheid nie.”

Sakeliga het wel aangevoer dat dit onvolhoubaar is vir Eskom om voortdurend dienste aan wanbetalende munisipaliteite te lewer.

“Sakeliga is reeds besig met ʼn hofsaak in Noordwes waar daarop aangedring word dat die hof ʼn spesiale betaalmeester by die munisipaliteit aanstel om gelde direk aan verskaffers, soos Eskom, te betaal vir dienste wat gelewer is,” sê Le Roux.

Eskom het vandeesweek hofstukke ingedien wat Sakeliga se aansoek steun.

Hoewel bloot die aanstel van ʼn  betaalmeester nie munisipaliteite sal regruk nie, meen Sakeliga dat dit deel is van ʼn proaktiewe strategie om óf behoorlike bestuur en dienslewering deur die staat te herstel, óf ʼn alternatief te bewerk om staatsinstellings van laste te verlig waar hulle nie in staat is om dit te hanteer nie.

“Desnieteenstaande bied die hofuitspraak in die Resilient-saak die nodige verligting vir verskeie sakeondernemings en gemeenskappe teen strawwe en grootmaat elektrisiteitsonderbrekings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Madz ·

WELL DONE! ‘n Klein lig-straaltjie in hierdie enorme DONKER tonnel!

koos ·

Kan jy glo dat mede-burgers so iets aan jou kan doen – ek het betaal maar nogtans word ek gepenaliseer? Dit is dieselfde met e-snot: ek betaal brandstofheffings dat dit klap maar nou moet ek ekstra vir scamral betaal omdat ek durf om op my hoofweg ry. Hierdie land is inderdaad ‘n siek plek.

Pieter ·

Hoe wil jy n land best maar jy het nie eers graad een klaar gemaak nie. Die anc land is om van op te gooi.

Casper ·

As ek die konstitusionele hof se uitspraak reg verstaan mag betalende inwoners van ‘n munisipaliteit nie meer deur krag onderbrekings geteister word nie maar moet die munisipaliteite wat wanbetaal aan escom vasgevat word.

Deon ·

Ek stem saam dat die publiek nie verder gyselaar gehou kan word nie en dat daardie bal nou in die regering se hande is. Sal maar sien wat hier gewen word…. Wat gaan met n “wan betalende munisipailteit” gebeur? Gaan die anc sy eie ongeskoolde mense aanvat? Of gaan eskom maar net sonder geld bedryf word en biljoene van die staat af kry om hulle te help “red” wat dan nou uit die aard van die saak n ” dubbel” betaling vir die belasting betaler word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.