Bethal-dubbelmoord: Polisie soek dié man 

Francois Pretorius.

Die polisie is op soek na ʼn man wat hulle moontlik kan bystaan in hul ondersoek na die wrede moord op ʼn geliefde oudleraar en sy vrou van Bethal in Mpumalanga.

Dr. Hannes Beukes (70) en sy vrou, Ibel (67), se liggame is Woensdag in hul voertuig in ʼn veld digby die Bethaldam op die dorp gekry.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê daar word vermoed dat Francois Pretorius hulle kan bystaan in die ondersoek na die moord op die Beukes-egpaar. Enigiemand met inligting oor waar Pretorius hom moontlik bevind, word versoek om die polisie in te lig.

Beukes was jare lank die leraar van die Hervormde kerk op die dorp. Sy vrou was ʼn afgetrede onderwyseres.

Wilco Beukes (72), Hannes se broer, het aan Maroela Media gesê hulle weet eintlik nog nie veel oor die presiese omstandighede rakende die moord op sy broer en skoonsuster nie. Hulle het wel vasgestel dat die Beukes-egpaar se selfone en Ibel se handsak steeds in die motor was en dat net ʼn paar klein goedjies gesteel is.

Pretorius is glo ʼn juwelier op die dorp, asook ʼn lidmaat van die kerk waar Beukes ʼn leraar was.

“Dit was van die begin af vir ons baie eienaardig dat daar nie baie gesteel is nie. Ons het gedink hulle wou dalk die voertuig gesteel het. Die feit bly dat dit eintlik nie saak maak wie dit gedoen het nie, dit is sleg hoe dit gedoen is,” het Wilco gesê. “As jy oud raak, weet jy jy gaan weg, maar nie op só ʼn manier nie.”

Dr. Hannes Beukes en sy vrou, Ibel. (Foto: Facebook)

Die polisie het vroeër gesê die egpaar het Woensdag by hul huis vertrek om hul huiswerker in Emzinoni, ʼn nedersetting buite Bethal, te gaan aflaai, maar nooit weer teruggekeer huis toe nie. ʼn Verbygaande motorfietsryer het die voertuig laatmiddag in die veld opgemerk en alarm gemaak.

Volgens Hlathi het die egpaar ernstige, sigbare beserings aan hul liggame gehad. Paramedici is dadelik ontbied, maar albei is op die toneel dood verklaar.

Intussen kan daar in dié stadium nie vir die Beukes-egpaar ʼn gedenkdiens gehou word nie aangesien hul drie kinders in die buiteland is en weens die Covid-19-regulasies nie na Suid-Afrika mag reis nie. Die egpaar laat ook vier kleinkinders agter.

Volgens Wilco sal die familie ʼn gedenkdiens reël sodra die egpaar se kinders na die land kan reis. Hy het gesê sy broer en skoonsuster wou Kaap toe trek om daar te gaan aftree.

“Ek sal altyd onthou wat my pa van hom gesê het: ‘Daar is ʼn Israeliet sonder bedrog.’ Hannes was ʼn goeie ou. Hy en sy vrou het ʼn goeie verhouding gehad en hulle het weer ʼn goeie verhouding met alle ander mense gehad.”

Enigiemand met inligting oor die moorde of waar Pretorius hom moontlik bevind, word versoek om AO Nico Veldman by 079 396 3652 te bel. Wenke kan ook by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ElizeK ·

Wat gaan nou weer die afgelope week aan!!!
Elke dag is daar n berig van n senior burger wat vermoor is of n onskuldige kind wat verkrag en vermoor word.
Daar word n biddag vir die virus beplan.
Dit is goed en reg so, maar sluit terselfterdyd ook gebed vir moord, roof en verkragting in.

Pieter ·

Vreemde moordsaak, juwelier en lidmaat van sy kerk word verdink. Die motief is altyd die goue sleutel om die verhaal oop te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.