Betalende kliënte die hardste getref deur lasvermindering

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Janosch Diggelmann/Unsplash)

Inwoners van Marken in Limpopo, wat getrou betaal vir krag, sit daagliks tot agt uur lank in die donker weens sogenaamde lasvermindering. Dít is ʼn maatreël wat Eskom ingestel het om verbruikers met onwettige kragverbindings te straf, maar nou moet die plaaslike skool, sakeondernemings én boere vir die gelag betaal.

Marken Primary School was vandeesweek genoop om sy leerders huis toe te stuur omdat die skool se begroting dit bloot nie toelaat om die skool se kragopwekker vir die res van die week te laat hardloop nie.

Intussen word plaaslike ondernemings genoop om hul kragopwekker ten duurste te laat hardloop te midde van die buitensporig hoë brandstofpryse.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, sê lasvermindering word ingestel in gebiede waar kragtoevoerpunte oorlaai word weens onwettige kragverbindings en ander vorme van diefstal van elektrisiteit.

Lasvermindering word soggens vanaf 05:00 tot 09:00 en saans 17:00 tot 22:00 ingestel. Mantshantsha sê indien kragtoevoer nie in dié tyd afgeskakel word nie, word Eskom se infrastruktuur erg beskadig weens die oorlaaide netwerk. Die skade sluit in ontploffings van transformators, mini-substasies en ander toerusting.

Sonja Jordaan, skoolhoof by Marken Primary School, sê dié skool se kragrekening beloop maandeliks gemiddeld meer as R50 000 en word elke maand betyds betaal. Tog sit leerders en onderwysers aan dié skool sommige dae tot agt uur lank sonder enige elektrisiteit.

Marken Primary School (Foto: Facebook)

Jordaan sê die skool se koshuis is die grootste kopseer. Altesame 295 jong kinders gaan hier tuis. “Daar is geen manier dat ons die kragopwekker kan afskakel nie. Die kombuis moet kos voorsien en wanneer die krag af is, is dit pikdonker hier.

“Die kinders het onlangs eksamen geskryf en hulle kon nie [vroegoggend] hul vraestelle sien nie. Dit was te donker.”

Die skool moes sedert 18 Mei – die eerste dag waarop lasvermindering in Marken ingestel is –  meer as R37 000 aan brandstof bestee net om sy kragopwekker te laat hardloop. Dié kragopwekker is verlede jaar vir beurtkrag en noodgevalle aangekoop.

“Nou moet ons hom elke dag ses tot agt uur lank laat hardloop.

“Ek moes verlede week vir toestemming by die distriksdirekteur vra sodat die kinders hierdie week by die huis kon bly, want ons kon nie die ligte aanhou met die geld wat ons tans in ons rekening het nie.

“Ons is al R21 000 in die rooi wat ons begroting betref.”

Ook sake-eienaars en boere in die omgewing van Marken en omliggende gebiede word deur die lasvermindering geraak.

“Ons is permanent op lasvermindering. Jy staan net in die oggend op en dan is dit donker,” vertel Rone Hennop, wat op ’n plaas in die omgewing van Marken woon en ook ’n sweiswerk-onderneming bedryf.

Hennop sê Eskom wissel deesdae die tye waartydens lasvermindering ingestel word. Die tye word egter nie vooraf aan verbruikers verskaf nie.

(Foto: Maroela Media)

Hennop verduidelik voorts plaaslike ondernemings en die plaaslike jagtoerusting-verskaffers van Marken het net op hul voete begin kom ná die afsonderingstydperk, toe hulle deur die gebrek aan elektrisiteit gekelder word. Sommige gaste kanselleer selfs hul jagtogte weens die kragonderbrekings.

“Ek dink nie Eskom besef die bose kringloop wat geskep word nie. Daar kom eindelik nou weer voete op die dorp. Maar hoe verduidelik jy aan hierdie mense dat daar nie krag is nie en hulle dus nie met hul kaart kan betaal nie?” wil Hennop weet.

Wanneer daar nie krag nie, is daar boonop nie selfoonopvangs nie.

“Die mense wat werklik deur lasvermindering geraak word, is eindelik dié wat ’n ekonomiese bydrae tot die land lewer en belasting betaal, terwyl dié wat dit veroorsaak grotendeels diegene is wat van toelae afhanklik is. Dít is wat my omkrap.”

Jordaan en Hennop sê hulle het die afgelope maand al verskeie skrywes aan Eskom gerig. “Jy kry net geen antwoord nie,” vertel Jordaan. “Een ouer wat by Eskom werk, kon wel verduidelik dat dit weens onwettige kragverbindings is.”

Mantshantsha het vandeesweek by navraag aan Maroela Media erken dat lasvermindering groot ongerief vir betalende kliënte veroorsaak. Betalende kliënte sal egter groter ongerief moet verduur wanneer infrastruktuur vernietig word en eiendom beskadig word weens ontploffings, meen Mantshantsha.

“Kliënte moet dan weke lank sonder elektrisiteit sit, terwyl onderdele gesoek word om beskadigde toerusting te vervang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Elskom laat staam julle slegtigheid, en raak ontslae van hierdie onwetigge verbindings. Hoekom moet die mense wat betaal daaronder ly? Ek dink almal wat hierdeur geraak word wat hulle rekeninge op tyd betaal , moet weier om belasting te betaal.

Harley Davidson ·

Dit is die realiteit met solar het julle nie escom nodig nie,dit is ‘n duur proses maar met goeie beplanning kan julle ‘n punt bereik wat julle selfonderhoudend kan wees .

Wondermaarnet ·

Ons wat betaal vir ALLES word elke dag gestraf op een of ander wyse, of dit nou krag, petrol, kospryse is, ons word gestraf.

Miena ·

En ons wat voorafbetaalde krag koop betaal BAIE duur vir eenhede en tog moet ons saam in die donker en koue sit.

Mallie ·

Ek stel voor dat eskom ooral oor pre-paid krag installeer dan sal daar minder nie-betalende verbruikers wees.

Nico ·

Ek stem saam maar dit kan omseil word, installeer meterts wat nie omseil kan word nie.

SjN ·

Ek koop my krag vooruit vir die maand en hul kom dus nie ooreenkoms na nie. Wat van privatisering van Eskom.

Pieter ·

Hoekom word daar nie opgetree teen die onwettige stakers nie!?!?! Nou moet die gehoorsame betalende publiek daar onder lei!!!!!! ????????????

Marina ·

Dit gaan nie net daaroor dat jy pre-paid krag installeer nie. Hierdie kom al lank voor dit, van die munisipaliteite skuld Eishdom so baie dat hulle “load reduction” toepas wat natuurlik net so erg is. Die betalende mense moet ongelukkig ook daaronder ly

Agge nee ·

Waarheen ‘hardloop’ die kragopwekker? Dit is ‘n direkte vertaling van ‘run’, kry tog julle terme reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.