‘Binnelanders’-akteur op sy knieë (en antwoord is ‘dawerende ja’)

Verloof! Hykie Berg en Gerridene de Vries. (Foto: Facebook)

Hykie Berg, wat te sien is as dr. Conrad Bester in die kykNET-sepie Binnelanders, het op sy knieë afgesak om sy spesiale vriendin, Gerridene de Vries, die jawoord te vra … en die antwoord was ʼn “dawerende ja”, het die gewilde akteur Sondag op sosiale media bekend gemaak.

Dit was boonop ʼn groot verrassing vir De Vries, het Berg verklap.

“Baie dankie aan almal wat ons in hul gebede gehou het, ons beskerm en geseën het en in ons lewe ingeploeg het.

“Dankie aan al ons mentors, vriende, afrigters en spirituele leiers wat tydens ons reis deur die wildernis by ons gestaan het,” het Berg by die aankondiging oor die verlowing geskryf.

Berg, ook ʼn spreker en entrepreneur, het De Vries, ʼn prokureur, by die luukse Moditlo River Lodge in Limpopo gevra om te trou.

Hykie Berg en sy verloofde, Gerridene de Vries, lyk dolgelukkig. (Foto: Facebook)

“Baie dankie aan die personeel by die Moditlo River Lodge. Gerridene het nie ʼn ding verwag nie,” het Berg geskryf.

Berg het in Oktober verlede jaar aangekondig dat hy en sy eerste vrou, Melissa, se paaie geskei het.

“Die redes is nie van belang nie; ons sal ook glad nie in diepte met die pers hieroor gesels nie. Ons al twee is deur ʼn moeilike tyd en diep waters en ons respekteer mekaar se privaatheid.

“Ons sal wel almal se gebede innig waardeer. Dankie vir al my vriende, fans en familie, vir jul bystand, jul liefde en al jul gebede. Ek is ontsaglik lief vir julle,” het hy destyds gesê.

Tientalle boodskappe van gelukwensing met Berg en De Vries se verlowing het reeds ingestroom.

(Foto: Facebook)

Berg was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha Roux ·

Baie geluk Hykie, uit my hart wens ons vir jou en Gerridene, net geluk en voorspoed toe. Met Jesus as Stuurman sal jul huweliksbootjie op veilige vaarwaters wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.