Beurtkrag kos Mpumalanga tot R69 miljoen per dag

Argieffoto (Foto: Robert Weidemann/Unsplash)

Die langdurige beurtkrag weens Eskom se verlaagde opwekkingsvermoë kos Mpumalanga tussen R49 miljoen en R69 miljoen per fase per dag.

“Dit gee ʼn idee van die omvangryke ekonomiese skade wat reeds oor jare aangerig is,” sê Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus.

In antwoord op ʼn vraag van die VF Plus het die LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, berekeninge van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in dié verband beaam. Daarvolgens is die koste van fase 4-beurtkrag tussen R196 miljoen en R276 miljoen per 24-uursiklus of tussen R8,2 miljoen en R11,5 miljoen per uur.

Die grondslag vir die berekening is die aantal ure beurtkrag en die nasionale koste van beurtkrag (R500 tot R700 miljoen) in 2021; wat dan aan verskillende fases daarvan toegeken is, verduidelik Weber.

Die beraamde koste per fase per dag vir die provinsiale landboubedryf sal tussen R1,4 miljoen en R2 miljoen beloop, en tussen R5,6 miljoen en R8 miljoen tydens fase 4.

Vir die provinsiale mynbedryf is die beraming tussen R13 miljoen en R19 miljoen per fase per dag en tussen R52 miljoen en R76 miljoen tydens fase 4.

“Nuus oor aanhoudende beurtkrag is dus baie kommerwekkend. Duisende werksgeleenthede gaan daagliks verlore en dompel die provinsie en die land dieper in die moeilikheid. Dit is onaanvaarbaar dat Eskom se probleme die afgelope dekade goed gedokumenteer is sonder om te verbeter.”

Weber meen die aanstelling van bekwame en goed opgeleide personeel is die vertrekpunt.

“Intussen sal die gebruik van alternatiewe kragbronne met erns benader moet word om verdere fases van beurtkrag te vermy. Instandhouding moet ook prioriteit geniet. Dit bly skokkend dat die ANC oor jare gestaan en toekyk het hoe Eskom in duie stort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skadu ·

“per fase per dag”, beteken dit op fase 4 is dit 69 x 4, dus tans R276m per dag..?

Peter ·

Dis ‘n druppel in die emmer teenoor wat in dies sirkus aangaan. Se baie dankie vir die wat julle keer op keer voor stem.

Nico ·

Sou hierdie Kommunistiese ANC net aan gegaan het na die oorname in 1994 sou daar nie chaos gewees het nie, toe kom hierdie huidige regering en verwoes alles deur swak beplanning en onbevoegde mense. Eskom het ontslae geraak van goeie geskoolde mense met ondervinding en kennis.

Jack ·

Almal wys gedurig na eskom en sy bestuur maar om die besigheid reg te trek kos geld. Hoeveel van die besighede en individue in mphumalanga is agterstallig en hoeveel miljoene word jaarliks afgeskryf in die provinsie. Moenie net die maklikste teiken aanval nie kyk oral.

Gert ·

Ons gaan so gesels elke slag as iets gebeur en hulle weet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.