BioNTech-entstof teen Covid-19 gou in SA vervaardig

Die Biovac-instituut in Pinelands. (Argieffoto: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse maatskappy Biovac is aangewys om die Pfizer-BioNTech-entstof teen Covid-19 op tuisbodem vir verspreiding binne die Afrika-unie (AU) te vervaardig.

Die maatskappy wat in Kaapstad gesetel is, is die eerste maatskappy in Afrika om ʼn sogenaamde mRNA-gebaseerde entstof te vervaardig. Die mRNA-enstowwe is ʼn betreklik nuwe soort entstof wat teen aansteeklike siektes help beskerm. Dit leer die liggaam se selle hoe om ʼn proteïen te maak wat ʼn immuunreaksie in die liggaam veroorsaak.

Biovac gaan dadelik met voorbereiding vir die vervaardiging begin. Dit sluit in die oordrag van tegniese bedrywighede, ontwikkeling op sy perseel en die installering van toerusting.

Bestanddele sal van aanlegte in Europa bekom word, maar die eerste afgehandelde dosisse sal eers aanstaande jaar beskikbaar wees. Volgens die maatskappy sal jaarlikse produksie eindelik 100 miljoen dosisse beloop en dit sal uitsluitlik in die 55 lidlande van die AU versprei word.

Biovac verwag dat die aanleg teen die einde van vanjaar deel van die Pfizer-BioNTech-verskaffingsketting sal vorm.

“Dit is ʼn belangrike stap vorentoe in die versterking van volhoubare toegang tot ʼn entstof in die stryd teen die tragiese wêreldwye pandemie,” sê dr. Morena Makhoana, uitvoerende hoof van Biovac.

Albert Bourla, voorsitter en uitvoerende hoof van Pfizer, sê dit was uit die staanspoor die maatskappy se doelwit om gelyke toegang tot die entstof vir almal te verseker.

“Ons samewerking met Biovac is ʼn skitterende voorbeeld van die onophoudelike werk wat gedoen word, in dié geval tot voordeel van Afrika,” sê Bourla.

Hy sê daar word intussen voortgegaan om soortgelyke geleenthede elders ter wêreld te ondersoek om toegang tot Covid-19-entstowwe verder te versnel.

“Ons mik daarna om mense op alle vastelande in staat te stel om ons entstof te vervaardig en te versprei terwyl die gehalte van die vervaardigingsproses en die dosisse verseker word,” sê Ugur Sahin, uitvoerende hoof en medestigter van BioNTech.

Pres. Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as kampvegter vir die AU, het die aankondiging verwelkom en sê dit is ʼn deurbraak in pogings om wêreldwye entstofongelykheid te oorkom.

“Die samewerkingsooreenkoms gee erkenning aan die talent en tegnologie op die vasteland wat gebruik kan word in ons onstuitbare opmars na volhoubare en inklusiewe ontwikkeling.”

Ramaphosa sê hoe meer mense die entstof ontvang, hoe veiliger gaan hulle as individue, gesinne en gemeenskappe wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem ·

Hahaha grap van die jaar!!!!Gaan van dieselfde kwaliteit as China se entstof wees,lae standaard entstof!!!!

Jaco ·

Ek neem aan dié besigheid se regstellende aksie en BEE en planne vir finansiële gunsies vir ANC politici onder die tafel is alles klaar reg.

casper ·

Dit is net ;n bottel vulen verpak aanleg wat hier begin !! Die inhoud kom steeds van oorsee.

Rian ·

Pasop net om nie ligging aan die plundelaars bekend te maak nie.

Rian ·

Afduimpie waarom gee jy nie eerder jou opinie nie, instede van n anonieme afduim.

Kokerboom ·

Word die onderneming deur belastingbetaler gefinansier? MM monitor die aksie asb!
As ons geagte President maar net so passievol oor sy verbrokkelende land as die AU was sou ons ongekende voorspoed kon ervaar!

Belinda ·

gou se julle… nee dankie nog minder sal ek dit dan wil laat inspuit… Ek sal niks van ons land vat nie, mense hier het geen trots in hul werk mee nie.

ooknetmens ·

Dis skokkend hoe sinies al die kommentaar is op die berig. Suid Afrika se dokters is wêreldklas, want hulle red steeds lewens met minimale hulpbronne. Suid Afrika se vlieëniers is wêreldklas want hulle hou vliegtuie in die lug met gebrekkige parte en ou vliegtuie…julle is gou om alles uit Suid Afrika afteskiet as swak en sleg. Maar ons is uiters innoverend en uiters bevoeg. Ons omstandighede dwing ons om briljant te wees ten spyte van die feit dat ons n derdewêreldse land is met geen regeringshulp nie. Ek is trots Suid Afrikaans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.