Blitskrieket is ʼn ATM wat geld moet uitspoeg

Die Pretoria Capitals en die MI Cape Town het vir n aksiebelaaide wedstryd op SuperSportpark gesorg.

(Foto: SuperSportpark)

Die besluit van Krieket Suid-Afrika om ʼn amperse C-toetsspan met sewe nuwelinge na Nieu-Seeland te stuur vir ʼn toetsreeks van twee toetse aan die einde van Januarie en Februarie, sal baie oudspelers in hul graanvlokkies laat stik.

Waar is die trots en respek teenoor jou teenstanders? Wat het van die passie geword om vir jou land te speel, sal baie van hulle vra.

Die besluit maak opslae, ook in Australië en Engeland, maar daar is niks wat die internasionale krieketbase daaraan kan doen nie.

Vergeet maar van tradisie, vergeet maar van ʼn reeks van vyf toetse.

Al hoe meer spelers hou die mes teen die administrateurs se kele. Hulle wil eerder die res van hul loopbane in die SA20, Indiese Premierliga, Big Bash en ander blitsreekse in die Wes-Indiese Eilande, Bangladesj en Pakistan afsluit, daar waar genoeg geld gemaak kan word.

Australië se Glenn Maxwell vier fees nadat hy die paaltjie van Nieu-Seeland se Glenn Phillips geneem het. Die Aussies het met vyf lopies gewen

(Foto: Arun Sankar/AFP)

Daar is geen reël wat bepaal dat ʼn land te alle tye sy beste toetsspan of spelers moet kies nie. Dis beslis ʼn klap in die gasheer se gesig, maar daar kan en sal geen stappe teen die Proteas gedoen word nie.

Die Internasionale Krieketraad se hande is afgekap, hulle het nie beheer oor spankeuses nie. Wat hulle wel beheer, is die toetskampioenskappe wat deur die twee topspanne elke drie jaar betwis word.

Australië, wat verlede jaar se eindstryd op Lord’s teen Indië gewen het, het op 152 punte ná 19 toetse tussen 2021/’23 geëindig.

Indië was tweede (127 punte ná 18 toetse) en Suid-Afrika derde (100 punte ná 15 toetse).

Die Aussies is met 3,8 miljoen Amerikaanse dollar (sowat R70,9 miljoen) beloon, Indië het sowat R14,9 miljoen ontvang en Suid-Afrika bykans R6,35 miljoen.

* KSA se besluit om ʼn tweede of selfs derde span na Nieu-Seeland te stuur, het twee kante.

KSA is met die rug teen die muur en dis hoekom hy voorkeur aan die SA20-reeks bo toetskrieket gee.

Om dit sagkens te stel, was dit nie vir Graeme Smith en sy Indiese kontakgeleenthede nie, kon die spel byna doodgeloop het, want waar sou die geld vir KSA vandaan gekom het?

Ja, toetskrieket is vir die spreekwoordelike pot lensiesop verkoop, maar moenie verbaas wees as dit die deur vir ander lande gaan oopmaak om ook tweede en derde spanne te kies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.