Bittereinder-man se borgtogaansoek duur voort

Francois van der Merwe (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Francois van der Merwe (25), ’n direkteur van die Bittereinders-beweging, sal moontlik “’n gevaar vir die publiek inhou en hom weer skuldig maak aan nog oortredings sou hy op borgtog vrygelaat word”.

Van der Merwe is in aanhouding ná hy tydens ʼn betoging voor die Groblersdal-landdroshof in Limpopo in hegtenis geneem is.

Volgens die staat sou Van der Merwe meer as 100 mense aangespoor het om die polisie dié dag teen te staan. Sodoende het Van der Merwe na bewering openbare onrus veroorsaak en die hele dorp tot stilstand gedwing. Verder word hy ook daarvan aangekla dat hy ʼn polisiekolonel aangerand het.

Sy borgtogaansoek het Donderdag in die einste hof hervat.

Sers. Jappie Skosana, ondersoekbeampte, het vir die staat getuig en gesê die kanse is groot vir Van der Merwe om weer misdade te pleeg indien hy vrygelaat sou word.

Hy het die hof ook meegedeel dat verdere inhegtenisnemings moontlik kan volg.

“[Van der Merwe] weet wie dié verdagtes is wat nog gearresteer moet word. Van hulle woon moontlik nie hier nie,” het Skosana getuig.

Van der Merwe het tydens ʼn vorige hofverskyning in ʼn eedsverklaring gesê die polisie het met sy regte ingemeng om ʼn hofsaak by te woon en hom probeer verhoed om “op ʼn vreedsame wyse en met toestemming te betoog”.

Francois van der Merwe (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Buiten vir Van der Merwe se pa, Hennie, en nog enkele ander persone, was daar geen ander ondersteuning vir Van der Merwe nie. Devon Hofmeyr, Van der Merwe se mededirekteur, het nie soos die vorige kere die hofverrigtinge bygewoon nie.

Van der Merwe het, ná hy omhelsings van sy pa en ondersteuners ontvang het, in die beskuldigdebank gaan sit. By tye het hy sy hande, asof biddend, voor hom op sy skoot gehou.

Louis Liebenberg, die berugte diamantsmous, was ook teenwoordig in die hof.

Van der Merwe is aanvanklik aangekla van aanranding en word deur ʼn bykomende aanklag in die gesig gestaar wat verband hou daarmee dat hy ʼn polisiebeampte glo verhoed het om sy pligte uit te voer. Die bykomende aanklagte is later laat vaar en vervang met ʼn klag van openbare geweld en die versuim om te voldoen aan die bepalings van die regulering van byeenkomste.

Volgens Skosana was Van der Merwe die hooforganiseerder van die betoging en Andries Olivier die adjunk-organiseerder.

Hy het verder getuig daar is minstens ses verklarings, van polisiebeamptes, wat deel vorm van die ondersoek en ʼn prentjie skets van dit wat tot Van der Merwe se inhegtenisneming aanleiding gegee het.

Die optog is deur die Bittereinders-beweging gehou om hul steun vir die toestaan van borgtog aan Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27) te kenne te gee. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Veneruru Kavari (30), ʼn werknemer, aangerand en ʼn hond op hom losgelaat het.

Tydens dié betoging is die Transvaalse Vierkleur van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek deur die strate gedra.

Van der Merwe en die betogers is nie toegelaat om in die straat voor die hof verby te loop nie.

Volgens Skosana het hulle vooraf vanaf die munisipaliteit toestemming gekry vir hul beoogde roete, maar dat dit nie toegang tot die hof ingesluit het nie.

Van der Merwe het in ʼn stadium verby die versperring gebeur en is platgetrek, in hegtenis geneem en later daardie dag aangekla.

Volgens Skosana het die polisie besluit om die betogers toegang te weier. “Die polisie het hulle meegedeel dat dit nie meer veilig is om verby die hof te loop nie. En wanneer ʼn polisiebeampte vir ʼn lid van die publiek ʼn opdrag gee, moet dit uitgevoer word,” het Skosana getuig.

Hy het verder getuig die polisie het voor die betoging inligting ontvang oor die betogers se kwaadwillige bedoelings.

Luidens ʼn polisieverklaring, wat Skosana in die hof voorgelees het, was die Bittereinders se missie “om die dorp met geweld te beset soos wat die EFF die week vantevore gedoen het.”

Adv. Wayne Gibbs, Van der Merwe se regsverteenwoordiger, het dit aan Skosana gestel hy het “om politieke redes” besluit om borgtog teen te staan.

“Hier is politieke inmenging in dié saak,” het Gibbs die hof meegedeel.

Skosana het die stelling ontken en gesê die staat en polisie het in hul geheel saam besluit om borgtog te weier. “Aanvanklik was die besluit om nié borgtog te weier nie, maar soos wat die ondersoek gevorder en nuwe inligting na vore gekom het, is die besluit hersien.”

Die saak, wat laat begin het weens beurtkrag by die hof, is laatmiddag uitgestel en Van der Merwe bly in aanhouding tot en met sy volgende verskyning later die maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nicky ·

Nee die judge is beslis bang vir die EFF, hy is bang hy word geteiken, van wanneer af luister die reg na betogers net na 1994

Casper ·

Die ondersoekbeampte beaam net dit wat ons lankal weet,as jou vel wit is,is borg jou nie beskore nie.maar die vorige week het EFF lede borg gekry.Hoe kan die ondersoekbeampte onder eed getuig dat die man dit weer sal doen.

AREND1 ·

En wat doen die eff dan by Groblerdal.Is hulle maar net vreetsaam daar met n klom plakate wat hulle rond swaai.

Leon ·

Aai. Kan nie eens op Devon se teenwoordigheid staatmaak nie. Die het ander “verpligtinge” wat hy moet nakom.

electricmango ·

Dat hulle so bang kan wees vir een wit oukie. Die donker wolke pak saam, dinge sal nie so kan voortgaan nie. Daar is oral in die wereld oorlog, hoekom nie hier ook nie, ons moord syfer is kop aan kop met wat in die gaza strook gebeur.

Cecilia ·

Ai tog Francois volgende keer moet jy die EFF kry om saam jou te betoog en somer vuurwapens uitruk en in lug skiet want dan sal jy nie gearesteer word nie.. want net EFF kan dit reg kry seunn . Alle sterkte hoop die lieve Vader van Bo hou sy hand oor jou en dat alles goed sal afloop ten gunste van jou. Sterte seun ons staan agter jou met gebed..

Nommer 7 ·

Ai, dis jammer Vanner Merwe is in aanhouding. Teen die tyd kon hy al die afrikaner volk gered het. Probeer maar weer wanneer jy uitkom.q

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.