Betogers ontwrig verkeer in Kaapstad

(Argieffoto: SA Polisie)

Verkeer op die N2 én ander paaie in die Wes-Kaap is Dinsdag vroegoggend ontwrig toe betogers klippe gegooi en buitebande en rommel gebrand het.

ʼn Groep van tussen 50 en 60 mense wat hulself Intlungu yaseMatyotyombeni noem, het opgeruk ná ongelukkigheid oor ʼn gebrek aan behuising en basiese dienslewering. Gemeenskappe waaronder Khayelitsha, Langa, Philippi, Nyanga, Mfuleni en Kraaifontein is deur die protesoptrede geraak.

Die polisie se eenheid vir openbare orde is intussen ontplooi en monitor tans die situasie terwyl die polisie glo ondersoek instel na onbevestigde berigte dat taxibestuurders waarskuwingskote op betogers in Makhaza afgevuur het.

Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het nou vir kalmte gevra en die gewelddadige protesoptrede veroordeel.

“Hoewel almal die grondwetlike reg het om te betoog, is geweld en vernietiging eenvoudig onaanvaarbaar. Dit is gevaarlik en onwettig om dit te doen ten koste van die regte van ander, veral hul reg op veiligheid, eiendom en om vrylik te beweeg.”

Die minister het ook daarop gewys dat die vernietiging van private én openbare eiendom ʼn strafbare oortreding is.

Volgens Fritz behoort gewelddadige betogings ten sterkste veroordeel te word, aangesien dit dreig om die ekonomiese geleenthede van baie Wes-Kaapse inwoners te ondermyn en die lewering van basiese dienste aan gemeenskappe wat geraak word, verder vertraag.

Mense met inligting rakende die beweerde waarskuwingskote wat in Makhaza afgevuur is, word versoek om hul naaste polisiestasie te nader of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nozi ·

Ek verstaan nie hoekom betoog hul nog oor dienslewering nie. Dit is dan dieselfde klomp wat die anc aanbewind hou. Lekker, geniet dit en kry vir jul nog net meet van die anc. Pleks jul betook voor die parlement, maar nee dis mos lekkerder om die dorpe te plunder.

Misky ·

Polisie is slapgat en kan nie die mense beheer nie. Waar is julle waterkanonne?

koos10 ·

Misky, gee nie om wat die polisie doen nie, hulle is na die tyd in die moeilikheid. Spuit hulle met water dan kom ‘n minister en oordeel hulle. Skiet hulle kom ‘n ander een en oordeel hulle. Doen hulle niks oordeel die publiek hulle. Doomed if you do, doomed if you don’t!

JM ·

Te lui om te werk. Makliker om te betoog en rond te dans: tog so opwindend. As hulle weer gaan stem, sal dit weer vir die einste Y-EN-CIE wees. Hierdie land is in sy maai.

Johnny ·

Dis nie “betogers” nie. Dis vandalistiese oproermakers.

Coenraad ·

As die berigte oor die taxibestuurders waar is, is dit goed. Darem iemand wat iets doen!

Mariana ·

Dit is herhaaldelik en heel waarskynlik ook dieselfde mense. Hulle doen dit en kom weg met dit. Wanneer gaan daar opgetree word, deur regering en polisie. Polisie kan waterkanonne vinnig gebruik vir pensioenarisse en vreedsame optogte maar vir dir spul is hulle bkykbaar bang. Of is daar ook ‘n verskuilde agenda met die oproeriges.

andre ·

As n slagoffer van n klipgooi insident en n gewisse dood met 5cm vrygespring het net die volgende.
Die mense kom van oral na die Wes-Kaap en beset privaatgrond ontwettig,gewoonlik langs strategiesie roetes wat deur wetsgehoorsame belastingbetalers gebruik word.Dan begin hulle bande brand en die pad beskadig en wetsgehoorsame landsburgers se lewens in gevaar stel omdat hulle dienste vereis.Die Media tree dan in en noem hulle ” betogers”.Vervolgens begin die munisipaliteit vir hulle dienste verskaf.
Dan kom die volgende “golf” en die proses herhaal hom weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.