Beweerde baasbrein van bedrogsindikaat vas

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Die Valke het Maandag die beweerde baasbrein van ʼn bedrogsindikaat in Port Elizabeth in die Oos-Kaap vasgetrek. Die sindikaat het glo lenings vir motors uitgeneem, maar nooit die lenings óf motors afbetaal nie.

Die 52-jarige verdagte word verbind met 22 klagte van bedrog ter waarde van R13,9 miljoen. Al dié sake is tussen Januarie 2013 en Julie 2019 by die polisie in Port Elizabeth en Oos-Londen aangemeld.

Volgens lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het die verdagte en sy medepligtiges glo aansoek gedoen om lenings by verskeie banke om voertuie aan te koop. Die aansoeke om lenings is gemaak deur bedrieglike betaalstrokies en bankstate te gebruik.

“Sodra dié lenings goedgekeur en voertuie ontvang is, het die verdagtes geen opvolgbetalings aan banke of voertuighandelaars gemaak nie,” sê Nkwalase. Die sindikaat het glo ook tussengangers aangestel wat namens hulle aansoek om dié lenings gedoen en voertuie aangekoop het.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Volgens Nkwalase sal die verdagte na verwagting Woensdag vir die eerste keer in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn. Hy word aangekla van diefstal, bedrog, geldwassery en vervalsing. Die polisie verwag dat meer inhegtenisnemings sal volg.

In ʼn afsonderlike voorval is die direkteur van ʼn maatskappy in Mpumalanga in hegtenis geneem vir bedrog met betrekking tot inkomstebelasting.

Phumzile Rosemary Nhlapho (44), die hoof van Nomsombuko Trading, is Maandag in die Nelspruit-landdroshof op borgtog van R4 000 vrygelaat. Hy is vroeër die dag deur lede van die Valke in hegtenis geneem.

Nhlapho het glo vervalste belastingopgawes in Maart verlede jaar ingedien, wat daartoe gelei het dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens R400 000 verloor het. Hy moet weer op 19 Mei in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.