Beurtkrag, rentekoerse kan verkope van nuwe motors knou

(Argieffoto: Toyota)

Voortslepende beurtkrag, ʼn verdere verhoging in rentekoerse en hemelhoë brandstofpryse kan dalk binnekort ʼn tol op verkope van nuwe motors in Suid-Afrika begin eis.

Nietemin wys syfers van die Motorhandelsakeraad (Naamsa) dat verkope van nuwe motors vir September vanjaar ʼn jaar-op-jaar-styging van 10,8% gehad het.

Naamsa se syfers wys dat 47 786 eenhede in September vanjaar verkoop is, in vergelyking met die 43 147 eenhede wat in September verlede jaar verkoop is. Dit is ʼn toename van 4 639 eenhede.

Uitvoere skitter ook en ʼn jaar-op-jaar-toename van 104,6% is aangeteken. Altesame 21 199 meer eenhede is in September vanjaar uitgevoer (altesame 41 474 voertuie) as die 20 275 voertuie wat in Augustus verlede jaar uitgevoer is.

Algehele verkope van 47 786 voertuie bestaan uit verkope by handelaars, huurbedryfverkope, verkope aan die regering en aan korporatiewe vlote.

Alex Boavida, adjunkvoorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada), sê verkope van nuwe voertuie bly toeneem, ten spyte van die talle faktore wat dit opdraande gee, maar waarsku dat die prentjie moontlik kan verander.

“Die syfers word aangehelp deur ʼn sterk vertoning van Toyota wat groot vordering toon in sy herstel nadat vloedskade in April die aanleg tot stilstand gebring het,” sê Boavida.

“Die toename in verkope in September is bemoedigend, gegewe die taai handelstoestande weens beurtkrag en ʼn rentekoersverhoging. Dit sluit in voortgesette voorraadtekorte en ʼn voorraadmengsel wat nie ideaal is nie.

“Terwyl fabrieke sukkel om produksie van nuwe motors op skedule te hou, word dit al hoe moeiliker om leweringstye te voorspel, wat beteken handelaars sukkel om kliënte geïnteresseerd in spesifieke modelle te hou.”

Suid-Afrikaanse verbruikers se beursies is ook toenemend onder druk en gewone kragrekeninge moet nou dikwels ook brandstof vir opwekkers insluit. ʼn Groot styging in kragtariewe word verwag en sommige kliënte besluit om sonkragpanele of rugsteunkragstelsels by hul huise en ondernemings te installeer, eerder as om ʼn nuwe voertuig te koop, sê Boavida.

Hy sê verskeping en logistiek bly problematies, hoewel die situasie gaandeweg verbeter. Markte krimp egter en daar is vrese oor ʼn moontlike wêreldwye resessie. Plaaslik is daar ook beperkings op die hoeveelheid beskikbare voertuigvragdraers terwyl uitvoere verhoog word.

Daar is ook toenemende plaaslike belangstelling in sogenaamde nuwe energievoertuie, wat insluit die ten volle elektriese modelle wat nou op die mark kom.

“Kliënte is gretig om meer oor hierdie voertuie te weet voordat hulle enige aankoopbesluite neem en terwyl ʼn betreklik stadige oorgang van binnebrandenjins verwag word, is daar al hoe meer elektriese aanbiedinge van verskillende handelsmerke wat die mark betree.”

Daar is steeds ʼn groot vraag na gebruikte voertuie en Boavida sê die beskikbare voorraad van dié modelle is ook besig om te verbeter.

  • Die berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. – Red 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wielspore ·

Die internasionale neiging is om nuwe motors goedkoper te verkoop en dit makliker te maak vir die verbruiker om te koop. Die handelaar sal eerder sy wins maak met die diens en instandhouding van die voertuie. Ekonomies is dit beter vir ons land want meer mense kan nuwe motors bekostig en daar is minder wrakke op ons paaie. VW het so pas die nuwe Polo sedan bekend gemaak teen ‘n goeie prys, dieselfde geld vir Toyota Corolla Cross en ander modelle ook. Die regering sal moet begin betrokke raak by kort termyn versekering, na my mening is hulle ‘n klomp geld wolwe.

Piet 6 ·

Die nuwe Polo sedan is omtrent R50 000.00 durder as die eenbwat hy vervang

Pieter ·

Ek dink nie die stelling is korre knie. Die persentasie maak nie sin nie.
“Uitvoere skitter ook en ʼn jaar-op-jaar-toename van 104,6% is aangeteken. Altesame 21 199 eenhede is in September vanjaar uitgevoer teenoor 20 275 ʼn jaar gelede.”

Megan Swart ·

Dagsê Pieter
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan nms Maroela Media

melaney ·

Voertuie is nou so duur, ek glo nie ek sal ooit ‘n nuwe voertuig kan bekostig. Gebruikte motors sal my nog meer uit die sak jaag, want ek sal elke dag iets aan die motor moet laat herstel.

AmY ·

Ons het September elke dag vir vier tot ses ure beurtkrag gehad.
Toe ons elektisiteit rekening kom, is dit R600 meer. Ons bly in ‘n klein woonstelletjie en gebruik nie eens elke dag ons stoof nie.
Ek skakel die tv net ná 08h00 af en eers weer 17h00 aan. Ons kook ons koffiewater op die gas.
Wat gaan aan?
Betaal ek vir iemand in my kompleks se elektrisiteit
Hier is mense wat derduisende rande agter is, en ons kompleks kry gereeld dreigmente dat ons gesny gaan word.

vuurvliegie ·

In komplekse is daar is ‘n ding soos winter kragtariewe wat verskil van mekaar.

SwartBees ·

Sal nogal daarvan hou as voertuig pryse bietjie goedkoper raak. Huidiglik kan ek nie n nuwe motor bekostig nie en sal my kar moet ry tot die wiele af val.

Hendrik ·

Gelukkig is ons 100% onafhanklik (met geen fisiese koppeling aan Eskom). Nuwe motor gaan ek nie weer koop nie maar miskien verander ek een van my ou motorkarre s na elektries. Om BTW belastings te betaal vir elektrisiteit en brandstof gaan nie goed af by my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.