Beter reëls vir voorkoming van bek-en-klouseer gevra

Foto verskaf deur die VF Plus

Die VF Plus het Dinsdag, ná ʼn onlangse oorsigbesoek aan die grensdraad tussen Letaba Ranch (Krugerwildtuin) en plaaslike gemeenskappe in die gebied, in Limpopo se wetgewerkomitee vir landbou en landelike ontwikkeling gevra vir beter voorkomende maatreëls om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom en te beheer.

“Die onlangse uitbreking is wel eerste in Noordwes gevind, maar daar is ook in Limpopo uitbrekings in die Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit in die Vhembe-distrik (Giyani, Louis Trichardt) en in Phalaborwa in die Mopani-distrik,” sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus.

“Op die roete na die grensdraad was daar geen sigbare monitering van die rooi sones of padblokkades om die vervoer van vee uit die gebiede te keer nie. Tydens die besoek is ʼn trop beeste, wat aan lede van die plaaslike gemeenskap behoort, gevind wat aan die oorkant van die grensdraad op ʼn gebied, aangrensend aan die Letaba Ranch, gewei het.”

Maritz sê dit is duidelik dat die grensdraad nie onderhou word nie en dat vee dus in aanraking kom met wilde diere, soos buffels wat bekend is as draers van die bek-en-klouseervirus en sodoende ander diere daarmee kan besmet.

Foto verskaf deur die VF Plus

Die VF Plus het in die komiteevergadering daarop aangedring dat die LUR vir landbou, Nandi Ndalane, asook die hoof van dié departement, Ramatsimele Jacqueline Maisela, nog voor die vergadering verdaag klaarheid gee oor die volgende kwessies:

  • Die instandhouding van die grensdraad tussen Letaba Ranch en die plaaslike gemeenskappe;
  • Die afbakening van besmette gebiede;
  • Hoeveel beeste besmet is;
  • Of vee al die nodige voorkomende medikasie ontvang het.

“Plaaslike veeboere kan nie weer skade lei weens die departement se versuim om sy pligte na te kom nie. Met die uitbreking van bek-en-klouseer in 2019 in Limpopo het die provinsie ekonomie skade van R4 miljard gely. Dit is kommerwekkend dat die departement niks daaruit geleer het nie.”

Maritz voeg by die VF Plus dring aan op antwoorde en daadwerklike optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FBS ·

Sal graag die volgende onder die aandag van die skrywer wil bring. Dit is nie buffels of ander wild wat bek en klou na die beeste oordra nie. Die probleem le by die Departement waar die Staats veeartse en amptenare nie hulle werk doen nie en ook DBV wat hulle neus in alles steek inplaas van te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.