Beurtkrag: Só raak dit jou toestelle

Suid-Afrikaners kan nie help om te wonder wat die invloed van beurtkrag op elektroniese en elektriese toestelle het. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.)

Beurtkrag is reeds ʼn geruime tyd aan die orde van Suid-Afrikaners se dag, maar, afgesien van die ongerief wat dit kan veroorsaak, wonder mense dikwels ook oor die volle uitwerking daarvan op elektriese en elektroniese toestelle.

Virseker en KragDag het die antwoorde hierop en ook ʼn handige beutkragoorlewingsgids om jouself en jou besittings te beskerm.

“Daar is ongetwyfeld reeds om talle braaivleisvure gesels oor hoe beurtkrag waarskynlik selfone, geisers, dekodeerders, modems, hekmotors en ander toestelle kan beskadig en hoe jy jouself daarteen moet beveilig,” sê Ricardo Coetzee van Virseker. “Die goeie nuus is dat Suid-Afrikaners hulself, hul besittings en hul beursies wel met genoegsame kennis en slim beplanning goed kan beskerm.”

Volgens die span van KragDag verskil die uitwerking van beurtkrag heelwat van een soort toestel na ʼn ander:

 Toestelle wat suiwer weerstandslaste dra, soos stowe, geisers, ketels en verwarmers: In hierdie gevalle is daar geen effek op die toerusting as die krag afgeskakel of aangeskakel word nie.

 Toestelle wat reaktiewe laste dra, soos yskaste, tuimeldroërs, grassnyers, skottelgoedwassers, wasmasjiene, haardroërs en hekmotors: Hierdie toestelle het gewoonlik ʼn elektriese motor wat, wanneer die stroom onderbreek word, blootgestel word aan ʼn spanningstuwing.

Hoewel onbeskermde toestelle – veral modelle van ’n ouer generasie – in hierdie klas met spanningstuwings beskadig kan word, is daar gewoonlik beskermingsmaatreëls ingebou om elektroniese komponente teen hierdie stuwings te beskerm. Skade weens die aan- en afskakel van krag kom gevolglik min in die praktyk voor.

Toestelle soos selfoonlaaiers, dekodeerders, rekenaars, radio’s en modems gebruik relatief min energie en is gewoonlik gekoppel aan ʼn kragbron wat die hoë lyntoevoerspanning verminder tot ʼn lae gelykstroomspanning. Hierdie kragbronne is meestal robuus en laat nie spanningstuwings deur na die elektroniese toerusting nie. Verder het hierdie toerusting, soos selfone en rekenaars, batterye wat moontlike nagevolge van aan- en afskakel verder verminder. Sou ʼn stuwing skade aanrig, is dit gewoonlik net die kragbron wat in die slag bly.

Verkoelingstoerusting soos yskaste, vrieskaste en lugversorgers is in een opsig wel kwesbaar vir beskadiging met kragonderbrekings: Toestelle soos dié werk meestal met kompressors, waar gas onder druk ʼn weerstand kan bied wanneer krag weer aangeskakel word en so die toestel se motor kan uitbrand.

Driefase-kragstelsels is kwesbaar vir beskadiging met beurtkrag omdat dit dikwels gebeur dat een of meer fases verlore is wanneer kragtoevoer herstel word. Dit het ʼn effek dat twee of meer fases nie op werkspanning is nie, maar ʼn laer spanning het. Die gevolg is dat driefase-motors ongebalanseerd loop en kan uitbrand. Omdat sommige fases dan ʼn laer spanning het, kan dit, wanneer dit as enkelfase aangewend word, ook tot gevolg hê dat sommige enkelfase-toerusting, veral dié met motors, beskadig word.

Batterye – wat in enigiets van selfone tot hekmotors en alarms se rugsteunstelsels gebruik word – is ook kwesbaar met beurtkrag. Weens batterye se chemiese samestelling is dit vir chemiese batterye nodig om altyd ʼn sekere minimum lading te behou. Sou die volle batterylading van die battery gebruik word, sal die batterylewe aansienlik verkort word.

Batterye se lewensduur word ook deur vervaardigers in terme van die aantal laaisiklusse gewaarborg. ʼn Battery se vermoë om lading te behou (kapasiteit) neem geleidelik af met gebruik. ʼn Gevolg van beurtkrag is dus ʼn verkorting van die lewensduur van batterye, waaronder dié van hekmotors en alarms se rugsteunbatterye.

Foto: NRD/Unsplash

Virseker en KragDag het die volgende wenke vir beurtkrag:

  • Skakel yskaste en lugversorgers af tydens beurtkrag. Sodra die kragtoevoer herstel is en jy seker is dat die kragvoorsiening en lading stabiel is – ʼn goeie aanduiding is dat ligte nie flikker, of dowwer of helderder as gewoonlik brand nie – skakel dan die yskaste, vrieskaste en lugversorger aan. Skakel ook ander toestelle, veral dié wat ʼn brandgevaar inhou wanneer die kragtoevoer herstel word, af tydens beurtkrag en skakel toestelle geleidelik aan sodra die toevoer herstel word. Dit verlaag die stuwingsrisiko.
  • ʼn Wisselrigter-battery-rugsteun (UPS) is waarskynlik die beste manier om jou elektroniese toestelle te beskerm. Die voordeel van die UPS is dat dit, danksy batterykrag wat ʼn paar ekstra minute kan koop, jou in staat stel om rekenaars en ander toerusting onder beheerde toestande af te skakel.
  • Hou ys- en vrieskaste toe, sover moontlik. Die inhoud behoort so redelik maklik oornag koud te bly.
  • Hou die beurtkragskedule byderhand waar jou gesin dit kan sien. Dit sal jou help om betyds voor te berei.
  • Kry ʼn paar sterk sonkrag-ligte vir jou tuin en LED-ligte vir binne. Lig is ʼn afskrikmiddel vir misdadigers. Maak ook seker dat jy altyd ʼn sterk flitslig byderhand het.
  • Hou jou foon gelaai, of belê in ʼn draagbare laaier, sodat jy steeds ʼn oproep kan maak indien nodig.
  • Indien jy hekke by jou huis met die hand moet oopmaak, maak seker dat iemand daar is om jou te ontmoet by die ingang, of dat ʼn sekuriteitsmaatskappy jou vergesel.
  • Maak seker dat alarmstelsels, motorhuisdeure en elektriese hekke almal goeie rugsteunbatterye
  • Gebruik sekuriteitsmaatreëls wat nie afhanklik is van elektrisiteit nie – soos slotte en diefwering – as ekstra linie van verdediging.

Foto: Matias Wong/Unsplash

Doen verder ook jou deel om energie te bespaar en druk op die stelsel te verlaag:

  • Gebruik energiedoeltreffende gloeilampe wat tot 90% elektrisiteit kan bespaar.
  • Gebruik slim-muurproppe wat jy met ʼn app kan bestuur om toestelle in jou huis op bepaalde tye af te skakel en toestelle wat gewoonlik op bystand aan sou wees (en so meer elektrisiteit sou gebruik) eerder heeltemal af te skakel.
  • Gebruik tydhouers vir toestelle soos geisers, swembadpompe en sekuriteitsligte om dit net op bepaalde tye aan te skakel en energie te bespaar.
  • Belê in nuwer toestelle. Ou toestelle gebruik oor die algemeen meer elektrisiteit, so dit is ʼn slim besluit om hulle eerder van die hand te sit en nuwe, meer energiedoeltreffende toestelle aan te skaf. Nuwe toestelle se energiedoeltreffendheid word op ʼn skaal van A tot G geklassifiseer, met A wat die mees doeltreffende is en G die minste.
  • Betrek almal in jou gesin by energiebesparing en kweek goeie gewoontes aan, soos om ligte af te skakel wat onnodig brand en toestelle net so lank aan te hou en te gebruik as wat absoluut nodig is, veral gedurende piektye (dit is meestal in die oggend voor werk en in die aand, terwyl mense tuis aankom).
  • Ondersoek alternatiewe energiestelsels, soos ʼn kragopwekker, batterystelsel, sonkragstelsel, gasstoof en geiser en kaggel, sover jou begroting dit toelaat.

“Die goue reël is om proaktief te dink aan al die maniere waarop dinge kan skeefloop en deeglik daarvoor te beplan,” sluit Coetzee af. “Dit is ook van uiterste belang om genoegsame versekering gereed te hê ingeval teëspoed jou wel tref tydens beurtkrag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wondergraag ·

Ja, sit af as dit beurtkrag is. Vergeet julle, ons werk, ons slaap. Wie staan 2uur ogge d op, sit af en staan weer half 5 op en sit weer aan. Ag nee, dink net raak ontslae van beurtkrag

Scalla ·

As Eskom hul werk reg doen is die maatreëls nie nodig, punt, pateties.

Pieter J ·

Eskom se beurtkragskedules is maar deurmekaar. Waar ek bly het die krag vroeër vanaand afgegaan en toe ń halfuur later kom dit skielik weer aan.

Fluisterwind ·

Dankie vir ‘n baie insigewende berig. Weereens 2 kante nl. geen effek op informele needersettings met min of geen elektriese toestelle soos hierbo genoem, terwyl welvaarende mense wat bydra tot die land se ekonomie moet ly onder die staat se “stille” oorlog teen diegene. Sterkte vir almal met ons beurte vir die volgende 18 maande!

netekalleen ·

En ek sien nou die naweek is die App’s wat mens kry om loadshedding tye te wys is ook nie meer so akkuraat nie. So mens kan ook nie op dit vertrou nie

Meisie ·

Die skedules is nie akkuraat nie, dankie aan Eskom wat my al 2 wasmajiene gekos het! Ek het nie tyd om die krag voor en na die tyd aan en af te sit nie, ek sit nog minder en was vir loadshedding.. Hulle skakel ook krag met minstens 20 min al voor die tyd af in elk geval!

Nella ·

Ek wonder of Kragdag of Ricardo weet wat hulle sê. Die oomblik wat die krag afgaan, kan daar nie kragstuwings deurgaan nie. Dit het niks met die item self te doen nie. Dit is die oomblik wanneer die krag aangaan, wat kragstuwings plaasvind. Die voltage daal en ampere styg sky high. As die krag afgaan, is dit dieselfde jy sit dit by die muurprop af. Wanneer daardie krag aangaan, hardloop die “krag” na die naaste item toe en dit veroorsaak dan ‘n spike en blaas jou items. Ook nie altyd nie. Maar dit is wat gebeur wanneer daar ‘n spike is

Smurf ·

Die onbevoegdheid van die korrupte Eskom gaan ons nog baie meer kos as wat ons dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.