Beurtkrag bly vir eers SA se voorland

(Argieffoto)

Eskom het sedert 8 September nog glad nie beurtkrag in werking gestel nie en sê hy kon in hierdie tyd vir drie agtereenvolgende weke aan Suid-Afrika se vraag na krag voorsien met die minimum gebruik van sy oopsiklus-gasturbines.

Eskom het Donderdag terugvoer gegee oor die stand van die kragnetwerk.

Segomoco Scheepers, groephoof van transmissie by Eskom, het egter gewaarsku dat Suid-Afrikaners ʼn verhoogde moontlikheid op beurtkrag in die komende maande kan verwag. Die meeste van die land se steenkoolkragsentrales is verby hul bedryfsleeftyd en breek gereeld.

Daar is reeds begin met instandhouding- en opknappingswerk om die stelsel meer betroubaar te maak en teen laat volgende jaar op ʼn aanvaarbare prestasievlak te kry.

Volgens André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het die kragvoorsiener oor die afgelope agt maande hard gewerk aan die inwerkingstelling van veranderinge aan die Medupi- en Kusile-kragsentrale.

De Ruyter sê tesame met die herstel van foute wat die doeltreffendheid van die nuwe kragsentrales gepootjie het, het Eskom ook daarop gekonsentreer om betroubaarheidsinstandhoudingswerk aan die res van sy kragsentrales te doen wat die vertoning van Eskom se verouderende vloot moet verbeter.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Eskom)

“Dié instandhoudingswerk is volstoom aan die gang en die tasbare voordele sal teen April volgende jaar ondervind word. Ons voorsien dat ons ʼn effense verminderde risiko vir beurtkrag teen September volgende jaar gaan hê, hoewel die risiko daarvan nog nie heeltemal uitgeskakel kan word nie,” het hy gesê.

Eskom se spanne moes die afgelope vyf maande boonop binne die bepalings van die Covid-19-afsonderingstyd werk en Jan Oberholzer, bedryfshoof, sê ʼn balans moes gevind word tussen die ligte aanhou en instandhoudingswerk doen.

Onbeplande instandhoudingswerk het minstens verbeter van 23% verlede jaar tot die huidige 19%.

Eskom sê die kragvoorsiener se negepunt-opwekkingsherstelplan vorder goed en ingevolge dié plan is ses uit sewe eenhede wat weens langtermynwerk buite diens was, weer aan die netwerk gekoppel.

“Ons het voorts 1 384, oftewel 75%, van die 1 852 belangrike poste wat in April vanjaar ingevolge die plan geïdentifiseer is, gevul,” het Rhulani Mathebula, waarnemende groephoof van opwekking, gesê.

In ʼn verdere poging om meer deursigtig te wees, het Eskom verlede maand ook ʼn dataportaal op sy webwerf bekend gestel wat ʼn aanduiding van die vertoning van die netwerk gee. Dit sal mettertyd ook intydse inligting oor die stand van die opwekkingstruktuur gee.

Eskom sê munisipaliteite se agterstallige skuld het teen die einde van Augustus R31,4 miljard beloop en De Ruyter het weer benadruk dat die beginsel dat diegene wat krag gebruik daarvoor moet betaal, afgedwing moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanncb ·

Wow! Julle kon vir drie weke voorsien sonder onderbrekings! Wat ‘n prestasie!
Feit bly staan, julle moet vir dertig jaar kan voorsien, sonder onderbrekings!

Pieter ·

Kom ek stel gou die spelfout reg: “Beurtkrag bly vir ewig SA se voorland”.

Persheks Adri ·

Ons betaal immers vir dit ten duurste so gaan begin in die townships waar krag onwettig aan-gelas-lappie word… Die krag in die strate brand in die dag eish Eskom

Marilize ·

As al die onwettige “krag-konneksies” in Soweto alleenlik afgesny word, sal daar reeds minder druk op die stelsel wees.

Hoekom word dit nog toegelaat, en kinders skok dood. Almal is bewus van die konneksies, maar dit word net gelos. Soos alles in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.